Munisipale amptenaar se peperduur voertuig gevat

Die Mercedes waarop beslag gelê is (Foto: Verskaf)

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het Dinsdag beslag gelê op David Kgantshi Malepa, adjunkbestuurder van tegniese dienste by die Mogalakwena-munisipaliteit in Limpopo, se peperduur Mercedes-Benz wat glo met gesteelde geld gekoop is.

Die voertuig is in Malepa se vrou, Paulinah Mmapule, se naam geregistreer en is glo met geld gekoop wat deur onwettige aktiwiteite, soos afpersing en geldwassery, bekom is. Sy vrou is ʼn onderwyser in diens van die departement van basiese onderwys.

Die hooggeregshof in Polokwane het gelas dat op die voertuig beslag gelê kan word.

Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder van die NVG in Limpopo, sê die dokumente wat aan die hof voorgelê is, wys dat ’n aantal diensverskaffers van die Mogalakwena-munisipaliteit in 2017 gedwing is om geld aan Mercurius Motors in Polokwane te betaal vir die aankoop van die Mercedes-Benz GLE 350d Coupé.

Malepa het dié diensverskaffers glo aangesê om geld in rekeninge in te betaal waarvan hy die rekeningnommers verskaf het, en gedreig om nie betalings goed te keur vir dienste wat hulle aan die munisipaliteit gelewer het indien hulle dit nie doen nie.

“Die diensverskaffers het die totale bedrag van R1,4 miljoen aan Mercurius Motors betaal vir die aankoop van die Mercedes. Malepa het die voertuig op sy vrou se naam geregistreer.”

Volgens Malabi-Dzhangi is dié bedrieglike aktiwiteite blootgelê tydens ʼn gesamentlike ondersoek deur die NVG en die Valke.

“Die NVG verwelkom die beslaglegging van die voertuig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Pieter ·

Maatskappye soos Mercedes en ander wat duur motors vervaardig baat indirek baie by korrupsie, meeste wil ‘n duur voertuig ry. Mercedes ondersteun Lewis Hamilton en Black Lives Matter. Maak sin.

Is jy seker? ·

Ek ry ‘n Merc en betaal my ???? af! Harde werk en eerlik.

MakersMark ·

Arme lh wat so bitter swaar kry dat hy blm moet ondersteun elke keer as hy kan. Wonder of hy sy borg se rol in WW2 en die impak op die reich verstaan. So ek sal loop maar merc ry ek nie. Hul diens is vrot in elk geval kan maar by bmw gaan aanklop om te leer van kliente diens.

Juffrou ·

Wanneer vat hul al die karre van Zandile Gumede van Ethekwini? Hulle pas nie eens in dié karre in nie. Wat nog van dit bestuur?

MakersMark ·

Goed gesê die log pas nie in die blink motor nie……te veel cl of die colonel se hoendertjie.

Cd ·

Gewonder waar al die luukse Duitse motors vandaan kom.
Mag dit as afskrikmiddel dien vir al die skelms.
Dis ook net die oortjies van die seekoei!

Dup ·

Word sommiges skelm gebore of word dit aangeleer soos wat hulle opgroei?
Ek wonder of daar nog eerlikes oor is.

Karlahari ·

En wil jy vir my sê Mercurius kry nie snuf in die neus as die geld van verskillende maatskappye kom en die voertuig in n privaat individu se naam geregistreer word nie….
Of kos dit net n paar rand om anderkant toe te kyk?

Johann ·

Seker n goeie begin? Maar wat van Mercurios Motors? As ek reg verstaan het hulle betaling ontvang van “iemand” wat nie die gevolglike eienaar van die kar was nie?

Die handelaar is tog sekerlik pens en pooitjies deel van die “transaksie”?

piet-van-die-namib ·

Ek dink dis regtig hoogtyd dat daar diep gedelf moet word vir ongeruimdhede by al die staatsinstellings in die land.

LiveAndLetLive ·

ek vermoed ons gaan nog baue van die duur motors sien verdwyn :-)

Aai ·

Mercedes moet ook in die moeilikheid wees het hy waarborge gewys van waar hy die geld gekry het seker kon hy dit nie bekostig met sy salaris?

JohanR ·

MCH – ek en jy kan nooit seker op ons salaris die soort motor kan bekostig nie maar ‘n verdagte amptenaar loop in met R700000 van belastingbetalers se geld en Mercedes kan nie genoeg doen sodat die verdagte amptenaar daar uit ry met sy R700000 motor. Miskien mag geen motor aan ‘n amptenaar verkoop word nie wat ‘n kriminele rekord het?

JohanR ·

Hoe lekker kry ek nou…ja Scalla stem saam. Lekker om wakker te word en se sien daar gaat ‘n ANC se R700000 motor. Let op nooit ‘n Susiki Swift of ‘n Toyota Etios nie….altyd die beste vir die ANC. Maar stadig aan loop die klok af vir die ANC. 1000 jaar….dink nie hulle sal die tot 31 jaar maak nie….LEKKER! Het ou Cyril nie ook gese nie ANC eerste(wil nou verhoed dat hulle skeur) en Suid Afrika tweede?

koos10 ·

Baie kommentators blameer die agendskap wat die kar verkoop het. Hoekom? Is dit hulle werk om alle geld na te spoor? Moet Checkers nou ook vrae vra as jy R20 000.00 se kruideniersware gaan koop? Nee die probleem lê by korupsie en en dis die SAPS se werk om te ondersoek.
Onthou net een ding asseblief. Dit vat teminste twee partye om korrup te wees. Een betaal en een ontvang en albei is ewe skuldig. Die derde party is nie deel van hierdie transaksie nie.

Casper ·

Ek is hoopvol dar dit met ander bedrieërs ook gaan gebeur en dat hulle op die ou einde met niks gaan sit nie As dit ‘n eerlike transaksie was hoekom die kar op sy vrou se naam register.Ek sien daar is al op heelwat korruptes se bates beslag geld en rekeninge gevries.

Blikkies ·

Jilaaik julle, dit is vreemd aanvaarbaar vir al die Munisipale werkers, nie net hulle bestuur nie. Maak nie saak hoe klein ‘n munisipaliteit is nie, hulle moet almal hierdie geweldige duur motors koop en ry met ‘n rits veiligheids personeel om hulle op te pas. Of dit nou van Makwassie is tot in Springbok. Die arme inwoners moet opdok en sonder dienste sit en sukkel, solank hulle munisipaliteits werkers blink karre kan ry. Almal dieselfde. Is hulle nie veronderstel om vir ons te werk nie, en nie andersom ons vir hulle nie?

Genis ·

Cyril your people man… Hulle kan maar net nie op eerlikke manier n dag se arbeid verrig nie… African National Corruption…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.