Munisipale amptenaar, twee ander vas wat glo HOP-huise verkoop

(Argieffoto: pixabay)

ʼn Munisipale amptenaar en twee medebeskuldigdes het Vrydag in die Emalahleni-landdroshof (Witbank) verskyn nadat die Valke hulle Woensdag aangekeer het op aanklag van bedrog, korrupsie, diefstal, vervalsing en geldwassery.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, sê Vusumuzi Phakane (52), ʼn munisipale gemeenskapskoördineerder met toegang tot inligting oor HOP-huise in die omgewing, het glo met medebeskuldigde Justice Sambo (46) saamgespan om die huisaankope te verwerk. Die derde beskuldigde, Caroline Koloane (29), is genader om die huise te adverteer.

Sekgotodi sê die niksvermoedende slagoffers sou reageer op advertensies op sosialemediaplatforms, waarna die sindikaat hulle dan na die munisipale kantoor sou stuur om die koopooreenkomste te gaan onderteken.

Hulle sou glo ook aangeraai word om na ʼn prokureur te gaan om die ooreenkoms op te stel, wat die slagoffers verder gerusgestel het dat die onderhandeling bo verdenking is. Hulle is aangesê om ʼn betaling in Sambo se Nedbank-rekening te maak, waarna die drie beskuldigdes die geld glo tussen hulle verdeel het.

Wanneer ʼn slagoffer by sy nuwe huis intrek, het ander slagoffers by dieselfde plek opgedaag – met hul koopkontrakte – as bewys dat hulle dieselfde huis gekoop het. Die slagoffers het nagenoeg R300 000 verloor.

Sekgotodi sê die saak is aan die Valke vir ondersoek oorhandig en tydens die ondersoek is vasgestel dat die regmatige eienaars van die huise steeds lewe.

Die verdagtes is nagespoor en vroeër die week in hegtenis geneem.

Phakane en Koloane is op borgtog van R10 000 elk vrygelaat. Sambo bly in aanhouding weens vorige oortredings teen hom. Sy formele borgtogaansoek word op 20 Augustus aangehoor.

Die Valke se provinsiale hoof, genl.maj. Zodwa Mokoena, het mense gewaarsku teen bedrieërs wat staatshuise onregmatig verkoop en benadruk dat dié huise nié verkoop mag word nie.

Mense word aangeraai om soortgelyke voorvalle by die owerhede aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JM ·

Bedrog, diefstal, korrupsie. Hierdie mense weet nie wat eerlikheid beteken nie. Gaan dit ooit ophou?!

Frank John ·

Mense het net nie meer intergiteit nie. Die skelms gaan net ongevrees voort want die kaans om gevang te word is so skaars dat hulle nie bekomerd is nie. Ek dink net 1% of minder van misdade word gewys of kom aan die lig. Die wat die werk het om die skelms te vang word eenvoudig net omgekoop om anderpad te kyk.
As die leiers skelm is sal die gereg/polisie/wetstoepassers ook wees(hulle volg hul leiers) dan is die gevolg ook skelm wees en hul verskoning is net, “maar as hulle dit kan doen kan ek ook”.

Winnie ·

Hoop hulle word swaar gestraf om dit aan mense te doen wat sukkel om dakke oor hulle koppe te kry. Sies

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.