Munisipale bestuurder moet luukse speelgoed teruggee

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Albert Vincent/Unsplash)

’n Voormalige munisipale bestuurder, wat verbind word met beweerde tenderkorrupsie by die Mogalakwena-munisipaliteit in Limpopo, se rooi Mercedes van R1,4 miljoen behoort nou aan die staat.

Dít nadat ’n bevel vroeër vandeesmaand in die Polokwane-hooggeregshof toegestaan is wat bepaal dat die Mercedes-Benz GLE 350d aan die staat verbeurd verklaar word omdat dit skynbaar deur korrupte aktiwiteit bekom is.

Kapt. Matimba Maluleke, woordvoerder van die Valke, sê die Valke en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se batebeslagleggingseenheid het in Oktober 2020 op Kgantsi David Malepa se Mercedes beslag gelê.

Die Valke het in daardie stadium klagtes ontvang dat sakelui na bewering geld in ’n motorhandelaar se rekening inbetaal het vir Malepa om ’n motor van sy keuse te koop. Dié geld is na bewering om Malepa te vergoed vir tenders wat aan hulle toegeken is.

Die rooi Mercedes van R1,4 miljoen wat nou aan die staat behoort. (Foto: Verskaf)

Die Mercedes-Benz GLE 350d is toe in Malepa se vrou se naam geregistreer.

Daar word beweer dat die munisipaliteit tussen 2017 en 2019 tenders ter waarde van meer as R50 miljoen aan verskillende maatskappye toegeken het sonder om die behoorlike prosedures te volg.

Malepa en sy vrou was onder die beskuldigdes wat verlede jaar in hegtenis geneem is in verband met dié beweerde tenderkorrupsie by die Mogalakwena-munisipaliteit.

Die plaaslike owerheid bedien onder meer die dorp Mokopane.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Andrew ·

Al gewonder het hoe baie van die grend motors wat rondry hoe hulle bekom is.

Dries ·

Ek sien baie duur motors wat deur kaders bestuur word. Dink altyd daar is weer korrupsie.

Mrs H ·

Sjoe, hy laat dit lyk soos almal se droom loopbaan om by n munisipaliteit te werk!

Hasie ·

Uiteindelik word die duur voertuig terug gevat. Maar waarheen Nou met daardie voertuig? Hele paar krag en water betalings se voertuie wat die wereld rondry. …

pompies ·

Die vraag is wat gaan nou met hulle gebeur die voertuig is terug gevat , hulle het in elk geval nie n sent vor die kar betaal nie. Hulle hoort nou n paar jaar agter tralies deur te bring dan het geregtigheid geseevier maar hulle het net iets verloor waarvooe hulle in elk geval nie betaal het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.