Munisipale bestuurder ontvoer

Maggie Skhosana, munisipale bestuurder van die Nkangala-distriksmunisipaliteit. (Foto: Facebook)

Die munisipale bestuurder van die Nkangala-distriksmunisipaliteit in Mpumalanga is Donderdag buite die hekke van dié munisipaliteit in Middelburg ontvoer.

Maggie Skhosana, wat aan ’n rolstoel gekluister is, en haar motorbestuurder word sedert gister vermis.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder van Mpumalanga, het Vrydagoggend aan Maroela Media bevestig dat Skhosana se rolstoel en voertuig sedert die ontvoering opgespoor kon word. Daar word egter nog in dié stadium na Skhosana en haar bestuurder gesoek.

Die presiese omstandighede rakende die ontvoering is nie in dié stadium duidelik nie en twee aanklagte van ontvoering word ondersoek.

Maroela Media het die Nkangala-distriksmunisipaliteit vanoggend om kommentaar genader. Die waarnemende burgemeester, Leah Mabuza, was egter ten tyde van die navraag in ’n vergadering en daar word nog op terugvoer gewag.

Die Nkangala-distriksmunisipaliteit is een van drie distriksmunisipaliteite van Mpumalanga. Die setel van die munisipaliteit is in Middelburg.

Werkers van die Steve Tshwete- plaaslike munisipaliteit (Middelburg) het die afgelope jaar vir sporadiese stakings en groot onrus in dié dorp gesorg. Dít terwyl dienslewering menige keer tot stilstand gedwing is. Die werkers eis onder meer dat die burgemeester, Mhlonishwa Masilela, in die pad gesteek word.

Die Nkangala-distriksmunisipaliteit het egter ook moeilikheid van sy eie. Die voormalige uitvoerende burgemeester, Thembi Sarah Masilela, en agt ander, onder wie munisipale amptenare, is verlede jaar strafregtelik aangekla weens beweerde bedrog by dié munisipaliteit.

Die motief vir die ontvoering van Skhosana en haar motorbestuurder is nog onbekend.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Casper ·

Hou die ontvoerings dalk verband met die eise wat die stakers gestel het,dat die burgemeester en raad moet bedank?Ek is bevrees die kanse dat hulle lewend gevind gaan word is skraal

Perdeby ·

Ek glo dit hou verband met die stakers wat nie die raad daar soek nie. Die kanse vir oorlewing dink ek is bitter skraal. Hulle maak gewoontlik dood as hulle nie hulle sin kan kry nie.

Kokerboom ·

En die absolute gemors in plaaslike owerhede duur net voort!!!

Dup ·

Ons ou landjie verbaas my elke dag. n Burgermeester in n rystoel word ontvoer.Our peoples ontsien niks en niemand nie.Die rystoel sal seker êrens verlate op blokke gevind word.

Perdeby ·

Was Cele nog nie daar nie, o ja vergeet hulle gaan wil mos nou begin bespaar.

Anel ·

Dit kon net sowel in ‘n vreemde land gewees het. Ek het geen idee van waar die nuwe munisipaliteite is met die vreemde name nie. Wonder hoeveel van die gewone burgers van die land weet? Hoop maar sy word iewers gekry. Kan nie vêr met haar gaan nie want sy moet gedra word. Hoe siek kan die lot wees????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.