Munisipale bestuurder, oud-LP in hof vir diefstal, geldwassery

Die beskuldigdes in die Polokwane-landdroshof (Foto: Verskaf)

Die munisipale bestuurder van die Molemole-plaaslike munisipaliteit, ʼn voormalige parlementslid en twee ander persone het Maandag in die Polokwane-landdroshof verskyn in verband met die beweerde diefstal van nagenoeg R4,8 miljoen.

Die munisipale bestuurder, Maphala Lazarus Mosena (53), die voormalige parlementslid, Moloko Stanfort Arnold Maila (57), en nog twee mense, Lepota Eric Makgato (70) en Manase Stephen Makgato (51), staan tereg op aanklagte van diefstal en geldwassery.

Mosena is Vrydag in hegtenis geneem nadat die Valke reeds in 2018 ʼn wenk gekry het oor die diefstal van geld van die Makgatho-gemeenskapseiendomsvereniging, glo deur sommige van sy komiteelede.

Die ondersoek wat gevolg het, het gewys die verdagte het tussen 2015 en 2018 ʼn gemeenskapsvereniging gementor en glo met ander komiteelede saamgespan om ʼn boerderytender aan ʼn maatskappy wat bande met sy vrou het, toe te ken. Die nodige prosesse om die kontrak toe te ken is glo nie gevolg nie.

Dit is verder onthul dat die maatskappy hoegenaamd geen diens aan die gemeenskap gelewer het nie, ondanks die feit dat hy meer as R4,8 miljoen van die vereniging ontvang het.

Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Limpopo, sê adv. Dalton Tshinyani het in die hof beweer dat dié vier beskuldigdes saamgewerk het om die R4,8 miljoen in hul eie sakke te steek.

Maila, die voormalige parlementslid, en Makgato, ʼn voormalige voorsitter van die vereniging, is ook die afgelope naweek vasgetrek. Makgato, ʼn bankklerk, het hom aan die polisie in Polokwane oorgegee.

Malabi-Dzhangi sê die saak is tot 8 Oktober uitgestel wanneer die beskuldigdes formeel om borgtog kan aansoek doen. Hulle bly tot dan in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Aai ·

Covid help julle weer baie kruip lekker weg agter daai maskers.

Johanncb ·

Ai tog mense, gaan ons land ooit op ‘n “korrupsievrye-stadium” kom? Dinge lyk darem wraggies nóóit so sleg soos nou nie!

Jakes ·

Daar kannie botter in hul monde smelt nie. Hulle pleit armoede en swaarkry. Ek sal liewer nie my voorstel lewer wat met hulle gedoen moet word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.