Munisipale bestuurder strafregtelik aangekla oor riool

Argieffoto bloot ter illustrasie.

Die waarnemende bestuurder van die Bela-Bela- plaaslike munisipaliteit in Limpopo is vandeesweek strafregtelik aangekla vir die algehele verval van dié dorp se rioolverwerkingsaanleg.

Die Bela-Bela Belastingbetalersforum (BBTF) hou Jamela Selapyane aanspreeklik vir die onverwerkte riool wat die afgelope paar jaar vrylik uit die aanleg vloei en grootskaalse besoedeling in die omgewing van Bela-Bela veroorsaak.

Johan Mills, voorsitter van die forum, meen Selapyane het na regte die “besoedelaar” geword deur haar “versuim om ʼn werkende rioolverwerkingsaanleg te bestuur, te bedryf en in stand te hou”.

“Sy het toegelaat dat die munisipale rioolsuiweringsaanleg steeds heeltemal buite werking bly. Dit lei daartoe dat rou rioolwater onbehandeld deur die aanleg vloei,” sê Mills in ʼn beëdigde verklaring wat hy Maandag saam met die strafregtelike klag by die polisie ingedien het.

Volgens Mills loop onverwerkte riool tans vrylik in die Het Bad-vleiland asook die spruit langs die ou Warmbad-skouterrein af. Die riool vloei van daar af al langs die R101, waar “die stank en vieslike gemors” ʼn hoofingangroete na Bela-Bela besoedel.

“Die onuithoudbare stank kan sommige dae tot by die nabygeleë Bela Mall, die dorp se spogwinkelsentrum, geruik word terwyl die gemeenskap se pleidooie en klagtes al die afgelope paar jaar op dowe ore val.”

Mills sê die BBTF het onlangs watermonsters van die uitskot van die aanleg by die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) vir ontleding ingedien. Die raad het in ʼn verslag – wat ook by die polisie ingedien is – bevestig dat die riool groot besoedeling in die dorp veroorsaak.

Tekens van Covid-19 is ook in die riool bespeur hoewel die WNNR dit duidelik gestel het dat dit nie op dié wyse aan mense oorgedra kan word nie.

Mills wys wel daarop dat diere en beeste van die plaaslike informele nedersetting op die groen spruite waar die rou riool uitloop, wei en die besoedelde water drink. “Van daar af gaan hulle saans huis toe, waar van hulle waarskynlik gemelk word.”

Die BBTF wys daarop dat die sowat 45 000 inwoners van Bela-Bela die reg op ʼn onbesoedelde omgewing het en meen Selapyane versuim om te voldoen aan die grondwetlike verpligting wat aan haar kantoor toevertrou is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
marius

En wat gaan gebeur ?

Nie Verbaas

Mooi so. Hoop ander areas volg. Kom ons kyk maar wat gebeur en of kaders weer beskerm gaan word.

JM

Die ANC is uitstekend daarmee om te IGNOREER! Hulle WIL nie en KAN nie hul werk doen nie.

Diline

Ja nee hulle sit in poste met groot salarisse maar onbevoeg verby! Hierdie saak moes LANKAL aandag geniet het, maar wie gee nou om, sal eerder voortploeg tussen die riool.

Kokerboom

Wat doen die Minister van Plaaslike Owerhede? Kla Minister ook aan asook LUR!!!