Munisipale bestuurder week later vas

Simon Mqwathi

Die bestuurder van die Moqhaka-munisipaliteit in die Vrystaat is in hegtenis geneem ʼn week nadat hy veronderstel was om homself aan die polisie oor te gee vir beweerde bedrog en korrupsie.

Simon Mqwathi (57) sou homself aanvanklik op 22 Mei aan die polisie oorgegee het, maar was toe op die vlug, het kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, gesê. Mqwathi is Donderdag in Kroonstad in hegtenis geneem en sal na verwagting Maandag in die plaaslike landdroshof verskyn waar hy om borgtog sal aansoek doen.

Mqwathi se medebeskuldigdes, Busa Molatseli (53), ʼn bestuurder by die Dihlabeng-munisipaliteit, en Tefo Montsitsi (51), direkteur van die Zero Tolerance-veiligheidsmaatskappy, het hulself wel op 22 Mei aan die polisie oorgegee soos ooreengekom.

Hulle het reeds in die Kroonstad-landdroshof verskyn en is op borgtog van R10 000 elk vrygelaat en die saak is tot 12 Augustus uitgestel vir verdere ondersoek.

Daar word beweer dat beamptes van die Dihlabeng- en Moqhaka-munisipaliteit tenderprosesse vir eie gewin beïnvloed het en dat dit tot onreëlmatige aanstellings en ongemagtigde, verkwistende en vrugtelose uitgawes van meer as R35 miljoen gelei het. Zero Tolerance het glo onbehoorlik voordeel getrek uit die beweerde onreëlmatighede.

Volgens Ramovha word nog inhegtenisnemings verwag.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Henry ·

Mooi so.
Vang al die kroeks.
Daar’s nog baie wat buite rond loop.

Strand looper ·

Mmmmm….Eks regtig verbaas….iets goeds is aan die gebeur…hoop ons sien meer sulke gevalle

Swannie ·

Hy was al klaar voortvlugtig en ek is seker daarvan hy sal nog steeds borgtog kry. Siek regstelsel wat ons het,

Muffin ·

Pragtig goed gedoen om vir Simon aan te keer. Maandag is Simon weer in die hof en vir R1000 op borg en gaan voort met bedrog.

Manie ·

Net om die skelm trog vreters van die anc in die tronk te sit sal hulle heelwat meer tronke moet bou

Johnna ·

Dit is goed dat die Valke besig is om hierdie bedrog in die munisipalteite oop te vlek.
Maar hoekom is hierdie persone na hulle hofverskyning nie geskors nie hulle is nog steeds in hulle posted,kom maar self en kyk by Diahlabeng.Dit naak nie sin nie hulle Moe’s dadelik geskirs gewees het.Ek vra maar net???

Gert van Wierdapark ·

Die man was seker eers op n “sake besoek” in Mauritius gewees!

Michelle ·

Hoe is hy nou in die eerste plek goed gekeur vir die pos , of skuif jy maar ‘n paar rand onder die mat in om die posisie te kry. Hy sal nog betaal word terwyl hy wag om aangekla te word en hy sal nog ander pos aangebied word.

A Mac ·

“Zero Tolerance het onbehoorlike voordeel getrek” laat my grimlag. Zero tolerance vir eerlike en wettige werk, maar dan is dit maar net een besigheid wat uitgevang is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.