Munisipale koalisies glo goed op dreef

Leiers van die Vryheidsfront Plus Pieter Groenewald, DA (Mmusi Maimane), Cope (Mosiuoa Lekota) en ACDP (Kenneth Meshoe) Foto: Getrude Makhafola/ANA

Opposisiepartye, wat in koalisie staan, het Woensdag volgehou dat dit goed gaan met die vennootskappe, ondanks probleme by Nelson Mandelabaai in die Oos-Kaap.

Leiers van die DA, ACDP, Vryheidsfront Plus, en Cope het verslaggewers toegespreek oor die stand van koalisievennootskappe in Pretoria, Johannesburg en Nelson Mandelabaai.

DA-leier Mmusi Maimane het daarop gewys dat die afwesigheid van die Inkatha Vryheidsparty (IVP) en die United Democratic Movement (UDM) slegs weens verpligtinge is, en dat hulle steeds die ander partye ondersteun.

Mosioua Lekota, president van Cope, het egter Mongameli Bobani van die UDM in Nelson Mandelabaai veroordeel, en gesê Bobani se gedrag in daardie raad is teenstrydig met die ooreenkoms wat die koalisievennote aangegaan het ná die plaaslikeregeringsverkiesing in 2016.

“Daar was tot dusver geen probleme met die UDM in enige ander munisipaliteit waar ons saam aan bewind is nie. ʼn Besluit is deur die uitvoerende lede van Nelson Mandelabaai geneem dat alle lede van die burgemeesterskomitee en lede van die munisipaliteit nie blouligvoertuie sal gebruik nie, omdat dit druk plaas op hulpbronne. Bobani het egter besluit dat hy wel blou ligte sal gebruik – maak nie saak of die burgemeester of enige ander burgemeesterskomiteelid blou ligte gebruik of nie,” het hy gesê.

“So wat sê die ander partye? Net, ‘ja baas’? Dit is verkeerd, want dit skep die indruk dat ʼn koalisieleierskap kwistig is met staatshulpbronne. Wanneer daar boonop oor ʼn kwessie gestem moet word in die raad, skaar hy hom by ander partye. Waarom moet ons geblameer word? Die party wat hom aangestel het, dra die verantwoordelikheid om vir hom te sê dat hy die kollektiewe besluit van die koalisievennote moet respekteer. Hierdie probleem is slegs beperk tot Nelson Mandelabaai. As iemand sê ons is verkeerd, laat weet ons dan asseblief.”

Voortgesette spanning tussen die afgedankte adjunkburgemeester Bobani en DA-burgemeester Atholl Trollip het die koalisie in Nelson Mandelabaai geskud en Trollip het verlede week ʼn mosie van wantroue oorleef, terwyl pogings om hom te ontsetel, voortduur.

Lekota het berigte, dat die DA sy mag op ander koalisievennote wil afdwing, verwerp, veral by Nelson Mandelabaai. “Ons het vrywillig aan die koalisie deelgeneem. As daar iets is waaroor ons nie saamstem nie, dan kan ons onttrek.”

Die leiers het gesê hulle is tevrede met die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) se besluit om nie deel te wees van die koalisie nie, maar dat hulle met die opposisie teen die ANC sal stem oor kwessies, aangesien hulle ook in die rade verteenwoordig word.

“Die EFF het hulle posisie baie duidelik gemaak, en ons is almal bewus daarvan. Ons het almal saamgestem dat ons nie die metro’s as kitsbanke kan gebruik nie en dat korrupsie nie kan voortduur nie. Ons het ʼn program waartoe ons ingestem het, en daarom beset die EFF nie uitvoerende posisies nie – hulle het dit voortydig gesê,” het Maimane bygevoeg.

Lekota het gesê alhoewel die partye nie besorg is dat die EFF nie deel is van die koalisie nie, glo hy die rooi barette sal beter vaar as hulle koalisievennote was. “Hulle was baie versigtig en wou nie hulself tot ʼn koalisie verbind nie, en dat hulle slegs sou stem oor kwessies waarmee hulle gemaklik is. Dit is ʼn goeie ding. Ons glo dat die EFF uiteindelik sal sien dat ons Suid-Afrikaners beter kan dien as hulle deel vorm van die koalisie en deelneem in die implementering van beleide.”

ACDP-leier Kenneth Meshoe het gesê die toekoms van Suid-Afrika lê in ʼn koalisieregering. “Ons glo dat veelpartyregering die pad vorentoe is. Daar is meer wigte en teenwigte wanneer mense van verskillende organisasies mekaar aanspreeklik hou en seker maak dat ons, as partye, doen wat in die beste belang van Suid-Afrikaners is. Die probleme wat ons vandag het, kan geminimaliseer word as daar nog ʼn party was wat saam met die ANC aan bewind was; maar omdat daar net een party aan die stuur is, kan hulle hul eie ding doen.”

Hy het gesê alhoewel daar probleme in die koalisie is, vaar die partye goed en hulle sal hard werk om seker te maak dat die ANC nie in 2019 tydens die algemene verkiesing die meerderheidstem bekom nie, en om die weg te baan vir ʼn veelpartyregering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Ada ·

Die DA e n EFF gaan nog saamsmelt.Mark my words.Wys jou waar die DA staan.Jy word aan jou vriende geken.Dankie tog ek stem nie for die DA nie.Hulle gaan ook nog val soos die ANC

Johann Marx ·

Koalisie? Dus…..ek stem vir ‘n party van my keuse, wat nou NIE die meeste stemme in die verkiesing kry nie, maar die oorhand kry omdat hulle gaan saamspan met ‘n politieke party NIE van my keuse nie (anders sou ek vir daai party gestem het?). Doen die party vir wie ek gestem het hierdie koalisie tot MY voordeel, of tot hulle eie voordeel….(sodat hulle tog net in daardie mags-posisie kan kom?)? Dis niks anders as politieke hoerery nie….

Gerhard ·

In ‘n koalisie kry die kleiner party toegewings van die groter partye in ruil vir hul ondersteuning. So jy kry iets eerder as niks.

Andre ·

Die EFF het geen BEGINSELS nie …. net belange!

Hulle sal vorentoe by die ANC Zuma faksie aansluit en die land tot in die afgrond dryf

….. soos Mugabe en Zanu PF.

jaco ·

en oor een ding wat hulle ALMAL laat belang stel het in koalisies word geswyg: die LEKKER salaris. lekker motor, opgradering van huis. amptelike huise vir party burgemeesters, grand selfoon, selfoonrekening op munisipaliteit se koste, GROOT onthaaltoelae.
Uiteindelik is die “packet” wat elkeen van hulle kry, INSLUITEND die VF-Plus en die sogenaamde “wedergebore” Christene van die ACDP, maar net ‘n lekker spaarskema vir ‘n klomp mini-Nkandla’s.

Gerhard ·

Die koalisie bly beter as die ANC. Dit daar gelaat daar sal verseker fout gevind kan word in daardie koaslisie, net niks so erg soos die ANC nie.

Nico K ·

Johann Marx, dit lyk my jy verkies ‘n ANC regering. Maar anders as jy hou ek nie van ‘n ANC regering nie en verkies ek ‘n koalisie waar die DA en ander partye darem invloed het en darem iets kan doen. Natuurlik is ‘n koalisie met die EFF nie die ideaal nie. Die ideaal is as die DA alleen regeer, maar dit sal nie gebeur nie. Die DA is beslis in die koalisie tot ons voordeel.

Armand ·

Totdat die EFF die DA dreig: Ons burgemeesterskandidaat , of ons ontrek uit Tswane ! (soos in Sasolbburg gebeur het. En toe?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.