Munisipale regering ʼn ‘totale gemors’, hoor parlement

Riool stort uit ‘n mangat. (Argieffoto)

Die skokkende toestand van die land se munisipaliteite het Dinsdagaand duidelik geword op ʼn vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee oor samewerkende regering.

Die geleentheid was die parlementêre oorsigvergadering oor die toestand en toekomsbeplanning van die Suid-Afrikaanse plaaslike regeringsvereniging (Salga).

Hoewel Salga luidens die voorlegging 96% van sy doelwitte bereik het, blyk daar steeds grootskaalse wanbestuur en onbevoegdheid in munisipaliteite te wees. Die opposisie se argumente is na afloop van die voorlegging saamgevat deur Haniff Hoosen van die DA, wat doodeenvoudig gesê het munisipale regering in Suid-Afrika is in ʼn totale gemors en sal van die fondasies af heropgebou moet word.

Die enigste provinsie waar ʼn beduidende getal van die stadsrade as finansieel gesond geklassifiseer word, is die Wes-Kaap met 72% van die stadsrade finansieel gesond.

Die Wes-Kaap word gevolg deur Mpumalanga (29%), die Oos-Kaap (19%), KwaZulu-Natal (15%), Gauteng (12%), die Noord-Kaap (11%), Limpopo (8%), Noordwes (5%) en die Vrystaat (0%).

Terwyl Salga veel gewag gemaak het van die hoeveelheid opleiding wat aan duisende stadsraadslede en munisipale amptenare verskaf is, neem die aantal dissiplinêre verhore toe, en toon Salga se eie syfers dat net 5% van burgemeesters en 23% van munisipale finansiële hoofamptenare hul pligte bevredigend uitvoer.

‘n Slaggat in die pad.(Argieffoto)

Salga het as rede vir sy mislukkings aangevoer dat die nasionale regering baie verwag van munisipaliteite en dan soms vir hulle min geld gee om dit te doen.

ʼn Voorbeeld wat Dinsdagaand deur Salga-amptenare opgehaal is, is die omvattende munisipale verantwoordelikhede voortspruitend uit die koronavirus-voorskrifte, en die hoeveelheid geld wat die nasionale departement van samewerkende regering daarvoor beskikbaar stel.

Voorbeelde is die klein Hantam-munisipaliteit in Calvinia, met nege stadsraadslede en 140 munisipale werkers. Om net die basiese aspekte van hul werk en daaglikse mediese beskermende handskoene en gesigsmaskers te bekostig, vereis ʼn begroting van R175 820. Maar die nasionale regering, wat hierdie vereistes stel, begroot net R21 000 daarvoor.

ʼn Groter munisipaliteit is Midvaal in Meyerton, wat R15 miljoen benodig maar net R700 000 ontvang.

Hierdie syfers is ʼn regstreekse aanklag teen die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, wat aan die hoof van die regering se bevegting van die koronavirus staan, maar soos altyd nie beskikbaar was om deur die parlement verantwoordbaar gehou te word nie.

ANC-lede van die portefeuljekomitee het merendeels met individuele klagtes oor die munisipaliteite waar hulle woon vorendag gekom, soos die R46 miljoen vir toilette in Transkei wat nou net weg is, of waterprobleme in Middelburg op die Hoëveld, of omkopery in Pinetown of die rioolprobleme in Port St. Johns.

Hlengiwe Mkhaliphi (EFF) het gevra hoe Salga op 96% sukses kan aanspraak maak as die meeste munisipaliteite op elke meetbare manier agteruitgaan, en uitgewys hoe die nasionale regering van allerlei tekortkominge beskuldig word, maar die minister is oudergewoonte afwesig.

Gizella Opperman (DA) het gevra dat die staat ʼn forensiese ouditafdeling kry en Carin Visser (DA) het uitgewys dat dit glad nie werk om munisipaliteite onder administrasie te plaas nie, want die administrateurs is ewe onbeholpe as die ANC-stadsraadslede.

Hierin is Visser ondersteun deur Michal Groenewald (VF Plus) met voorbeelde uit die Matlosana-stadsraad in Klerksdorp. Groenewald het uitgewys dat vervolging van skuldiges basies nooit plaasvind nie, en gevra dat stadsrade papierloos moet word en moet leer om BTW behoorlik te administreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Burgermeester ·

Wat? So Salga beweer dat 96% van die doelwitte bereik is. Genugtig, dit klink of Salga vir hulself baie lae standaarde stel, of dit is die 30% slaagsyfer war daar deursypel?

Frederik C ·

Dis darem nie net die munisipaliteite wat van die grond af herbou sal moet word nie. Die hele land sal van die grond af herbou moet word. Daar’s tans niks meer oor wat reg funksioneer nie. Ook nie geld om dit reg te maak nie.

koos10 ·

Kennisgewing

NDZ is nou eers besig om die land se ekonomie finaal is sy dinges in te stuur, sy sal later weer oorvat by SALGA om dit finaal ook op te foeter. Wees asb geduldig.

Die President

Stefnie ·

Haai nooit! ‘n Gemors?
Duh, ‘n blinde ou kan dit met ‘n stok aanvoel.

Jacobus ·

As julle nie skulde invorder en aan bv Eskom oorbetasal gaan dinge net vererger as dit moontlik is!

Nie Verbaas ·

Vir jare al is dit n gemors. Nou met die virus vind hulle dit ewe skielik uit. Net 5% van die burgemeesters en 23% van hoof finansiele amptenare bevoeg om hulle werk oordentlik te doen. Gaan die ANC die ander afbetaal en ander onbevoegde kaders aanstel?

Boortor ·

My magtag! Wat vertel julle my nou!? Ek het gedink ons almal weet dit al vir jarre en jarre! Wil jy nou meer!

Kokerboom ·

Weet die agbare President nie wat in sy land aangaan?Of wil hy nie weet? Is hy ernstig oor ‘n werkbare oplossing?Weet hy nie dat sy ministers op een of twee na almal hoogs nutteloos is? Die munisipale krisis loop al vir meer as 25 jaar!Genoeg is nou genoeg!Daar is waaragtig NIE ‘n enkele aktiwiteit waarop die ANC hul hande le wat nie opgemors word. Sal hul ooit besef dat hul nou eenmaal net NIE die vermoee het om enige vorm van bestuur toe te pas! Dis tyd dat die inwoners van die land ‘n kollektiewe klag van wanbestuur teen die regerende regime instel!!

Anel ·

Haai, Blommie. Vertel ons iets wat ons nie weet nie. Maar ons moet nog steeds betaal. Miskien moet ons net vir die dienste betaal wat ins werklik kry soos, water, krag en vullisverwydering. Die res hou ons terud, soos erf belasting.

Kanjynoumeer ·

Om alles beter te kan verstaan, lees DIE PAD NA SELFBESTUUR Anderkant die mislukking van staatsbestuur deur FLIP BUYS. Boek kan bestel word by Kraal Uitgewers.

PieterP ·

Meer skokkend dat dit vir hulle nuus is en nooit geweet het nie. Shocked was seker gebruik in ‘n ou se sin.

Rosie ·

Ons hele dorp se strate is vol potholes jy ry tenmiste 4 op n slag raak al swaai jy uit. Nou maak dit sin hkm dit nie reggemaak word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.