Munisipale stakings dreig oor loongeskil

Samwu se lede eis ’n loonverhoging van R4 000. (Foto: Samwu/Twitter)

Die werkers van al 257 munisipaliteite dreig met ’n landwye staking nadat uitgerekte salaris- en loononderhandelinge tussen die munisipalewerkersvakbond Samwu en die Suid-Afrikaanse plaaslike regeringsvereniging (Salga) stééds geen vrug afgewerp het nie.

Volgens Samwu het die onderhandelinge nou amptelik “in duie gestort” en gaan hy binnekort ’n skrywe aan Salga rig waarin hy amptelik ’n formele dispuut sal verklaar.

“Samwu sal geen gesprekke met werkgewers voer as hulle voortgaan met hul voorwaardelike en rigiede posisie nie, maar eerder vra dat ’n sertifikaat oor nie-resolusie uitgereik word wat in werklikheid die weg baan vir ’n landwye stakingsaksie in al 257 van die land se munisipaliteite,” sê die vakbond in ’n verklaring.

Die ongelukkigheid duur voort nadat ’n fasiliteerder verlede maand ’n 4%-loonverhoging vir munisipale werkers voorgestel het.

Maroela Media het vroeër berig Samwu het dié voorstel as ’n “klap in die gesig” van munisipale werkers bestempel wat ’n loonverhoging van R4 000 en ’n minimumloon van R15 000 geëis het.

Sowat 80% van die vakbond se lede is intussen genader om vir die voorgestelde loonverhoging te stem en die meerderheid het aangedui dat hulle eerder wil staak.

Samwu voer aan hy het nie onderhandelinge met Salga begin met die doel om te staak nie, maar eerder om werksekerheid vir uitgebuite munisipale werkers te bekom.

“Die belangrikste kwessie is dat ons hierdie onderhandelinge aangegaan het om ordentlike salaris- en loonverhogings vir die land se munisipale werkers te eis. Dit is egter nie nodig om voort te gaan met ’n werkgewer wat nie bereid is om ’n kompromis met betrekking tot werkers se eise aan te gaan nie.”

Samwu sê voorts die salaris- en loononderhandelinge sal nou “op straat” afgesluit word.

Samwu se eise sluit onder meer in:

  • ’n Eenjaarsalaris-en-loonooreenkoms.
  • ’n Loonverhoging van R4 000 vir alle munisipale werkers.
  • ’n Sektorale minimumloon van R15 000.
  • ’n Behuisingstoelaag van R3 500 vir alle munisipale werkers.
  • Wat mediese fonds betref, ’n 80%-bydrae van werkgewers en 20%-bydrae van werknemers.
  • ’n 25%-bydrae van werkgewers tot werknemers se pensioen.
  • Betaalde kraamverlof van ses maande vir nuwe moeders en vaderskapsverlof van een maand.

 Die fasiliteerder het onder meer die volgende voorgestel wat deur Samwu verwerp word:

  • ʼn Driejaarsalaris-en-loonooreenkoms.
  • ʼn Salarisverhoging van 4% in die eerste jaar van die ooreenkoms en verwagte verbruikersprysinflasie (VPI) minus 1% in die ander jare van die ooreenkoms.
  • ʼn Algehele bevriesing van alle voordele vir munisipale werkers tydens die eerste jaar van die ooreenkoms. Die voordele sal eers in die laaste jaar van die ooreenkoms volledig beskikbaar wees en in werking gestel word.
  • Die sektorale minimumloon sal slegs verhoog word in ooreenstemming met salarisverhogings.
  • Die moontlikheid vir Salga om namens alle munisipaliteite aan hierdie en toekomstige gesamentlike ooreenkomste te onttrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Axel ·

Lekker droom, ons het nie eens medies of pensioen nie. Julle is ondankbaar

Elize ·

Hulle het nie eens geld om dienste te lewer nie. Waar is die geld vir verhogings? Betaal die wat nie wil werk nie af en betaal die wat wil dan meer. Ek dink daar is so 60% te veel werkers. Een ou kap in die pad en twintig staan en kyk.

Annelize ·

Sal ons dit agterkom as hulle staak? Vra namens ‘n vriend….

Nie Verbaas ·

Ek dog hulle staak al vir jare as mens na dienslewering kyk.

Debby ·

Tiepies demand, demand,demand, fire die hele gespuis hulle is inelgeval useless. En kry mense wat wil werk vir n paar rand

petro ·

hulle staak nog hul lewelank maar hulle wil pay naweke kan hulle kamstig werk maar deur die week doen hulle nie hul werk

petro ·

ek werk liewers vir minder geld en weet ek het n werk maar dan sal ek ook my werk met trots doen

Genis ·

Hulle verdien dit egter nie… Pretoria, lyk soos n regte Tshwane… middestad opgefoeter… Vuil, besmet met mensilikke ontlasting.. Buitelanders orals, txi’s mors, en het geen dissipline nie… Metro “bribe” almal…. en die DA en ANC, en EFF skitter…LOL

Chris ·

As ek so na dienslewering kyk en ervaar, dog ek hulle staak alreeds,

Die Boerepompie ·

Ons het moes landwett hoek moet daar gedaan word voor dat iets gedoen word sluit die dansers op as het ander bedryg of seer maak mr SAPEn jy man nie meer as 50 weers nie so sluit die voor bok toe en klaar

Nie Verbaas ·

Weereens, hulle wil nog meer betaal word om niks te doen nie. Onbevoeg, maar wil nog meer geld he.

Samuel ·

Ons is ‘n ware Piesangrepubliek. Stakings maak almal arm.

Anoniem ·

Ek wil net weet waarvoor word hierdie mense n salaris betaal, ek sien geen dienslewering nie so ek is net onseker wat presies hulle doen vir die geld…

Willem ·

Hoe staak jy vir hoër salarisse as ky nie eers werk nie?Fire al die syakende parassiete en sluit Munisipaliteite.Laat skelm eskom en water voorsieners direk dienste verskaf en privatiseer alle ander dienste!!!!

Jaco ·

Nou verstaan ek waarom DA-beheerde munisipaliteite nie veel beter as ANC-beheerde munisipaliteite is nie. Dis omdat omtrent al die munisipale werkers by samwu geaffilieer is. Samwu is weer by cosatu en cosatu is by die ANC. Dit verklaar waarom my buurt se belastingbetalersvereniging al 3 jaar sukkel om onwettige huiswinkels en onwettig geboude strukture gestop te kry. Klagtes loop draai by top DA-raadslede wat gedurig spog met “the DA delivers”, maar eintlik gebeur niks nie. Die DA kan nie raak aan daardie lui munisipale werkers nie, want dan volg daar stakings PLUS beskuldigings dat die DA glo rassisties is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.