Munisipale verkiesing: Hier is die DA se kandidate

Indien suksesvol verkies, sal Geordin Hill-Lewis (op die foto) die leisels as burgemeester vanjaar by die DA se Dan Plato oorneem. (Foto: Twitter)

Die DA het Maandag die party se burgemeesterskandidate vir die komende munisipale verkiesing bekendgestel.

Dié kandidate is in die Ekurhuleni-, Tshwane-, Johannesburg-, Nelson Mandelabaai- en Kaapstad-metro’s verkiesbaar.

Indien kiesers se stemme dit toelaat, sal die 44-jarige Refiloe Nt’sekhe, lid van die Gautengse wetgewer en adjunk- federale voorsitter van die DA, as burgemeester van Ekurhuleni aangewys kan word.

“Dít is die mense wat ons vertrou om lewe aan die DA se visie op plaaslike regeringsvlak te gee,” het John Steenhuisen, leier van die DA, Maandag gesê.

Die ANC se Mzwandile Masina dien tans in dié pos.

In Tshwane is Randall Williams, huidige burgemeester, wéér tot dié rol verkiesbaar gestel.

In Tshwane is Randall Williams, huidige burgemeester, wéér tot dié rol verkiesbaar gestel. (Foto: DA)

Williams is gedurende ’n raadsvergadering op 31 Oktober 2020 as burgemeester van dié metro aangewys en het die EFF se Moafrika Mabogwane met 72 stemme geklop (97 teenoor 25).

Die ANC het nie aan die stemming deelgeneem nie en ook nie ’n kandidaat benoem nie.

Williams is as burgemeester aangestel sowat agt maande ná Stevens Mokgalapa uit dié rol en die DA bedank het.

Die DA het Mpho Phalatse, Johannesburgse burgemeesterskomiteelid vir gesondheid en maatskaplike ontwikkeling, as burgemeesterskandidaat vir Johannesburg benoem.

Die ANC se Geoff Makhubo is verlede maand weens Covid-19-komplikasies dood.

Eunice Mgcina, die ANC se burgemeesterskomiteelid vir gesondheid en maatskaplike ontwikkeling, neem sedertdien as burgemeester in die Goudstad waar.

Die DA se kandidaat vir die Nelson Mandelabaai-metroraad is wéér Nqaba Bhanga.

Bhanga, die DA se provinsiale leier in die Oos-Kaap, sit tans ook in die burgemeesterstoel.

Bhanga het in Maart vanjaar aangedui dat hy saam met duisende inwoners teen die verandering van Port Elizabeth se naam na Gqeberha gekant is.

Indien suksesvol verkies, sal Geordin Hill-Lewis die leisels as burgemeester vanjaar by die DA se Dan Plato oorneem.

Die 34-jarige Hill-Lewis is tans die DA se skaduminister van finansies.

Steenhuisen sê die party het ʼn hele jaar aan die keuringss van dié kandidate toegewy.

“Dit het breedvoerige onderhoude, praktiese opdragte en evaluerings deur onafhanklike panele ingesluit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Jack ·

Maak dit regtig saak ? Die meerderheid blankes het lankal die DA verlaat.Ploeter maar voort DA.

jou gewete ·

elkeen is geregtig op n mening, reg of verkeerd. wat belangrik is is dat daar gestem kan word en dat mense hopelik in massas teen anc korupsie sal stem

Jedi Knight ·

Jou laaste werklike kans by die stembus was in 1992. Maar as dit jou laat goed voel om te stem, doen so voort.

Peach ·

Oemfaan, indien jy nie stem, hoop ek nie jy is deel van daai bondel couch polital commentators nie wie altyd die meeste negatiewe kommentare lewer nie. Al is jou stem ‘n druppel in die emmer, maar ‘n klomp druppels kan tog ‘n politieke verskil maak.

Jaco ·

En hier kom R500 000 per jaar aanvangsalaris (ek dink dis al meer), luukse motor, onthaaltoelae en ‘n lekker vet petroltoelae. So lekker agteroorsit job vir ten minste 5 jaar. Politiek in SA is NET ‘n lekker geldmaakbesigheid. Dit het BITTER MIN met dienslewering te doen. Dit verklaar waarom ‘n eenvoudige probleem soos ‘n onwettige karwassery naby my huis, na DRIE JAAR nog niks aan gedoen is nie. Die DA raadslid gee eenvoudig nie om nie en hy weet sy DA het ‘n 2derde meerderheid in die Kaapstadse stadsraad, so om hom te verkla dat hy niks doen nie help ook nie.

jou gewete ·

snaaks in Worcester help kla nogal. dis nou diegene wat wel kla en nie net blaf nie

Philip ·

Die albatros om die DA se nekke is die voorval in Sweizer Reneke wat altyd by my opkom en nie maklik vir baie mense n eye opener sal bly.

Karel Kobus Kruger ·

Dis tog te oulik om te sien daar is nog mense wat hul aan verkiesings steur. Stem en stem, maar dinge raak konstant slegter. Hoekom nog stem? Om die ANC te verhoed om n 2/3 meerderheid te kry? Hulle maak in elk geval wette soos dit hulle pas, 2/3 meerderheid of nie. Nou moet ek skoene aantrek, al die pad tot by die naaste lokaal ry, in n ry staan, n ou kruisie trek en weer al die pad huis toe ry. Vir minder moeite ry ek eerder vliegveld toe en vat my vliegtuig vir n spin.

jou gewete ·

dis patetiese redenasies soos joune wat ons in die gemors het, ek glo jy het darem destyds vir flat wheel gaan ja stem. pas by jou uitkyk

KhoiKhoi ·

Korreksie.
Eunice Mgcina neem nie waar nie.
Daar is ‘n burgemeester verkies.
Jolidee Matongo

Hennie J ·

Sonder om enigsins negatief te klink (hoewel alles da my tot negatiwiteit dwing) lyk die laaitie maar vir my effens lig in die broek. Hoeveel tale is hy magtig en is een daarvan Afrikaans?

Danie ·

Voorval in Sweizer Reneke?
Wat het Magharet nou weer gedoen?

Marisa W ·

Kan nie glo dat daar nog steeds mense is wat dink dis onnodig om te stem – hoe oningelig kan mens wees. Om nie te stem nie, vir watter party ook al, ontneem jy jouself die reg om enige kommentaar te lewer oor politiek en die stand van die land, jy ontneen jouself en jou mede burgers van ‘n regering met ‘n gebalanseerde opposisie wat uiters noodsaaklik is. Om te stem is elke landsburger se PLIG, nie ‘n voorreg nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.