Munisipale verkiesing teen 1 November gehou

Foto: Henk Kruger/African News Agency (ANA)

Vanjaar se munisipale verkiesing sal teen 1 November op die laaste plaasvind, het die land se hoofkiesbeampte, Sy Mamabolo, Dinsdag tydens ’n laataandsitting van die parlementêre portefeuljekomitee oor plaaslike regering gesê.

Mamabolo het gesê die wet bepaal ’n munisipale verkiesing moet gehou word binne 90 dae na die vyfjaartermyn wat gevolg het op die vorige landwye munisipale verkiesing.

Met die 2016-verkiesing wat op 3 Augustus plaasgevind het, is vanjaar se keerdatum dus 1 November.

Alle nuwe wyke is afgebaken – dit is trouens in Desember al afgehandel.

Nie almal is tevrede nie. Sowel Mamabolo as die voorsitter van die munisipale afbakeningskommissie, Thabo Mayoni, het toegegee dat daar probleme tydens registrasienaweek verwag word in spesifieke gebiede, veral in die Oos-Kaap, Limpopo, Gauteng en KwaZulu-Natal.

Die huidige probleemgebiede in Gauteng is Carletonville en Midrand. In KwaZulu-Natal is die probleemgebiede Tugela Ferry, KwaMashu en Ndwedwe. Oos-Kaapse probleemgebiede is Elliot, Oos-Londen en Ntabankulu. In Limpopo word probleme verwag in Sekoekoenieland en Vuwani.

Tussenverkiesings gaan intussen voort met 15 tussenverkiesings op 21 April, en 40 tussenverkiesings op 19 Mei.

Vir die landwye munisipale verkiesing sal agt metrorade, 205 munisipaliteite en 44 distriksrade op die spel wees.

Verskeie wyke is herafgebaken en die land het tans sowat 26 210 000 kiesers op die kiesersrol, hoewel dit heelwat kan groei met die registrasienaweke, want sowat 35 000 kiesers sterf elke maand en jonger kiesers is nie geneig om buite registrasienaweke te registreer nie.

Daar sal dus spesifiek deur middel van radio en sosiale media na jong mense uitgereik word om hulle tot registrasie tydens die registrasienaweke oor te haal.

Wat adresse betref, het 94,1% van die huidige kiesers op die kiesersrol volledige adresse.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) sal binnekort tydelike verkiesingswerkers begin werf – 58 000 vir die registrasienaweke en 207 000 vir stemdag.

Twee nuwe stukke toerusting sal op stemdag gebruik word. Daar sal nuwe kiesersbestuursmasjientjies in die plek van die zip-zips wees, en die onverwyderbare ink sal nie meer met iets soos ’n merkerpen toegedien word nie, maar met iets wat lyk soos ’n oorpluisie, maar blykbaar steeds op die vingernael.

’n Probleem vir die OVK is dat al meer kandidate en partye aan verkiesings deelneem, wat beteken stembriewe raak al groter, en stembusse moet eintlik ook al groter raak.

Nog ’n uitdaging is dat ontevrede lede van gemeenskappe meen hulle kan aandag op hul ontevredenheid vestig deur verkiesings en registrasie by stempunte te ontwrig, het Mamabolo gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Tanja ·

Ag tog, as hulle ń gratis T-hemp en KFC kry dan stem hulle maar net weer vir die anc

Karel Kobus Kruger ·

Jip. Net soos wat daar destyds maar elke keer vir die NP gestem is, en dit nogal sonder hemde of kos.

Fedup ·

And why exactly should we care about this?
They can use little gold stars for all i care, this whole process will not make any difference at all.

Fritz ·

Volgens sommige mense mag jy net kla as jy stem. So nou gaan staan hulle maar elke paar jaar in n ry. Pleks hulle eerder 4 dae verlof vat en n lekker 9 dag vakansie deurwerk.

Jedi Knight ·

Wat op aarde is n zip-zip? Duidelik het ek nog nooit gestem nie.

Anel ·

Nou waar aan sal die 35000 elke maand doodgaan? MAAR HULLE SLUIT ‘N LAND AS DAAR 10 VAN’ ‘N GRIEPVIRUS DOODGAAN!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.