Munisipale werker byna verskeur

Rusa-beampte en -paramedici is na die toneel ontbied. (Foto: Rusa/Facebook)

ʼn Munisipale werker van die eThekwini-munisipaliteit in Durban is ernstig beseer nadat hy deur vier honde aangeval is terwyl hy ʼn stormwaterdrein ondersoek het. Die voorval het Dinsdag by ʼn huis in Temple Valley, Verulam, plaasgevind.

Die 44-jarige werknemer was glo besig om die drein te ondersoek toe vier rondloperhonde hom onkant betrap het. Die eiendom is nie omhein nie.

Volgens Reaction Unit South Africa (Rusa) het verskeie inwoners van die gebied nooddienste ontbied nadat hulle die man om hulp hoor skree het.

“Rusa-beamptes en -paramedici het die man naby ʼn huis in Verulam aangetref. Hy was in ʼn kritieke toestand en het verskeie bytwonde aan sy lyf en gesig opgedoen.”

Paramedici het hom op die toneel gestabiliseer en na ʼn plaaslike hospitaal geneem vir behandeling.

Sy toestand is steeds kritiek, maar stabiel.

Twee honde is in die gebied waar die voorval plaasgevind het, opgemerk. Inwoners het bevestig dat hulle deel is van die groep honde wat die man aangeval het.

“Volgens die inwoners behoort die honde nie aan die eienaar van die huis waar die stormwaterdrein geleë is nie. Dié honde besoek egter gereeld die gebied,” lui Rusa se verklaring.

Dit is nie duidelik waarom die honde die man aangeval het en of soortgelyke gevalle al vantevore in die gebied plaasgevind het nie.

Beamptes kon ook nog nie daarin slaag om die honde te vang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Evert ·

Ek sien tenminste drie verskillende honde op die twee kiekies.

#013 ·

Honde val nie net aan nie. Ek is jammer, maar iets moes gebeur het.

Miskruier ·

Intussen lyk dit of die regering nie meer die Hondsdolheid spuite gaan uitdeel nie. Ek probeer nog by die staatsveearts uitvind want ons plaaslike veearts het gratis inentings verskaf. Glo my Hondsdolheid is baie dodeliker as Covid.

Frank John ·

O’ okay, dodeliker as covid! Waar’s die vaccine en inperking en beskermde klere en drank winkels moet toe en geen sigarette ens ens ens o, en media om dit op te blaas en moenie vergeet van Bill Gates nie… Hahahahaha

Pieter J ·

Rondloper honde en katte is ń ernstige probleem en ek dink die polisie behoort sulke diere summier uit die weg te ruim.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.