Munisipale werkers verwerp salarisaanbod

Argieffoto

Die munisipalewerkersvakbond Samwu se sekretaris, Simon Mathe, het gesê dié vakbond sal nie oorhaastig enige ooreenkoms teken wat nie behoorlike verhogings vir werkers inhou nie.

Mathe het gesê die unie het die aanvanklike voorstel van ʼn vyfjaarooreenkoms van die Suid-Afrikaanse vereniging vir plaaslike regerings (Salga) wat tydens die eerste ronde van die salarisooreenkomste in Durban ter tafel gelê is, verwerp.

“Ons is in geen posisie om ʼn vyfjaarooreenkoms te onderteken wat nie behoorlike verhogings vir ons lede en ander munisipale werkers bevat nie. Ons kan net die ooreenkoms aanvaar as daar 15% of R3 155 jaarliks aangebied word.”

Volgens hom is dit die eerste keer in die geskiedenis van salaris- en loononderhandelinge dat die werkgewer ʼn vyfjaarooreenkoms voorstel.

“Ons is daarom oortuig dat Salga nie hierdie ronde onderhandelinge in goeder trou binnegegaan het nie. Ons verwerp hierdie aanbod omdat dit lagwekkend en beledigend vir munisipale werkers is. Die feit dat Salga die werkers wil blameer vir die moeilike situasie wat munisipaliteite tans ervaar, is baie teleurstellend.”

Hy het gesê die werknemers wil nie instem tot die R10 000 minimum loon nie en voer aan dat plaaslike regerings se minimum loon dubbeld is wat die nasionale regering en die nasionale raad vir ekonomiese ontwikkeling en arbeid (Nedlac) goedgekeur het. Hy meen dit is aanduidend dat die werkgewer nie vir die munisipale werkers omgee nie.

“Werkers kan nie blameer word vir die wan-, vrugtelose en onreëlmatige besteding wat heeltyd deur munisipaliteite gepleeg word nie. Hierdie geld kon gebruik word om die oorlewing en stabiliteit van munisipaliteite te verseker en terselfdertyd ook te verseker dat daar ekstra hulpbronne is wat munisipale werkers kan vergoed.”

Samwu en die Onafhanklike Munisipale Unie het gesamentlike eise by die werkgewersliggaam ingedien vir ʼn enkeljaarooreenkoms wat ʼn algemene verhoging van 15% of R3 155, wat ook al die meeste is, insluit. Die vakbonde eis ook ʼn behuisingstoelaag van R2 000 vir alle werknemers en ʼn minimum salaris van R10 000 vir alle munisipale werkers, asook dat alle voordele en diensvoorwaardes met dieselfde persentasie verhoog sal word.

Die munisipaliteite het ʼn salaris- en loonaanbod vir vyf jaar voorgestel van 4,6% in die eerste jaar en inflasie plus 0,25% vir die res van die ooreenkoms.

Mathe meen die R2 000 behuisingstoelaag kan geregverdig word gegewe die feit dat banke vir werkers sê hulle verdien te min om te kwalifiseer vir finansiering en die regering, vir wie hulle werk, weer sê hulle kwalifiseer nie vir RDP-huise nie.

Samwu sal graag wil hê die onderhandelinge moet vinnig afgehandel word voor die huidige ooreenkoms in Junie 2018 verval. Hy het ook beklemtoon dat hulle geen ooreenkoms gaan onderteken wat nie behoorlike verhogings vir werkers insluit nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Frans C ·

Dit is geen wonder dat alles in die land tot tot rommelstatus verval en onderhoud afeskeep word.In die Ehurhuleni Metropool word reeds soveel as 40% van die totale begroting aan Salarisse,lone en toelaes, bestee vir amptenare en raadslede.

Uit die Endisimeni arbitrasieverhoor het dit na vore gekom dat soveel as 60% aan salarisse,lone en toelaes van die totale begroting bestee word en dat ‘n tekort aan fondse
die dryfveer agter die verplasing van gestremde mense was.Dat die besluit tot die dood van 143 mense gelei het was blykbaar van minder belang.Voorheen was die norm tussen
25 en 30 % en was dit ‘n belangrike doelwit in die opstelling van enige begroting.
Dit het dan tussen 75 en 70% vrygestel vir ander doelwitte.

Dit is skokkende dat belastingbetalers op alle vlakke die melkkoeie van ‘n gulsige ampetenary geword het en bitter min in ruil daarvoor kry.

marous ·

Die belasting betaler verwerp enige aanstelling van enige munusipale werker aangesien dit lagwekkend is….

Jack Russl ·

Niemand werk vir R3155 jaarliks nie. Hulle soek ‘n verhoging van of R3155 of verhoging van 15%

LEES ASB MENSE ·

Ek is geskok om te sien dat mense nie die artikels LEES voordat hulle silly kommentaar lewer nie. Kom R10 000 per maand op R3155 per jaar uit he? NEE DIT IS DIE VERHOGING waarvoor hulle vra, so lees asb die artikel voordat jy sotlike aanmerkings maak. Jy hoef nie daarvoor te werk nie, en hulle ook nie, maar as ek na jou vermoe om te LEES kyk is selfs R3155 per maand of per jaar te veel vir jou!

FIRE HULLE ·

WEL dan moet julle maar SONDER WERK SIT. Julle is ongeskoold, julle staak in elk geval 4 keer per jaar dan moet ons ons eie asblikke laat leegmaak, so GAAN SOEK ander werk. Julle kan een van die dae VERNIET STUDEER dan kan julle almal “LOJERS” raak!

piper ·

hulle produktiwiteit is so laag. betaal die helfte af en verdubbel die wat oorbly se loon en produktiwiteit,

Hanna ·

Daar is gegradueerde mense wat nie eens soveel verdien soos wat hierdie werkers op aandring nie. Ek weet, want ek is een van daardie gegradueerdes. Dink ek is in die verkeerde beroep…

HPV ·

Betaal hulle af. Hier in die stinkende Bloemfontein, met sy bankrot Metro, betaal ek die afgelope twee jaar my tuindienste om hul werk te doen en dit kos my slegs 10% van die bankrot Metro se tarief. My bure doen nou dieselfde met hul tuindienste. Almal tevrede!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.