Munisipaliteit by MRK verkla oor rioolvuil by kinderhuis

Abraham Kriel-kinderhuis (Foto: Google Maps)

Die VF Plus het Maandag ʼn klag by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) ingedien teen die Modimolle-Mookgopong- plaaslike munisipaliteit oor onaanvaarbare besoedeling by ʼn kinderhuis in Modimolle (Nylstroom) wat ʼn groot gesondheidsrisiko inhou.

Marcelle Maritz, provinsiale leier van die VF Plus, het in ʼn verklaring gesê rioolvuil loop ʼn geruime tyd reeds agter die Abraham Kriel-kinderhuis in Olienhoutstraat in Modimolle in ʼn veld uit.

“Die munisipaliteit en wyksraadslid van wyk 12 in die dorp dra lank reeds kennis daarvan, maar niks word aan die probleem gedoen nie. Die munisipaliteit het glo nie die blokkasie wat die rioollekkasie veroorsaak het, reggemaak nie en het bloot ʼn sloot gegrawe sodat die riool in die veld by die kinderhuis kan uitloop,” het Maritz verduidelik.

“Dit is die munisipaliteit se plig om toe te sien dat behoorlike dienste tot voordeel van die hele gemeenskap gelewer word. Nie net versaak hy sy plig nie, maar pleeg in die proses ʼn growwe skending van die regte van alle inwoners en veral van die kinders deur toe te laat dat die omgewing besoedel word.”

Volgens Maritz bepaal Suid-Afrika se Grondwet dat elkeen die reg het op ʼn omgewing wat nie skadelik is vir sy gesondheid of welstand nie. “Hierdie skending moet dadelik stopgesit word en die VF Plus het daarom die MRK se dringende ingryping versoek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Dirk ·

Ek sal graag so oudit van Afriforum verwelkom in Madebeng omdat ons omstandighede hier baie slgter as Modimolle is. Hier word die riool direk in die rivier herlei. Die rioolwerke staan al vir hoeveel jare en NIEMAND doen iets daaromtrent nie. Ek het al per geleentheid dit aan die persoon van omgewingsake van Afriforum gerapporteer en na 3 maande was daar geen besoek, ondersoek of stappe geneem om die saak te beredder nie.

PaulV ·

Dirk; hier sien jy mos nou volgens die berig wie om te nader – die VF Plus.

James van Zyl ·

Om die perspektif reg te stel , Afriforum het hierdie riool probleem reeds 15 maande gelede aan die Groen Skerpioene deurgegee . Ek het die dame vir die hele dag deur die dorp geneem , alle dreine , rioolplaas in die Nylstroom dorpsgebied , Paghameng en die rioolplaas geneem . Die dame , Yolanda was erg geskok oor die toestand en het ñ verslag gaan skryf . Die Munisipale bestuurder was reeds deur Afriforum , strafregtelik aangekla .

Na twee weke het ek by Yolanda navraag gedoen om te verneem dat haar ‘baas’ die vervolging afgekeur het en ons saak van die tafel af gevee het . Dit blyk nou dat daar ook politieke ingrype was om niks teen mnr Sebola te doen nie . Ons het verdere klagte gelê , wat tot niks gekom het nie . Die frustrasie loop hoog .

Hierdie aksies is ook met die raadslede gedeel . Weinig het gebeur . Nou is daar verkiesing en ook ñ nuwe NVG hoof aangestel . Die Zondo komissie lyk ook of hy tande gaan wys .

Dit lyk dus of die probleme om politieke punte aandag gaan kry , maar gaan dit na die verkiesing steeds aandag geniet ? Kom ons bid so !!!

Milan ·

Toets die water vir Cholera. Indien positief, kla hulle aan vir strafbare manslag aangesien Vibrio cholerae tot lewensverlies kan lei.

Johanna Botha ·

Hennopsrevier is ook ERG besoedel …riool plastiek seep wat bolle skuim tot gevolg het

Wilma ·

En so gaan alles ten gronde want the people shall govern. Kom kyk hu erg word rommel gestrooi oor naweke veral en Allpay dae hier op Calitzdorp. So gebeur dit wanneer die politici se “the people shall govern . Sies

Anoniem ·

Die Apiesrivier in die omgewing van die Laagwaterbrug in Capital Park is net so besoedel. Elke keer wanneer dit erg reen en die laagwaterbrug oorstroom le die wereld besaai van gemors.

Lanie ·

Ons arme land. Ons arme kinders. Ek wil graag weet hoekom is daar so baie kinders in kinderhuise. Waar is hulle ouers.

Maro ·

Raak betrokke en jy sal gou agterkom waar die ouers is. Dwelms, drank, werkloosheid…

Asjas ·

Maro, jy is 100% reg, jou volgorde is net so bietjie verkeerd.
Werkloosheid
Drank
Dwelms
en natuurlik al die ellende wat daarop volg …

Frik ·

Die individue moet in eie reg aangekla word, nie die munisipaliteit nie.
As die individu aanspreeklik gehou word, dan sal dit ook verhoed dat onbekwames aansoek doen vir poste waarvoor hulle nie opgewasse is nie.

Ralph ·

Goed as die munisipaliteit aangekla word en dit nogal deur die VF-PLUS wat self in n koalisie met DA en EFF die dorp bestuur. Nou VF ??

John ·

… en nou het slim sy baas gevang… Waar is die #meme oom op die grooooot plakkate of die rooipet-wunderleader wit de money…. will fix everything… tingeling en ds blue bell inc. AfriForum moet nou alles doen van strate tot dreine regmaak tot gracious lady’s vasvat tot Fordbase oor die vingers tik…. is daar nog geld oor?

Rioolgat ·

Die Munisipaliteit grawe ‘n sloot vir die riool agter ‘n kinderhuis … is dit hulle begrip van “maintenance”? Net soos die “dam” wat hulle 10 m van die klein Nyl rivier en 80 m vanaf huise gegrawe het waarin rou riool vloei? Terloops, hulle “dam” is nou vol en nie omhein nie. Ek wag met angs vir die berig dat ‘n kind in hulle “longdrop” reg langs die rivier geval en verdrink het.

Thinus Erasmus ·

Jip, ek leef hier. Geen munisipale “werkers” nerens sigbaar nie. Net die elektriese-, watervoorsiening- en verkeers dept. werk nog so bietjie.
Al die amptenare sit in hul kantore – seker kry hul nog salarisse. Die DA-koalisie in die raad het geen mag of beheer oor die amptenary (ANC) nie – hul het nie eers toegang tot die finansies of begroting nie. En nou is hul blykbaar onder administrasie – weereens ANC beheer.
Die munisipale kantore is vervalle, maar almal ry nuwe motors. Die banketsaal lyk soos informele skuiling, maar die dorp se mense moet belasting en tariewe betaal.
Al wat ek kan se dit is ‘n goed befondsde agteruitgang, ons betaal dat alles vernietig (opge….) word.

Gerda van der Merwe ·

Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom se naam is in n artikel gebruik waarvan die feite nie geverifieer is nie en die kinderhuis is in die middel van n geskil geplaas.
Die riool ter sprake is nie op die terrein van die kinderhuis nie en VF is nie genader vir hulp met betrekking tot ‘n rioolprobleem nie.

Adam ·

Baie dankie Gerda. Indien jou inligting korrek is, is hierdie maar weereens ‘n bewys hoe die wittes die publisiteit grashalmpies by elke geleentheid vasgryp.

Aan Adam ·

Hoekom moet jy die nou ‘n ras-storie maak? Die FEIT is daar is rioolvullis wat nie uitgesorteer word nie. Niks met wit of swart te doen maar geberek aan onderhoud, amptenare wat nie hul werk doen ens. Kom by voor jy snedig raak oor wittes

Dienkie ·

Ek het in my lewe nog nooit ‘n land teegekom wie so RASBEHEP is soos Suid-Afrikaners nie. Nee genugtig dit raak nou te erg. Op elke liewe artikel word daar RAS ingetrek. Is dit regtig nodig.?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.