Munisipaliteit dok miljoene vir grafte op

(Foto: Moira Dillon/Unsplash)

Die Demokratiese Alliansie (DA) het Woensdag sy skok uitgespreek oor die Emfuleni- plaaslike munisipaliteit in Gauteng wat meer as R4,5 miljoen bestee het om massagrafte te grawe. Dié inligting is deur Lebogang Maile, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake in Gauteng, onthul in ʼn skriftelike antwoord op vrae wat in die Gautengse provinsiale wetgewer (GPL) ter tafel gelê is.

Luidens ʼn verklaring uitgereik deur die DA, het Maile in sy antwoord aan die DA gesê Emfuleni het die kontrak vir die grafte aan Sobangena Trading, JV Spinks Trading en Inkokheli Business Enterprise, vir die tydperk van 24 Mei 2018 tot 23 April 2021, toegeken.

Volgens Maile het die munisipaliteit Sobangena Trading en JV Spinks Trading reeds R2 266 782,47 en Inkokheli Business Enterprise R3 173 397,18 betaal.

Die munisipaliteit het altesaam reeds R5 440 179,65 vir grafte opgedok.

Volgens die verklaring het Maile aangevoer dat die munisipaliteit nie die kapasiteit het om die grafteprojek intern te hanteer nie.

Kingsol Chabalala, die DA-kiesafdelingshoof vir Emfuleni-Noord, sê dit is kommerwekkend dat die munisipaliteit, wat ernstige kontantvloeiprobleme ondervind, van eksterne dienste gebruik maak om die grafte te grawe. Hy sê dit kan eintlik intern gedoen word.

“Hierdie geld kon gebruik word om die nodige toerusting en gereedskap aan te koop om die grafte te grawe. Die projek sou ook werksgeleenthede vir plaaslike inwoners skep,” sê Chabalala.

Chabalala sê die DA doen ʼn beroep op Maile om die onnodige uitgawes te besnoei om sodoende die munisipaliteit finansieel te red.

“Ons doen ook ʼn beroep op Maile om ondersoek in te stel na die redes waarom hierdie munisipaliteit nie ʼn departement het wat grafdienste intern kan hanteer nie,” sê Chabalala.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stofdonkie ·

Daar sal maar gekyk moet word wie is die direkteure van die maatskappye wat so gebruik word. Dis heel waarskynlik maatskappye wat besit word deur die munisipale bestuurder, burgermeester of raadslede. Die eerlike ouens sukkel hulle dood om betaling vanaf munisipaliteite te kry terwyl ander weer net skep

Hekwag ·

Ja-nee, lekker om so te mors met die belasting betaler se geld, nê? Ons soek ‘n “breakdown” van hoe mens op sulke buitensporige bedrae uitkom, asb.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.