‘Munisipaliteit kan nie langer kniebuig voor stakende werkers’

Middelburg (Foto verskaf deur VF Plus)

Die VF Plus dring daarop aan dat die Steve Tshwete- plaaslike munisipaliteit (Hendrina, Middelburg, Pullens Hope, Rietkuil) ʼn ultimatum aan stakende munisipale werkers stel om dadelik terug te keer werk toe of om die gevaar te loop om afgedank te word.

“Stakende werkers het die munisipaliteit op sy knieë met hul onredelike eise, vernietiging van infrastruktuur en weiering om dienste te lewer,” sê Juanette Mentz, VF Plus-raadslid in die munisipaliteit.

“Dit is ʼn hartseer dag as stakende munisipale werkers aanstellings op munisipale vlak en salarisskale dikteer en dit as onderhandelingsmiddel misbruik.”

Die munisipale bestuurder, adv. Bheki Khenisa, het reeds bedank op hul aandrang, maar steeds weier die werkers om terug te keer werk toe indien hy sy kennismaand vanuit sy kantoor werk.

“Die VF Plus is van mening dat bewerings van werkers dat Khenisa by ongerymdhede betrokke was, ʼn blote rookskerm was om van hom ontslae te raak aangesien die stakende werkers na vele versoeke nog geen bewyse kon voorlê van die beweerde ongerymdhede nie.”

Waterlekkasie in Middelburg (Foto verskaf deur VF Plus)

Mentz sê intussen is dit onskuldige inwoners en selfs skoolkinders wat ly onder die stakers se intimidasie en die beskadiging van kritieke infrastruktuur.

Riool het Vrydagoggend oor ‘n plaaslike skool se terrein gevloei wat ‘n gesondheidsgevaar vir die kinders inhou. “Die krisis in die munisipaliteit kan nie langer voortduur nie en moet dringend in bedwang gebring word.”

Die VF Plus se LPW in die Mpumalanga-wetgewer, Werner Weber, sal in die komende week praat met die LUR’e vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Busisiwe Shiba, en gemeenskapsveiligheid, Vusi Shongwe, om ʼn oplossing te vind vir die voortslepende krisis.

“Die VF Plus het reeds die humanitêre krisis wat besig is om te ontvou in die munisipaliteit onder die aandag van die menseregtekommissie (MRK) gebring.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lillian ·

Dank die hele lot af en kry mense wat wil werk, en daar is duisende! Hoe kan die munisipaliteit toelaat dat hul so beheer word? Dis mos nou absoluut absurd!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.