Munisipaliteit kry pak slae in hof oor riool

Adv. Frik Erasmus SC, adv. Paul Eilers en Petrus Coetzee van AfriForum buite die hooggeregshof in Mafikeng. (Foto: Verskaf)

Die Matlosana- plaaslike munisipaliteit moet ingevolge ’n hofbevel binne 30 dae met die nodige herstelwerk aan die rioolaanleg in Klerksdorp in Noordwes begin.

Dié uitspraak spruit uit ’n aansoek wat AfriForum reeds in Desember 2021 by die hooggeregshof in Mafikeng ingedien het, ten einde te verseker dat rou of onverwerkte riool nie verder gestort word nie. Die saak het verlede jaar verskeie kere voor die hof gedien.

Die organisasie sê die meeste van die masjinerie by die rioolwerke is buite werking, wat veroorsaak dat rou riool direk in Schoonspruit invloei.

AfriForum het reeds in April ’n dringende brief aan die munisipaliteit gerig oor die haglike toestand van die rioolwerke, maar dit het op dowe ore geval en die organisasie het besluit om die hof te nader.

“Sedert April 2021 het AfriForum baie werk gedoen om die probleem te help oplos. ’n Spesialisverslag is onder meer aan die munisipaliteit verskaf vir die nodige herstelwerk. Die gesondheidsrisiko van rioolwerke wat nie behoorlik in stand gehou word nie, is enorm – nie net vir die mense van die gemeenskap nie, maar ook vir diere en die omgewing in geheel,” het Petrus Coetzee, raadgewer vir plaaslikeregeringsake by AfriForum, gesê.

“Dit is ook waarom AfriForum besluit het om hierdie saak voor die hof te bring, sodat herstelwerk teen ’n billike koste tot voordeel van die gemeenskap gedoen kan word.”

Die hof het onder meer bevind dat die munisipaliteit versuim om sy grondwetlike plig na te kom – spesifiek met betrekking tot die onvoldoende bestuur van die rioolaanleg wat gelei het tot rioolstorting en onderbrekings in die munisipaliteit se dienslewering.

Ingevolge die bevel moet die munisipaliteit binne 30 dae met die herstel van die aanleg begin, en binne 90 dae aan die hof terugvoer gee oor die vordering van dié werk.

“Mense en diere is jare reeds blootgestel aan die gesondheidsrisiko’s wat gepaardgaan met die munisipaliteit se agterlosige gebrek aan herstelwerk, onderhoud en behoorlike bestuur van die rioolaanleg,” het Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier, gesê.

“Ons is dus baie bly oor hierdie uitspraak wat die munisipaliteit tot verantwoording roep en ons is hoopvol dat ons nou werklik ’n verskil sal sien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

domheks ·

Al hoop is die ashoop. Die munisipaliteite wag dat julle die werk doen, as hulle dit laat doen is daar nie genoeg vir salarisse nie..

Groen Ghoen ·

Wat ‘n skandelike en skaamtelose pligsversuim van hul werk deur die plaaslike owerhede is dit nie? Wat op die aarde doen die mense daagliks tydens werkstyd? Bedryf hulle ANC politiek en verryk hulself tenkoste van die laaste paar belastingbetalende melkkoeie?

Kokerboom ·

SA demokrasie is ‘n klug. Alle dienste aan publiek moet altyd die regsroete neem. Mense ingestem deur mense doen hul uiterste bes om TEEN die mense te werk en hul lewe hel te maak! Skande! Onaanvaarvaar!

gpsa ·

Dankie weereens aan Afriforum. Waar is die politieke partye. Is dit nie hulle werk om die soort probleme uit te wys en uit te sorteer nie? Hulle soek net stemme en dis al. Se nie ons moet ophou stem nie, juis die teendeel,

Watsenaam ·

Watter politieke partye? Enige mens wat vir die FV+ stem moet homself onmiddelik by n sielkundige aanmeld. Hierdie ouens is nou regtig slap G…e. Seker ook net daar vir die geld.

Annelize ·

Wens die Misluktepaliteit van Rustenburg kan ook so in die bek geruk word. Rustenburg is besig om in die eie rioolwater te verdrink, met geen hoop dat iets daaromtrent gedoen word nie.

marius ·

Goeie werk . Maak net seker dat daar uitvoering gegee word . Indien nie moet hulle opgefoeter word .

Lurock ·

Hier gaan net nooi niks van kom nie. Hulle vee hulle sterte aan daai hofbevel af. Oor n honderd jaar sal daar steeds net mooi niks gedoen wees nie.

Deon ·

Hierdie amptenare wat nie hul werk doen nie moet persoonlik begin betaal vir die verliese! As hulle nie die werk kan doen nie hoort hulle nie daar nie. So ook met elke raadslid wat niks aan die saak doen nie. n Groot see tussen praat en doen en die boot is vol gate.

Groen Ghoen ·

‘n Groot see tussen praat en doen en die boot is vol gate. Pragtig, sal dit graag leen by jou.

Mnr De Beer ·

Stem 100% saam jou Deon. Groot see tussen praat en doen en die boot is vol gate.

Republikein in die Wes Kaap ·

Maar die geld is op om die werk te doen.

LANA is ELANè ·

Ongelukkig het “ons mense” geen werksetiek nie en ons sal maar sien of die munsipliteit hulself aan die hofbevel gaan steur. SA is berug daarvoor dat reëls, regulasies en wetstoepassing gebreek kan word veral omdat hulle opkyk na hoe die regerende party dit doen.

Koos 100 ·

En nou wat verder? Waar is die nagevolge van die stadsbestuurder, wat sy plig vrrsuim het?

JohanR ·

Jy kry ‘n begrooting en al wat jy moet doen is kyk wat moet reg gemaak word met daai geld. Dit is nie rocket science nie! As riool die pad afstroom dan moet jou klein brein vir jou se dat ietsie moet hersien word. Eish!

Koos 100 ·

Johan, vir my en jou is dit eenvoudig want ons breine is nie geprogrameer om eerste te dink hoe ek myself gaan verryk nie!

Althes ·

Knap gedaan Afriforum en die regspan. Saam maak ons ñ verskil.

Francois ·

Solank die nie-lewering van die hofbevel gekoppel is aan tronkstraf vir die uitvoerende lede – anders gaan niks gebeur nie

Korrelkop ·

Maar niemand se gatte brand nie… en DIS waar die probleem lê!

Danie ·

Pakslae het slegs n positiewe effek as daar gevolge is.Soos ek die ding ken kry die skuldiges bevordering en n hengse verhoging.Dit gebeur in die Sapd ook.

Di ·

Afriforum sal PERMANENT in die howe moet wees want AL die munisipaliteite is een groot GEMORS. Die in beheer daarvan het mooi geleer by hulle President en sy trawante. USELESS, ONBEVOEGDE, KORRUPTE spul

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.