Munisipaliteit moet Gift of the Givers vergoed vir werk

droogte

(Foto: Daeron/Pixabay.com) 

Die regering het ingestem om die rampverligtingsorganisasie Gift of the Givers te vergoed vir hulp wat hy verleen het in die droogtegeteisterde Makhanda, voorheen bekend as Grahamstad, in die Oos-Kaap.

Die besluit volg op ʼn vergadering Donderdag oor ʼn geskil van R10 miljoen tussen die Makana-munisipaliteit en Gift of the Givers.

Imtiaz Sooliman, woordvoerder van Gift of the Givers, het Vrydag in ʼn verklaring gesê die vergadering met belanghebbendes, waaronder verteenwoordigers van die departement van water en sanitasie, die departement van koöperatiewe regering en tradisionele sake, asook die kantoor van die premier, was uiters sinvol.

Sooliman het gesê betaling sal oorweeg word vir 11 van die 15 boorgate wat Gift of the Givers in Februarie in die streek gesink het.

Dit was ʼn kritieke tyd vir die munisipaliteit nadat ʼn voortslepende droogte damme in die weste van die dorp byna laat opdroog het en sommige inwoners weke lank sonder lopende water by hulle huise oor die weg moes kom. Die organisasie het in dié tyd daagliks skoon drinkwater aan plaaslike en landelike gemeenskappe gelewer, die watergehalte van die boorgate gereeld getoets en watertenks opgerig.

Luidens die verklaring het dit gedurende die vergadering aan die lig gekom dat die waterprobleme in die streek nou onder beheer is. Gift of the Givers is gedurende die vergadering gevra of hy steeds 20 watertenks aan die munisipaliteit kan skenk in die belang van die gemeenskap en die organisasie het gesê hy sal dit gunstig oorweeg.

Daar is by die vergadering benadruk dat daar nie meer ʼn waterkrisis is nie en dat Gift of the Givers se dienste dus ook nie meer benodig word nie. Hy sal nou op ʼn manier vergoed word, soos bepaal deur die betrokke staatsdepartement, maar die munisipaliteit sal voortaan verkies om sy eie diensverskaffers te gebruik om die nodige werk af te handel.

Gift of the Givers gaan dus nou begin met die proses om uit Makhanda te onttrek.

Die organisasie sê in die verklaring hy is tevrede met die uitkoms van die vergadering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

???? leser ·

“gift of the givers”, kan jy hierdie klomp woorde glo wat hulle jou belowe

Ronel ·

Is daar van die begin af gepraat oor betaling en pryse? Indien wel, moet hulle mos die volle betaling kry.

Ellisras ·

As daar ‘n dispuut tussen ‘n ANC Munisipaliteit en Gift of the Givers is glo ek 100 maal eerder wat Gift of the Givers se. Dit is mense wat geen verskuilde agenda het nie.

rudi ·

Die enigste rede hoekom hulle nie meer gift of givers wil gebruik nie, is hulle kan nie kickbacks daar kry nie

Pieter Schoombee ·

Die arme mense van Grahamstad. Nou is hulle weer in die ANC-munisipaliteit se hande.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.