Munisipaliteit pleit skuldig op besoedelingsklagte

Werknemers van AfriForum Dinsdag in die Randfonteinse landdroshof. Van links na regs is Stephanus Blignault, Morné Mostert (agter), Corné Cronje, Matiam van Vuuren (voor) en Johan Kruger. (Foto: AfriForum / Marthinus Koekemoer)

Die Rand West City- plaaslike munisipaliteit in Gauteng is met R10 miljoen beboet nadat hy Dinsdag op ’n klagte van rioolbesoedeling skuldig gepleit het.

Matiam van Vuuren, voorsitter van die AfriForum-tak op Randfontein, het die klagte ses jaar gelede ingevolge die Omgewingswet teen die nou geskorste munisipale bestuurder, Themba Goba, ingedien. Die munisipaliteit is onder meer van die buitengewone besoedeling van die Rietspruit-rivier, wat deur dié goudmyndorp loop, beskuldig. Hy is beskuldig van die nalatige bestuur van die dorp se aanlegte.

Goba het die pleitooreenkoms Dinsdag as ʼn verteenwoordiger van die munisipaliteit aangegaan en dit is deur die Randfonteinse streekhof bekragtig. Die departement van water en sanitasie (DWS) het ook direktiewe teen dié munisipaliteit uitgereik nadat die departement tot die saak toegetree en sy eie ondersoek ingestel het.

Die pleitooreenkoms behels onder meer ’n boete van R10 miljoen waarvan R7 miljoen vir vyf jaar opgeskort is, mits die munisipaliteit aan sekere voorwaardes ingevolge die ooreenkoms voldoen.

Morné Mostert, bestuurder van plaaslikeregeringsake by AfriForum, sê die oorblywende boetegeld van R3 miljoen moet volgens die ooreenkoms aan herstelwerk by die rioolwerke bestee word. Bewyse van dié herstelwerk moet dan aan die DWS gestuur word.

Die ooreenkoms bepaal voorts dat gekwalifiseerde en ervare prosesbeheerders aangestel word soos voorgeskryf deur regulasies. Meulmakers en elektromeganiese tegnici moet ook aangestel word om behoorlike onderhoud van die rioolwerke te verseker.

Verdere vereistes in die ooreenkoms is die behoorlike monitering van uitvloei by die werke om nakoming te verseker, en dat behoorlik aan die DWS verslag gedoen word. Minstens 10% van alle munisipale toelae vir infrastruktuur moet ook aan die onderhoud van die rioolwerke bestee word.

“AfriForum veg hierdie stryd al sedert 2016 onverpoosd. Vandag [Dinsdag] se uitspraak is vir ons as die Randfontein-tak, asook vir die gemeenskap, ’n reuse-oorwinning. Ons is vol vertroue dat hierdie sukses deure sal oopmaak vir ander gemeenskappe om ook hul munisipaliteite strafregtelik aanspreeklik te hou vir besoedeling weens gebrekkige rioolwerke,” het Van Vuuren gesê.

Volgens Mostert moet hierdie oorwinning ook gesien word in die konteks van Senzo Mchunu, minister van water en sanitasie, se groendruppelverslag wat onlangs deur die departement uitgereik is.

“Vandag [Dinsdag] se uitspraak is slegs ons eerste sukses met dié soort klagtes. Ons sien dit as ’n goeie presedent, aangesien AfriForum sowel as die regering se groendruppelverslae toon dat slegs 22 van die 850 (2,3%) rioolaanlegte in die land aan die groendruppelstandaard voldoen.

“Hierdie uitspraak en die proses wat gevolg is om dit te verwesenlik, vorm deel van ons strategie om munisipaliteite en meer spesifiek munisipale bestuurders tot verantwoording te roep. Ons wil toesien dat daar nagevolge is vir die wanbestuur wat tans in baie munisipaliteite heers,” sê Mostert.

Die organisasie sê hy sal voortgaan om die situasie dop te hou en die waghondrol vervul om te verseker dat daar aan die grondwetlike beginsels van ’n skoon omgewing voldoen word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Shakespeare ·

Munisipaliteit lag vir julle. R10 milijon rand……sorrie we not having it. We got no money.

Jacobus ·

Soos Denel, ons is skuldig “so what”! Wil julle hê ons moet ons werk doen?

Sarel ·

Een van Twee dinge kan nou plaasvind;
1. Die Munisipaliteit betaal nie die boete nie…of
2. Dit word met die Belastingbetaler sd geld gedoen.
Watter kant jy ook jyk en kan nie ‘n wen sien nie.
3. Ek sou graag wou sien dat individue vervolg word wat nie hulle werk doen nie

MAGRIETHA ·

DA gaan belasting betalers se geld hul moes die burgermeester en sy trawante van water en sanitasie beboet ,hul moet uit hul sakke uit betaal en onthef word van hul poste

Nico ·

Hoekom word al munisipaliete ook nie beboet vir hul wan bestuur, riool lekkasies, die vars water pype wat aanhoudend breek waarvan die inwoners moet sukkel nie.

Miena ·

oo wee – Tshwane gaan beslis nie so n inkiminerende staat maak nie. Julle moet kom sien hoe loop die riool in Bronkhorstspruit in die rivier in. Ons water aanleg is soos ge-opende deure – enige iemand kan net ingaan. Ons het nou al sabotasie gesien gebeur hier by ons. Die plaaslike DA probeer iets doen maar dis in die wind. Die gekose regerings amptenaar / raadslid vir die wyk doen net NIKS!!! Ons het gister in die dorp n massa-optog gehad wat net rede was vir saakbeskadiging van winkels diefstal en die memo is nooit oorhandig aan die mislikepaliteit wat sou gebeur het nie. Besighede was toe en ander geforseer om te sluit. Geen besigheid het n goeie dag gehad nie. Mens en dier is siek van die stank wat in ons dorp hang asook die water wat in ons krane opeindig. Bruin water moet wasgoed weer wit / skoon was – ag nee wat. Boorgatwater is ook al geraak – mense laat toete doen en “daar is geen rede tot kommer nie” is die resultate. Daai einste kaders drink almal gebottelde water.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.