Munisipaliteit R423 miljoen kwyt weens stakings

Stakende Amcu-lede (Januarie 2014) Foto: @ewnreporter op Twitter

Stakende Amcu-lede (Januarie 2014) Foto: @ewnreporter op Twitter

Rustenburg in Noordwes het nog nie ten volle herstel ná ʼn uitgerekte staking in 2014 by platinummyne nie.

Mpho Khunou, uitvoerende burgemeester, het tydens sy 2016/2017-begrotingstoespraak gesê Rustenburg was, voor die stakings, die ekonomie wat die derde vinnigste uit agt metropole in Suid-Afrika gegroei het, en het in 2012 4,9% van die bruto binnelandse produk bygedra.

Die munisipaliteit het tydens die stakings in 2012 en 2014 verliese van R423 miljoen aangemeld, terwyl meeste van die ondernemings finansieel gesukkel het.

Daar is ook ʼn toename in slegte skuld weens die uitgerekte stakings en afdankings.

Bykans 70 000 lede van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) het op 23 Januarie 2014 by platinummyne begin staak en ʼn maandelikse salaris van R12 500 geëis. Die staking het eers in Junie tot ʼn einde gekom toe die vakbond uiteindelik ʼn verhoging van R1 000 per maand vir die eerste twee jaar en ʼn verhoging van R950 vir die derde jaar aanvaar het.

Altesaam 44 persone is in Augustus 2012 dood tydens gewelddadige stakings by Lonmin se Marikana-myn.

Khunou het gesê gebruikers kan nie vir dienste betaal nie. “Die munisipaliteit moes in 2014, met die minimum inkomste van inwoners oor vyf maande, vir grootmaatelektrisiteit by Eskom en grootmaat waterverskaffing betaal. Die impak was groter in 2015 en gebruikers moes reëlings tref om hul skuld te delg,” het hy verduidelik. “Die inkomste uit elektrisiteitsverkope het tydens die staking met R164 miljoen gedaal.”

Die Demokratiese Alliansie het ook bevestig daar is ʼn ernstige probleem om die inkomste in te vorder. “Die inkomste word tans uit die tradisionele [dorp] Rustenburg verhaal, dit sal beter wees indien die inkomste ook uit die landelike gebiede verhaal word,” het Gert du Plessis, koukusleier van die DA, gesê.

Die Vryheidsfront Plus het gesê Khunou het ʼn regverdige begroting ingedien. “Dis ʼn regverdige begroting gegewe die ekonomiese omstandighede van Rustenburg,” het De Wet Nel gesê. “Raadslede moet hul werk doen en by die begroting bly.”

Khunou het ʼn begroting van R3,886 miljard vir die 2016/17 finansiële jaar ingedien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wat-ek-lees ·

Dis mos die inding om jou sin te kry deur te staak en nie ‘n flenter om te gee wat die gevolge gaan wees wat ALTYD NEGATIEF SAL WEES.

Johann Marx ·

Die berig sê nie of die “nuwe begroting” kleiner is as die “vorige begroting” nie? Dit bly verstommend dat ‘n munisipaliteit wat ‘n verlies maak allerhande “planne” het om te besnoei aan dienste, toerusting en bates….maar sowaar as vet SAL elke munisipale werker ‘n stewige verhoging en ‘n lekker bonus kry!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.