Munisipaliteit se reisuitgawes beloop R215 miljoen

Argieffoto (Foto: Thomas Breher/Pixabay)

Die Emfuleni- plaaslike munisipaliteit (Vanderbijlpark/Vereeniging) het meer as R215 miljoen aan reiseise spandeer. Die DA het Sondag gesê dié geld kon eerder aangewend word om die munisipaliteit se skuld by Eskom te betaal.

Die DA is baie besorg dat die ANC-munisipaliteit, wat reeds in ʼn finansiële verknorsing is, die afgelope vyf finansiële jare R215 550 060 aan reiseise spandeer het, het Kingsol Chabalala, DA-LP in Gauteng, gesê.

Lebogang Maile, Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, het die inligting onthul in ʼn skriftelike reaksie op die DA se vrae in die Gautengse wetgewer.

Volgens Maile is die volgende reiseise deur Emfuleni oorbetaal: van Januarie 2020 (R21 539 322), Junie 2019 (R36 051 927), Junie 2018 (R45 761 557), Junie 2017 (R38 029 590), Junie 2016 (R37 281 281) en Junie 2016 (R36 886 383).

“Dit is onaanvaarbaar dat die munisipaliteit buitensporige bedrae aan reis spandeer terwyl hulle ʼn vloot munisipale voertuie het wat gebruik kan word vir dienslewering,” het Chabalala bygevoeg. “Dit is ook kommerwekkend dat hierdie munisipaliteit steeds geld aan reiseise spandeer terwyl hy in die gesig gestaar word deur ernstige kontantvloeiprobleme.”

Chabalala het gesê dit is ook kommerwekkend dat dié bedrag geld aan reiseise spandeer is, gegewe die feit dat meeste van die gebiede waarheen beamptes moet reis, in onmiddellike nabyheid van mekaar geleë is.

“Die geld kon eerder aangewend word om skuld aan Eskom te delg, en aangesien Eskom beslag gelê het op die munisipaliteit se vloot, beteken dit dat die reiseise sal toeneem.”

Die DA doen ʼn beroep op Maila om reiseise in Emfuleni te beperk as deel van sy ingryping om die munisipaliteit te red. “Dit is hoog tyd dat die ANC-geleide Gautengse regering die inwoners van Emfuleni eerste plaas deur die raad te ontbind, aangesien dienslewering ineengestort het.”

Die DA sal verder druk plaas op Gautengse premier David Makhura en LUR Maile om die raad van Emfuleni te ontbind en te monitor hoe dié munisipaliteit belastingbetalers se geld verkwis, het Chabalala bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Anel ·

Nou wasrheen het hulle gereis? Het mos nie nodig om oorsee te gaan nie? Klim in staatsvoertuig en ry na vergaderings. Dit kan ook nie so vêr wees nie? Mors, mors, mors! Iemand anders betaal mos!

Wondermaarnet ·

Staatsvoertuie word gebruik om familie en vriende rond te ry vir inkopies en om by KFC te gaan wag in die ry.

Yvonne ·

Die mense het geen benul van syfers nie ……….10.00 en n 1 000 000 .00 het vir hulle dieselfde waarde

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.