Munisipaliteit skuld Eskom R700 miljoen

(Argieffoto: Steve Buissinne/pixabay)

Die Merafong- plaaslike munisipaliteit aan die Wes-Rand skuld Eskom nou al byna R700 miljoen.

Dié reusebedrag skuld is glo weens swak en onreëlmatige betalingspatrone deur die munisipaliteit.

Die nuutverkose burgemeester van die munisipaliteit, Nozuko Best, het tydens ʼn vergadering met die energieverskaffer onderneem om die berg skuld na hul beste vermoë af te betaal.

Eskom het reeds verlede maand vir die munisipaliteit ʼn rekening van meer as R28 miljoen gestuur, maar slegs R18 miljoen daarvan is betaal.

“Nietemin verwag ons om ʼn goeie werksverhouding met die munisipaliteit te hê,” sê Daphne Mokwena, ʼn bestuurder by Eskom.

“Hoewel die munisipaliteit onderneem het om ʼn betalingsvoorstel saam te stel wat ons ook sal hersien, sal ons help waar moontlik om die herhalende vertragings in betalings te verhoed en toesien dat die munisipaliteit se lopende rekening betyds betaal word.”

Die Merafong-munisipaliteit se agterstallige skuld, saam met dié wat deur ander munisipaliteite in Gauteng verskuldig is, het ook ʼn uitwerking op Eskom se likiditeit en volhoubaarheid.

“Die skuld bedreig op sy beurt Eskom se vermoë om sy finansiële verpligtinge na te kom,” sê sy.

Die Tshwane-metroraad het die afgelope tyd op verskeie wanbetalers in Pretoria, waaronder hotelle, winkelsentrums en verskeie staatsdepartemente, toegeslaan en hul krag summier afgesny.

Dít nadat verskeie ondernemings se rekeninge by Tshwane miljoene rande oortrokke is.

Die geld het egter kort nadat Tshwane sy skuldinvorderingsprogram van stapel gestuur het, ingerol en minstens R148 miljoen in agterstallige skuld is reeds betaal.

Die Stad Johannesburg dreig nou om dieselfde te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Surfer ·

Sny hul krag af sodat die gepeupel hul Munisipale kantore kan afbrand. Maklik.

Kokerboom ·

Hoekom laat ons die gemors toe? Hoekom laat ons die ANC ons kaap?
Wat is fout met ons?
Wat gaan ons daaromtrent doen?

Genis ·

Ons is slapgat, dis wat… polisties korrek wees… die kaders is mos die beskemde spesie… Jy mag niks se nie dans jy n rassis…

FM ·

Doet so voort. SNY!!!!!!!

Betaal en baie ander terreine is nie ‘n opsie vir ons mede landsburgers nie

Bytjienw ·

Skuld Jan-alleman R100 dan word sy krag afgesny en dan moet hy nog aansluiting betaal ook… Die ANC en sy bestuurspanne wil almal beboet wat nie betaal nie, maar dan betaal hulle self nie.

quartus ·

Wat gebeur is dit : die verbruikers betaal hulle elektrisiteit rekening maar die munisipaliteit gebruik die geld vir al lekker dinge in die lewe ipv om ESKOM te betaal.

Wondermaarnet ·

Hoe kom ‘n rekening so hoog? Daar moet van die begin af opgetree word as 1 maand se rekening nie vereffen is nie.

domheks ·

Dankie tog vir die nuwe burgemeester! Hoop hy is beter as sy voorganger!!
As daar nie by VBS bank onwettig bele was nie, sou dit nie so gelyk het nie.

Genis ·

En wie sluit weer die krag aan, vir wanbetalers, korrupte amtenare… Raak ook van hulle ontslae…

Martin ·

Die Merafong- plaaslike munisipaliteit aan die Wes-Rand is die BESTE hou so aan.

Andrew ·

Eish, niemand het hulle gesê om verniet krag aan die mense in die konstitusie in te skryf gaan go eindig nie.

VaalDonkie ·

Elke spaar sent wat ek het, spaar ek vir sonkrag. Ek kook en bad klaar met gas. Ek wil nie meer van Eskom afhanklik wees nie.

Alfred E Neuman ·

Elektrisiteitsgebruikers moet direk aan eksdom betaal, en die skelm munisipaliteite uitsluit as middelman.

Johanna ·

M A W….. ESKOM is in hierdie penarie omdat die munisipaliteite geld nie invorder nie of wanbestee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.