Munisipaliteit sleep Eskom hof toe oor afsny van krag

(Argieffoto: Twitter)

Eskom het sy besluit om krag aan die Letsemeng- plaaslike munisipaliteit vanaf 20 Februarie te sny, tydelik opgeskort. Dít nadat die munisipaliteit besluit het om die kragvoorsiener hof toe te sleep.

Eskom het verlede week Maandag aangekondig hy gaan die kragtoevoer na die dorpe Koffiefontein, Luckhoff en Petrusburg vir minstens 14 uur per dag sny. Die dorpe sou gevolglik elke dag van 06:00 tot 20:00 sonder krag wees.

Dit is weens die munisipaliteit se versuim om sy skuld aan Eskom te vereffen.

Die munisipaliteit skuld Eskom R38,5 miljoen.

ʼn Dag voor die kragonderbrekings sou intree, het Letsemeng Eskom gevra om die besluit tydelik op te skort om die munisipaliteit kans te gee om voor vandag (Woensdag) R5 miljoen van sy agterstallige skuld te betaal, het Stefanie Jansen van Rensburg, Eskom se woordvoerder in die Vrystaat, gesê.

“Eskom het ingestem tot die versoek wat gesteun is deur ʼn brief van die Vrystaatse tesourie vir finansiële hulp en het die besluit tot [vandag] uitgestel.”

Pleks daarvan om sy agterstallige skuld te delg, gaan Letsemeng Eskom se besluit nou in die hof betwis.

“Die munisipaliteit se besluit is kommerwekkend. Hy het besluit om ʼn duur proses in die hooggeregshof te volg, eerder as om sy skuld aan Eskom, wat R38,5 miljoen beloop, te begin verminder,” het Jansen van Rensburg gesê.

Die saak word op 5 Maart in die hof aangehoor. Die dorpe sal tot dan krag hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Pampoen ·

Ja dis goed. As hulle nie betaal nie, sny af. Maar wat van Soweto wat MILJARDE skuld?

Oujongvrou ·

So waar is die R38 miljoen wat ek aanneem die inwoners betaal het heen, as dit nie aan Eskom oorbetaal is nie. Maak weg met munisipale betalings en laat inwoners direk by eskom betaal. Of dwing almal om betaal krag in hulle huise te installeer.

Genis ·

So Jan Alleman wat betaal, elke maand, se krag word nou gesny… dis mos nou nie reg nie, of verbeel ek my? Dan moet die Mulslukkepaliteit aangekla word vir diefstal?

charmaine ·

Ek stem sny die wie nie betaal nie se krag en natuurlik is die geld in “verkeerde bankrekenings” in betaal

BoerSonderRoer ·

Gaan tel gerus die wit Afrikaanse mans wat daar binne in die munisipaliteit werk.

En voor ek gekruisig word, die regering doen dit elke dag in elke sweer van die samelewing.

Wondermaarnet ·

Eskom moet ophou ingee. Vat die munisipaliteit se lisensie weg om krag te verkoop. Hoe moeilik kan dit wees of is Eskom bang die nasie brand en breek als af?

Niklaas ·

Mens kry die indruk dat daar nie eers R 5 miljoen oorbetaal gaan of kan word nie. Nou is die ongemaklike vraag aan die munisipaliteit…..waar is al die geldjies heen ? Dit lyk asof daar nou vir tyd gespeel word met die hofsaak.

Frederik ·

Hier stink iets, Koffiefontein , Luckhoff en Petrusburg is maar klein dorpies. Hoe kan daar so baie geskuld word?

BoerSonderRoer ·

Klassieke geval van “ek skuld jou geld so ek is vir jou kwaad.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.