Munisipaliteit wil organisasie oor waterhulp vergoed

Gift of the Givers besig met hulpprojekte in die Oos-Kaap. (Foto: Gift of the Givers via Facebook)

Die Makana-munisipaliteit (Makhanda [voorheen Grahamstad]) in die Oos-Kaap het gesê hy wil die noodlenigingsgroep, die Gift of the Givers, vergoed vir waterhulp wat hulle in die gebied gelewer het.

“Die Gift of the Givers (GoG) het op uitnodiging na Makhanda gekom, omdat daar ʼn krisis was,” het Anele Mjekula, woordvoerder van die munisipaliteit, in ʼn verklaring gesê. “Hulle het water aan inwoners aan die oostelike kant van die dorp verskaf omdat daar ʼn probleem was by die James Kleynhans-waterbehandelingsaanleg en die munisipaliteit kon nie water verskaf nie. Hulle het noodsaaklike gebottelde water en voer vir vee gebring en ons gehelp om water na dele te versprei wat nie in daardie stadium water gehad het nie. Ons is baie dankbaar.

“Nadat hulle opgedaag en begin werk het, was daar gesprekke tussen die organisasie en beamptes van die munisipaliteit en hulle het boorgate in verskeie gebiede rondom die dorp begin sink. Ons probeer in hierdie stadium bepaal hoe ons hulle kan vergoed vir die werk wat hulle reeds gedoen het.”

Mjekula het bygevoeg beamptes van die departement van water en sanitasie, die munisipale infrastruktuurondersteuningsagentskap, die munisipaliteit en GoG het die werk geassesseer en die koste daarvan bepaal. “Hulle is besig om ʼn verslag saam te stel met ʼn volledige uiteensetting van die werk wat gedoen is en wat dit gekos het. Ons sal die organisasie vergoed vir die werk wat hulle gedoen het.”

Sy het gesê die munisipaliteit is jammer as daar enige misverstand was oor die proses. “Ons sal nie wil hê dat enige kwessies ʼn negatiewe invloed moet hê op die verhouding wat ons tot dusver met die GoG gebou het nie. Vergaderings duur voort tussen die betrokke belanghebbendes. Die volgende vergadering is vir 23 Mei 2019 geskeduleer.”

Maroela Media het vroeër berig Gift of the Givers het uit die droogtegeteisterde Makhanda onttrek, omdat ánder kontrakteurs nou vergoed gaan word vir werk van miljoene rande wat die organisasie sê hy reeds in die gebied gedoen het. Imtiaz Sooliman, woordvoerder van die organisasie, het gesê die Makana-munisipaliteit het GoG in Februarie gevra om met sy waterprobleme te help. “Die omvang van die probleem was veel groter as wat enigeen gedink het. Ons het ʼn reddingsplan saamgestel en dadelik begin daarmee.”

Volgens Sooliman het die organisasie die munisipaliteit ingelig dat dit nagenoeg R23 miljoen gaan kos om die dorp se waterprobleme op te los en dat staatsfinansiering nodig gaan wees. Die munisipaliteit het glo gesê die streek is tot rampgebied verklaar en dat Gift of the Givers vergoed sal word sodra rampfinansiering beskikbaar gestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Netta ·

Ek hoop iemand by die munisipaliteit word voor stok gekry vir sy of haar kortsigtige houding teenoor mense wat jou help in jou nood!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.