Munisipaliteite aanbeveel om regstappe teen VBS te doen

ʼn Konsultantfirma wat opdrag gekry het om ʼn forensiese ondersoek te doen het aanbeveel dat vier Noordwes-munisipaliteite wat in VBS Mutual Bank belê het, formele regstappe teen die bank moet doen in ʼn poging om die geld wat verlore is terug te kry.

Die Noordwes provinsiale regering het Sekela Xabanisa CA Inc (SKX) opdrag gegee om dié ondersoek van stapel te stuur en terug te rapporteer met bevindings en aanbevelings.

Die forensiese ondersoekers het aanbeveel die munisipaliteite moet formele regstappe teen VBS doen binne die toepaslike grense om te probeer om die geld wat verloor is terug te kry – of dit nou net deels of die volle bedrag sal wees, sal deur die administrateurs van die Suid-Afrikaanse Reserwebank bepaal word.

Die vier munisipaliteite in Noordwes het ʼn gesamentlike bedrag van R314 miljoen van belastingbetalers se geld in VBS belê.

Die ondersoekers het bevind Madibeng plaaslike munisipaliteit het R31 miljoen van hul voorwaardelike toelaag belê, Mahikeng R83 miljoen (waarvan R23 miljoen van die munisipale infrastruktuurtoelaag was en R60 miljoen van die munisipale aandeel) en Dr. Ruth Segomotsi Mompati‑distriksmunisipaliteit het R150 miljoen belê waarvan R100 miljoen van die streeksinfrastruktuurtoelaag, R25 miljoen van die billike aandeelvrye basiese dienste en R25 miljoen van die boufonds was.

Die Moretele plaaslike munisipaliteite het R50 miljoen van die 2017/18‑boekjaar se toelaag vir waterdienste-infrastruktuur belê.

Dié vier munisipaliteite het strydig met die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur in VBS belê aangesien VBS nie geregistreer was as ʼn bank ingevolge die Wet op Banke nie.

By die Dr. Ruth Segomotsi Mompati-distriksmunisipaliteit is die R150 miljoen se belegging gemagtig deur die munisipale bestuurder en die voormalige finansiële hoof sonder om die burgemeester te raadpleeg ingevolge die beleggingsbeleid van die munisipaliteit.

In Mahikeng het die geskorste munisipale bestuurder en die voormalige finansiële hoof die besluit geneem om R83 miljoen te belê.

Wat Moretele‑munisipaliteit betref, het die munisipale bestuurder en die voormalige finansiële hoof nie gehoor gegee aan artikel 11 van die munisipale regulasie waarvolgens die munisipaliteit alle redelike en omsigtige stappe moes doen wanneer munisipale fondse belê word nie.

By Madibeng plaaslike munisipaliteit het forensiese ondersoekers nie toegang gehad tot die uitkomste van die interne ondersoek wat deur die munisipaliteit van stapel gestuur is nie.

Dié munisipaliteite is ook versoek om dissiplinêre stappe te doen teen die beamptes wat geïmpliseer is.

Die provinsiale regering sal nou na verwagting alle geaffekteerde leiers saamroep vir verdere gesprekke oor die bevindings van die ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Chrisna ·

Daar is reeds gebrekkige dienslewering in RSM en skuld ons munisipaliteite Eskom etlike miljoene rande. In Vryburg het ons al vir n hele paar jaar “beurtwater”, kraters in die teerpaaie, rioolriviere in die strate, vullishope oral, om maar net n paar te noem.
Die persoon/e wat die R150 miljoen wederegtelik belê het, moet ook vervolg word. Dis n skreiende skande!

Andre ·

En wat van die wat die geld teen hulle beter wete daar bele het

Fryingfrog ·

Ek het gehoor dat van die staatspensioengeld ook in dié bank belê is. Is dit waar?

Annelize ·

Mahikeng Munisipaliteit het reeds ‘n dringende aansoek om VBS Bank te likwideer geloods wat 6 November 2018 in die Polokwane Hooggeregshof aangehoor word.

koos1 ·

Kan die inwoners ‘n kriminele klag lê? Lyk my die wil om die verantwoordelikes aan te kla, is maar min.

charmaine ·

Munisipaliteite bele geld wat eintlik gebruik moes word vir opgraderings, opbou, skoonmaak so die wat die geld bele het, het hulle die rente op daardie geld gekry? Hulle moet ook maar dan aangekla word.

ne ·

Merafong het R50 miljoen belê, En R20 miljoen aan Nkandla geskenk. Intussen lyk die strate soos myngate en die riool loop in die strate. Wonder of Des van Rooyen in daai tyd nog burgemeester hier was? Kan iemand datums gee?

Alida ·

Die persoon wat die knoppie gedruk het om die belegging goed te keur by die stafsraad moet persoonlik aangekla word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.