Munisipaliteite gemaan om Eskom-skuld te betaal

Argieffoto: GCIS

Argieffoto: GCIS

Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, het Woensdag ʼn beroep op munisipaliteite gedoen om hul Eskom-skuld te vereffen.

“Dit is onaanvaarbaar dat landsburgers moet ly, veral gedurende die feesseisoen,” het Brown gesê. “Munisipaliteite moet verantwoordelikheid aan die dag lê en dié met uitstaande skuld moet Eskom dadelik nader om ooreen te kom hoe hulle dié geld gaan betaal.”

Die minister se uitsprake kom ʼn dag nadat inwoners van vier munisipaliteite in die Oos-Kaap tegelykertyd kragonderbrekings ervaar het aangesien hulle gesamentlik R173 miljoen aan Eskom skuld. Eskom het Dinsdag gesê hy sal voortaan, as ʼn laaste uitweg, kragonderbrekings tussen spitstye vir nege uur elke dag toepas, aangesien dié munisipaliteite nie op sy skriftelike waarskuwings gereageer het nie.

Nadat Phumulo Masualle, die Oos-Kaapse premier, ingegryp het, het Eskom die kragonderbrekings opgeskort en ʼn “aansienlike bedrag” van die skuld is in Eskom se bankrekening inbetaal.

Khule Phasiwe, woordvoerder van Eskom, wou nie onthul presies hoeveel geld aan die kragvoorsiener betaal is nie, maar het gesê dit is “miljoene rande” en dat nog ʼn betaling teen die einde van die maand verwag word. “Ons sal hulle by die ooreenkoms hou. Die bal is nou in hulle hande,” het hy gesê.

Indien die volgende betaling nie teen 31 Desember in Eskom se bankrekening reflekteer nie, sal die inwoners van die vier munisipaliteite weer kragonderbrekings ervaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peet Schabort ·

Té lekker as ‘n ander kader jou skuld betaal. Só sal niemand ‘n les leer.

GES ·

Die afgelope 10 dae by Sodwana bay was die kragtoevoer baie wisselvallig. Die rede wat aangevoer word, is ‘n foutiewe transformator maar dit het eerder gelyk asof beurtkrag toepas word. Gebeure soos hierdie omskep ‘n vakansie in ‘n nagmerrie en niemand probeer iets aan die saak doen. Trots Suid-Afrikaans !

Realis ·

Hier is nou die ideale geleentheid vir die nuwe munisipale minister, Brian van Rooyen (of is dit nou David) om sy staal te wys. Ek is seker dat die probleem gou opgelos sal word. Hy het immers die prez se “blessing” as ‘n baie bekwame amptenaar.(Kyk net watse groot impak hy gemaak het op die rand). Dis nie sommer enige hierjy wat finans minister kan word nie (al was dit kortstondig). En minister, terwyl jy besig is om die “issue” aan te spreek, verduidelik tog asseblief vir die arme belasting betalers waarom hulle moet ly vir die bekwaamhede van die plaaslike regerings. Ek is seker die prez sal jou kan uithelp met ‘n paar bokke om die skuld te delg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.