Munisipaliteite in krisis – Ramaphosa

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Twitter / Cyril Ramaphosa)

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdag tydens die Menseregtekommissie (MRK) se beraad oor plaaslike regering in Sandton erken dat munisipaliteite in Suid-Afrika ’n ernstige krisis beleef.

Ramaphosa meen dis uiters kommerwekkend dat onlangse verslae van die ouditeur-generaal (OG), nasionale tesourie en die departement van samewerkende regering (Cogta) daarop dui dat die meeste munisipaliteite besig is om in duie te stort.

Volgens die nasionale tesourie is tweederdes van Suid-Afrika se 257 munisipaliteite in ’n finansiële verknorsing, met slegs 41 (16%) wat ʼn skoon oudit in die afgelope boekjaar ontvang het.

Dít beteken dat talle munisipaliteite nie in staat is om basiese dienste te lewer nie, insluitend die bou en instandhouding van klinieke en hospitale en die herstel van paaie.

“Politieke twis en binnegevegte, gebrek aan vaardighede, die versuim om wetgewing na te kom, swak bestuur, gebrek aan aanspreeklikheid en sogenaamde superkorrupsie veroorsaak onstabiliteit in munisipaliteite en hinder die verskaffing van dienste.

“Dit is ’n krisis. Om met die huidige trajek voort te gaan, is nie lewensvatbaar of volhoubaar nie.” Ramaphosa het voorts gesê dat wangedrag binne munisipaliteite ʼn “bedreiging vir die grondwetlike bestel” is.

Dit ondermyn nie net menswaardigheid nie, maar is ook ʼn bedreiging vir ekonomiese groei en beleggings in die land.

“Dit is ’n bedreiging vir ons grondwetlike bestel, want plaaslike regering is in baie opsigte die belangrikste regeringsfeer.

“Die toename in diensleweringsbetogings, waarvan baie gewelddadig word, is ’n barometer van openbare ontevredenheid oor dienste wat nie gelewer word nie.

“Wanneer plaaslike regerings misluk, is die uitwerking daarvan verreikend en die gevolge vernietigend.”

Die president benadruk egter dat hoewel sosio-ekonomiese omstandighede en werkloosheid ʼn groot rol in dié voorvalle speel, kan brandstigting, plundering, geweld en die beskadiging van eiendom nooit geregverdig word nie. In die lig van dié krisis gaan die regering glo nou meer as ooit daarop fokus om stand van munisipaliteite te verbeter.

“Doeltreffende en bekostigbare dienslewering kan beteken dat die mense ʼn lewe van waardigheid lei, soos deur ons Grondwet belowe, teenoor ʼn lewe van ellende en ontbering.

“Wanneer plaaslike regering funksioneer en basiese dienste soos water, sanitasie, onderwys, elektrifisering en gesondheidsorg doeltreffend en regverdig versprei word, verbeter dit ook mense se lewensgehalte. Ondernemings sal floreer en daar sal ekonomiese groei wees.”

Daar moet terselfdertyd erken word dat die bereiking van finansieel lewensvatbare en volhoubare munisipaliteite nie verwesenlik kan word in ’n omgewing waar wanbetaling vir dienste, beide deur inwoners en ondernemings, verskans geraak het nie.

“Een van die kwessies waaraan ons hoop hierdie beraad ernstige aandag sal gee, is om ons munisipaliteite te help om sosiale ooreenkomste met inwoners te ontwikkel om ’n kultuur van betaling vir dienste te kweek.”

Terselfdertyd moet gemeenskappe sien dat munisipaliteite funksioneer en hul belange op die hart dra. Dit sal glo ook help om probleme met diefstal en die beskadiging van infrastruktuur te oorkom.

Ramaphosa sê daar is ondanks vele uitdagings reeds vordering in stabiele munisipaliteite en dat dinge ook kan verbeter deur die ontplooiing van multidissiplinêre spanne en die ontwikkeling van nuwe modelle om munisipaliteite by te staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Genade, hierdie man is darem skerp!!!

007 ·

Praat, praat en praat. Hulle doen niks daaraan nie. Intussen moet ons soos verwilderde hase rondhardloop en soek na iemand wat iets kan doen.

Danie ·

Hoeveel water moet nog die see inloop dis net turn a blind eye sindroom .Selfs die hond in die erf voel die agteruitgang aan.Tydens politieke vergaderings bespreek hulle verskonings vir die publiek.Wie paai hulle.

Samuel ·

CR maak weereens baie geraas en niks gaan verander nie. Munisipale bestuur is ‘n gemors net soos die nasionale bestuur. Baie burgermeesters leer van die groot indoena.

T-Man ·

Wow Ramapada en jy kom dit nou eers agter? Was jy in denial voorheen…?

Lourens CFG ·

Mens kan net vir hom sê “Duhuh”.
So dig as kan kom.

Anel ·

Bla, bla,bla. Vertel ons iets wat ons nie weet nie, jou skelm.

Chris dupreez ·

Is dit nou voorbrand om munisipaliteite vorentoe onder die nasionale regering te plaas en die anc daaroor beheer kan hou ?

Pannies ·

Bla Bla Bla en wat gaan jy daaraan doen.
Munisipaliteite leer by die sentrale regering hoe om net vir hul eie sakke te sorg.

Rocco ·

Superkorrupsie is ‘n nuwe term – uitgedink en toegepas deur die ANC.

Cherokee ·

Die hele ‘erkenning’ van Ramasomething klink eerder soos ‘n blote erkenning dat hy dit weet.

Christine ·

Natuurlik het hy dit geweet vir die afgelope 28 jaar al!

Watsenaam ·

“Die toename in diensleweringsbetogings, waarvan baie gewelddadig word, is ’n barometer van openbare ontevredenheid oor dienste wat nie gelewer word nie.” WOW wat n brijante opmerking, mnr die prez.10/10 ***

Dries ·

Moenie jou kaders alleen beskuldig nie man. ‘N vis vrot van sy kop af. Jy stel die korruptes aan en dan stel hulle weer korruptes aan. Kan jy dit nie self uitwerk nie. Nee jy weet presies wat jy doen en dit pas jou . Jy is verantwoordelik vir hierdie gemors

Snowball ·

Dié wat betoog betaal boggerol. Die wat korrup is hou die sleutel vir die geldkas. En tussen dié twee pole, verdwyn alles wat die betalers maandeliks moet hoes – ‘n eenvoudige verklaring vir die katastrofe.

Fanie ·

Man van baie woorde maar geen dade nie. Ons almal weet hoekom dit gaan soos dit gaan. Korrupsie, onbevoegdheid en bowenal geen “accountability” nie.

Sarel ·

My genade….na jare se swak Ouditverslae en mors van geld k betogings en swak dienslewering kom hulle dit nou eers agter…WOW..

annie ·

Verontskuldigende gewetenloosheid vier hooggety en in Desember 2022 sal dit maar net weer net ‘n ‘ja’ kry totdat SA platgery en afgebrand is. Etiek beteken deesdae wat ‘n mens reken hom/haar toekom en ten alle koste gryp. Niemand wil meer hoor van Bybelse waardes en straf vir ongehoorsaamheid nie…. Watter straf? Wat anders bly dan oor as ons nie respek en vrees vir die Skepper het nie? Die Duiwel regeer. Die uitloop kan net sleg wees.

Staal ·

Sjoe maar jy is darem slim!!! Vertel ons iets wat ons nie weet nie. Wragtag nie veel beter as ou gieterkop nie.

Di ·

DIT Mnr President, is alles jou en jou ANC Kaders se skuld! Julle korrupte spul het hierdie korrupte kaders in die poste aangestel. Julle moet pa staan vir die gemors wat orals in die land aangaan. Dis skokkend dat hierdie spul nie ‘n les leer uit al hierdie korrupte aanstellings nie, hulle doen dit nog STEEDS. Kyk maar net om jou Rampie, die land is verwoes!!!!!!

Wondermaarnet ·

Ne? CR het jy nog nie agter gekom die HELE land is in ‘n krisis nie? En dit….. sedert 1994!

Lillian ·

Dié regering en hul trawante is nie gepla oor die toestand van enigiets anders in hierdie land, behalwe hul bank balanse nie.

Mariana ·

Laat mens lag. Die gepraat raak nou wragtig eentonig. Die uitmekaarval van munisipaliteite is hoe dit lyk as mens onopgeleides vir so ‘n reusetaak aanstel. Onkundiges vernietig. Korruptes vernietig. Meeste van die bestuurders gryp net hul maandelikse salaris en so klein bietjie meer vir hul beursies en doen niks verder nie en hul minions sien dit en doen presies dieselfde. Die land is deurspek van hulle en dit is inderdaad die voosbetaalde belastingbetalers wat die gemors uit die vuur moet krap. Swak, swak, swak

Marelize ·

Ons weet dit al vir jare – niks nuut nie – bewys my verkeerd en doen iets daar omtrent.
Behalwe praat natuurlik.

Peter ·

Dit het jou lank geneem om te snap ou tjom, jy is ‘n regte bright spark

Wildemien ·

Onder watter klip bly die ou?
Cyril, die OG se verslag seg ELKE jaar so. Moet ons regtig glo dis die 1ste keer wat jy hiervan bewus word?

Karina ·

Hierdie munisipale ellende gaan al vir jare aan, nou word hy wakker? Ramparra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.