‘Munisipaliteite moet omgewing help bewaar’

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Tumisu/Pixabay)

Hoewel Suid-Afrikaners Maandag aan die plaaslike verkiesing deelgeneem het in die hoop dat munisipale kwessies soos elektrisiteits-, water-, werks- en behuisingsprobleme deur hul gekose partye opgelos sal word, moet die uitwerking van klimaatsverandering op dié kwelpunte nie uit die oog verloor word nie.

Doelwitte om die tempo van aardverwarming te vertraag en die gevolge van klimaatsverandering te takel, moet ook deur munisipaliteite by diensleweringsplanne ingereken word.

Só het pres. Cyril Ramaphosa Dinsdag in sy weeklikse nuusbrief gesê.

Ramaphosa meen die ooreenkomste wat wêreldleiers vandeesweek by die COP26-klimaatberaad in Glasgow, Skotland, bereik, het ʼn invloed op die daaglikse lewe van alle landsburgers.

“Die uiterste weeromstandighede wat ons weens klimaatsverandering ervaar, beïnvloed die gesondheid, lewe en lewensbestaan ​​van mense in elke land, insluitend ons eie.

“Ongunstige weer soos droogtes beïnvloed ons reeds skaars watervoorrade, beperk toegang tot water en veroorsaak wydverspreide oesmislukkings wat ons voedselsekerheid bedreig. Besoedelde lug en water het ook ʼn invloed op menslike gesondheid.”

In die lig hiervan, sê Ramaphosa, het Suid-Afrika – waaronder plaaslike regerings –  ʼn gedeelde verantwoordelikheid om klimaatsverandering en aardverwarming te prioritiseer.

“Op plaaslike regeringsvlak moet ons klimaatsveranderingsoorwegings in diensleweringsbeplanning integreer – soos die ontwerp van menslike nedersettings, energiebestuur deur sonkragwaterverhitting vir lae-inkomste-huishoudings, en in die gebruik van hernubare energie in munisipale water- en afvalwaterinfrastrukture.” Ramaphosa sê verskeie munisipaliteite, veral in KwaZulu-Natal, gebruik reeds verskillende hernubare energiebronne, soos vullisterreingas om elektrisiteit op te wek, asook biomassastelsels, biogas en kleinskaalse hidrokrag.  “Die Stad Kaapstad het verlede maand ook die eerste fase van ʼn drywende sonkragaanleg by ʼn afvalwatersuiweringsaanleg bekendgestel. “Onlangse wysigings aan elektrisiteitsregulasies wat munisipaliteite toelaat om hul eie krag te koop en op te wek, sal na verwagting mettertyd tot ʼn groter opname van hernubare energietegnologie lei.” Ramaphosa sê lugbesoedeling bly ʼn groot bekommernis in ʼn aantal kwesbare gemeenskappe, veral dié wat in nywerheidsgebiede geleë is.

Hy sê Suid-Afrika sal egter voortgaan met pogings om ʼn groen ekonomie te vestig, wat die groter gebruik van hernubare energie in elektrisiteitsopwekking insluit, asook die gebruik van groen tegnologieë in water- en afvalbestuur.

“Omgewingsbewaring en klimaataksie het die potensiaal vir nuwe sakeontwikkeling en grootskaalse werkskepping.

“Gemeenskappe wat veiliger, gesonder en veerkragtig ten opsigte van klimaatsverandering is, is die sleutel tot ons gemeenskaplike toekoms. Ons kan almal ʼn verskil maak deur verantwoordelike besluite te neem, of dit nou is om ons vullis te herwin, volhoubare voedselbronne te kies, water te bespaar, of ons gemeenskappe skoon te hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Elmarie ·

Geagte mnr die president, die munisipaliteite kan nie eers geld wat inkom “bewaar” nie, hoe kan jy nou soveel stres op hul sit deur te verwag hulle moet die omgewing bewaar? Kyk maar oral om jou rond hoe vrot dit gaan met besoedeling van riviere damme, strande ag…die lys is lank. Jy sê maar weer net iets om iets te sê.

Di ·

Suid-Afrika se pogings om ʼn groen ekonomie te vestig sal NOOIT slaag nie. Weens die korrupte munisipaliteite wat deur ANC kaders bestuur word, bestaan die woord nie. Als word besmet met riool wat orals uitloop tot in die riviere want niks word in stand gehou nie. Verder verstaan “our people” absoluut NIKS van natuur bewaring nie, loop en strooi rommel orals, besoedel die riviere en vernietig die infrastruktuur.

Samuel ·

Blah, blah, blah. Nou het CR sy eier gelê. Mnr. Ramaphosa, dink jy vir een oomblik dat ” our people” enigiets kan bewaar?

Pieter ·

So praat die president wat skatryk geword het uit steenkool, besoedeling en omgewingskade.

Charles ·

Kom ons begin eerste met die basiese gebruik van ń asblik..

Sarel ·

Julle Munisipaliteite is Korrup en Bankrot…wanneer gasn die boodsksp julle bereik

Swerwer ·

Almal weet dit reeds. Die feit is net dat niks in ons land bereik kan word nie, omrede daar nie meer RESPEK en DISSIPLINE is nie. Die landburgers kan nou nie eens beheer word nie.

Pietertjie ·

Munisipaliteite kan nie eens die belastingbetalers se se geld bewaar nie, hoe gaan hulle die natuur bewaar?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.