Munster hou die silwerware in Kaapstad omhoog!

Munster is die VRK-kampioenspan! (Foto: Hansie Linde)

Ná 80 minute se klipharde spel op die DHL-stadion kon die Stormers nie daarin slaag om hul tweede titel op ʼn streep in te oes óf om vir Steven Kitshoff ʼn lekker afskeidsgeskenk te gee nie.

Munster het die Kapenaars met 19–14 geklop om nóg ʼn uitspeelwedstryd weg van die huis te wen. En hierdie een was die belangrikste van die hele lot: die eindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap.

Manie Libbok het weliswaar die eerste drie van die kragmeting gedruk toe hy ʼn wilde aangee onderskep het, maar Munster se voorspelers het onmiddellik met ʼn drie van hul eie teruggeslaan.

Manie Libbok het die eerste drie van die wedstryd gedruk, maar die Stormers se vreugde was van korte duur. (Foto: Hansie Linde)

Soos wat die helfte gevorder het, het die besoekers algaande die oorhand begin kry. Conor Murray se taktiese skopwerk was strate beter as enige van die tuisspanspelers se probeerslae en Munster het die duisende Stormers-ondersteuners begin stil speel.

Ná 20 minute se spel het die Kapenaars ʼn voorsprong van twee punte geniet, maar Munster was beslis op die voorvoet.

Benewens Murray se poppemeester-skoppies, het die Iere ook baie meer van die bal gesien en die Stormers moes een aanvalsvlaag ná die ander in die kiem probeer spoor.

Intussen is twee Munster-drieë ook nie toegeken nie, maar ʼn vlieënde Calvin Nash het toegesien dat Munster ʼn rustydvoorsprong van 12–7 geniet het.

Die Stormers het inderdaad beter in die tweede helfte vertoon en Deon Fourie se driedrukvaardighede het saam met Libbok se skopvoet gesorg dat hulle weer die voortou geneem het.

Maar vinnige hanteerwerk en ʼn begeesterde John Hodnett het in die doodsnikke van die wedstryd die momentumpendulum weer in Munster se rigting geswaai.

En daar het dit tot die einde van die kragmeting gebly.

In ʼn neutedop het die Iere die drukkokersituasie van ʼn belangrike uitspeelwedstryd beter as die Stormers hanteer, terwyl daardie taktiese skoppies in die eerste helfte die tuisspan in sy spore gestuit het.

Hoewel Kitshoff nie sy Stormers-loopbaan met nóg ʼn trofee kon afsluit nie, sal hy na Ulster met goeie herinneringe van sy tyd in Kaapstad vertrek.

Die Stormers het hierdie seisoen weer eens skitterrugby gespeel. Maar vandag was Munster net beter.

  • Puntemakers:

Munster: Drieë: Diarmuid Barron, Calvin Nash en John Hodnett. Doelskoppe: Jack Crowley (2).

Stormers: Drieë: Manie Libbok en Deon Fourie. Doelskoppe: Libbok (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frans ·

Die instromomg van inyernasionale spelers verhoog die gehalte vab rugby ib die Noordelike halfrond se klubs met diep finansiële sakke maar nadeling vir plaaslike rugby.Plaaslik gaan die gehalte agteruit en vir my is dit ‘m slegte teken as net een van die sg grotes ;n eindstryd internasionaal kan haal.
Kan ‘n mens werklik trots wees as jy moet staatnak op ‘n anderland se spelers om ‘n kompetisie te wen en is dit maar nie ‘m aanduiding hoe groot tekort daar aan plaas;ole talent en ontwikkeling is.

Frans ·

Die instrommg van inyernasionale spelers verhoog die gehalte van
n rugby ib die Noordelike halfrond se klubs met diep finansiële sakke maar nadeling vir plaaslike rugby.Plaaslik gaan die gehalte agteruit en vir my is dit ‘m slegte teken as net een van die sg grotes ;n eindstryd internasionaal kan haal.
Kan ‘n mens werklik trots wees as jy moet staatnak op ‘n anderland se spelers om ‘n kompetisie te wen en is dit maar nie ‘m aanduiding hoe groot tekort daar aan plaas;ole talent en ontwikkeling is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.