Musiekgenie kry toe eie klavier

Jason Haas, die 15-jarige klaviergenie van Springs in Gauteng, se droom om sy eie klavier te besit is bewaarheid. Dit danksy ʼn paartjie van Sandton wat hul vleuelklavier aan hom geskenk het.

Jason het ongeveer ʼn maand gelede – sonder sy ma se medewete – ʼn skarefinansieringsveldtog op die been gebring om hom te help om ʼn klavier van sy eie te besit.

“Ek weet my ma doen altyd haar bes en ek wou nie verdere druk op haar plaas nie. ʼn Klavier is ongelooflik duur, en om my ma te vra om vir my ʼn klavier te koop, was net nooit ʼn opsie nie,” het die geesdriftige seun vroeër aan Maroela Media gesê.

Hy speel al van vierjarige ouderdom klavier en kon gou ingewikkelde musiekstukke speel, sonder dat hy bladmusiek kon lees. Omdat sy ma egter die enigste broodwinner is, kon hulle nog nooit self ʼn klavier bekostig nie.

Talle barmhartige samaritane het intussen hande bymekaar gesit om die tiener se droom te verwesenlik en byna R14 000 is vir Jason op BackaBuddy ingesamel. Dit skiet egter heeltemal tekort vir ʼn tweedehandse swart Middleford-vleuelklavier wat hom ongeveer R150 000 uit die sak sou jaag.

Clinton Berry en sy vrou, Sheena, het egter kort daarna op Jason se skarefinansieringsveldtog afgekom en besluit om hul klavier aan hom te skenk.

Die egpaar het op 24 Februarie die klavier, wat al jare in hulle huis staan, amptelik aan Jason oorhandig.

“Ek en my vrou het lank geworstel oor wat ons met die klavier moet doen. Ons het gedink ons moet dit dalk verkoop, maar toe ek op Jason se skarefinansieringsveldtog afkom, en dit met my vrou bespreek, het ons dadelik geweet dat dit die regte ding is om te doen,” vertel Berry.

Hy sê hulle hoop dat Jason nou sy passie van hier af voluit sal kan uitleef en dat al sy musikale drome en aspirasies waar sal word.

“Dit was vir ons ʼn groot plesier om die klavier aan iemand te oorhandig wat al jare daarvan droom en dit regtig nodig gehad het. Musiek is ʼn universele taal en ek hoop dat Jason nou op ʼn daaglikse basis die klavier kan gebruik om sy musikale drome uit te leef.”

Clinton Berry en sy vrou, Sheena, het op Jason se skarefinansieringsveldtog afgekom en besluit om hul klavier aan hom te skenk. (Foto: Verskaf)

Leanne sê sy was stomgeslaan oor die groot geskenk en hoe God in haar kind se lewe te werke gaan. “Ek was baie emosioneel en dankbaar dat iemand gevoel het dat hulle dit vir Jason wil doen… ek het geweet dit was die guns en seën van God.

“Sedert hy die klavier gekry het, speel hy elke dag, en ek kan reeds hoor hoe hy verbeter. Hy is nou sterk op pad om ʼn klaviermeester te word.”

Sy weet sommer die klavier gaan ʼn baie belangrike rol in Jason se lewe speel. “Dit is amper asof hy en die klavier beste vriende is,” skerts sy.

Jason sê hy het nooit gedink dat iemand ʼn vleuelklavier aan hom sal skenk nie.

“Ek was in absolute skok toe ek die eerste keer die nuus kry, ek kon dit amper nie glo nie… Woorde kan nie beskryf hoe verheug en oorweldig ek oor dié groot geskenk is nie.

“Ek het net dadelik besef dat God in merkwaardige maniere werk en het Hom onmiddellik vir hierdie ongelooflike geskenk bedank.”

Jason het die klavier as ʼn groot hoogtepunt in sy musikale reis beskryf en sê dit is ʼn beloning vir sy geduld, hoop en geloof. “Hierdie klavier verteenwoordig al my gebede oor die afgelope paar jaar. Ek het regtig ʼn klavier nodig gehad, ek het dag na dag daarvoor gebid – en God het voorsien.”

Hy wil nou YouTube-inhoud begin maak, meer oefen en sal graag sy eie liedjie wil komponeer.

(Foto: Verskaf)

Volgens Jason sal hy die fondse wat op BackaBuddy ingesamel is nou gebruik om na orkesoefeninge en konserte te reis, om na sy nuwe instrument om te sien en om klavierlesse te betaal.

Jason, sy ma en sy jonger suster. (Foto: Verskaf)

Leanne vertel dat Jason se nuutgevonde musikale bate boonop die weg gebaan het vir bykomende geleenthede.

“Hy het verlede week ook ʼn klawerbord met ʼn staander en ʼn stoel by die Drakensberg-seunskoor naby Winterton in KwaZulu-Natal ontvang, toe hy saam met die seunskoor in ʼn konsert opgetree het.

“Dit was ʼn belewenis om te sien hoe hy saam met die seunskoor optree. Hulle was asemrowend. Dit was absoluut fenomenaal. Ek het regdeur die vertoning hoendervleis gekry.”

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.