Musiekkonserte ten bate van Jannie Moolman

Jannie Moolman Foto: Facebook

Jannie Moolman Foto: Facebook

‘n Groot hoeveelheid top Afrikaanse kunstenaars trek op Woensdagaand 21 Mei saam in onderskeidelik Pretoria en Kuilsrivier vir twee gelyklopende musiekkonserte ten bate van die beseerde tenoor Jannie Moolman.

Dit wissel van die veteraan-liedjieboer Anton Goosen, operaster Zanne Stapelberg en rock-diva Amanda Strydom in die Suide, tot trefferkonings soos Theuns Jordaan, Bobby van Jaarsveld en Riana Nel in die Noorde.

Moolman is op 5 April tydens ʼn ramparty by ʼn restaurant in Hartbeespoort beseer. Inligting oor die voorval is nog skraps.

“Die Son sal weer Skyn-konserte (die titel van ‘n onlangse trefferballade van Moolman) is spontaan gereël as omgee-konserte om vir Jannie beterskap toe te wens,” het Hetta Saunderson, die nasionale koördineerder van die projek en eienaar van M4 Events, in ‘n verklaring gesê. “Die volle opbrengs van die konserte gaan daarvoor om hom te ondersteun vir ‘n verlies aan inkomste terwyl hy aansterk.”

Kaartjies is vanaf Vrydagmiddag op Computicket beskikbaar teen R120 per persoon en R60 vir skoliere. Die konsert in Pretoria vind om 19:00 by die Choose Life Church in Moreletapark plaas. Bok van Blerk, Theuns Jordaan, Bobby van Jaarsveld, Karlien van Jaarsveld, Jay, Dozi, Corlea Botha, Riana Nel, Arno Jordaan, Jak de Priester, Matthys Roets, Monique, Willem Botha en Liza Bronner sal by dié konsert optree.

Die Kaapse konsert vind ook om 19:00 plaas by die Oase Ouditorium in Rouxville, Kuilsrivier. Wicus van der Merwe, Danie Niehaus, Amanda Strydom, Anton Goosen, Zanne Stapelberg, Minette du Toit-Pearce, sangers van Artscape Opera onder leiding van Albert Horne, Pedro Kruger, Broers, Waldo Lotz, Andries Vermeulen, Dowwe Dolla, Louis Loock, Sarah Theron, Desmond Wells en Schalk Joubert sal by hierdie konsert te siene wees.

“Dit is weereens ‘n bewys dat die land se Afrikaanse kunstenaars vir mekaar omgee en almal tree kosteloos op,” het Saunderson bygevoeg. “Van hulle, wat weens ander verpligtinge nie beskikbaar is nie, het reeds hul beste wense of selfs bydraes vir Jannie gestuur. Jannie maai wat hy gesaai het, want elke keer as daar so ‘n inisiatief is, om iemand te ondersteun, meld hy eerste aan.”

Volgens haar word interessante konserte van top gehalte verwag met twee van die bedryf se uitstaande musiekregisseurs Devereaux van der Hoven (Pretoria) en Janine Neethling (Kuilsrivier) betrokke. Die programkoördineerders is die ervare Ronel Brink (Pretoria) en Pedro Kruger (Kuilsrivier).

Lees ook:
Jannie Moolman haal self asem
“Onwaarhede” oor Jannie Moolman versprei
Jannie Moolman se derde operasie ‘n sukses
Jannie Moolman ondergaan gesigoperasie
Jannie Moolman weer geopereer
Video: Jannie Moolman steeds in koma
Jannie Moolman kritiek ná val

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Christelle ·

Is dit waar dat die konsert v Jannie Moolman in Kaapstad more aand gekanselleer is?

Sune van Heerden ·

Dagsê Christelle,

Ja, die konsert is definitief gekanselleer.

Groetnis
Suné van Heerden
namens Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.