Musiekprofessor van Rosestad sterf

Prof. Deon Lamprecht (Foto: Facebook)

Prof. Deon Lamprecht (71), oudhoof van musiek aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), is Maandagoggend in ʼn hospitaal in Hermanus in die Wes-Kaap oorlede. Hy het die afgelope vier jaar met sy gesondheid gesukkel.

Deon was langer as 30 jaar ʼn groot naam in musiekkringe in Bloemfontein. Hy was van 1974 tot sy aftrede in 2005 by die UV se musiekdepartement betrokke. Hy en sy vrou, Gerda, het ná sy aftrede in Bredasdorp gaan woon.

Hy het in 1994 hom as professor bekwaam en was vir 11 jaar die hoof van die UV se musiekdepartement.

Volgens Deon se broer, Gert Lamprecht, ʼn afgetrede chemiedosent aan die UV, het Deon ook die UV-, Pro Ecclesia- en die Alumni-kamerkoor aan die universiteit afgerig. Hy was ook vir ʼn kort rukkie by die Drakensberg-seunskoor betrokke.

Deon het oor die jare ook self agter die orrel ingeskuif en konsertuitvoering nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in die buiteland gelewer. Hy het selfs ná sy aftrede ʼn paar keer sy vingers geknak en opgetree.

Volgens Gert het sy broer van kindsbeen af tuis gevoel agter die klawers. “Toe Deon ʼn kind was, het my pa-hul al gesien hy het ʼn aanleg vir musiek en hulle het vir hom ʼn klavier gekoop. Hy was deurentyd besig met musiek, tot kort voor sy dood,” vertel Gert.

Gert vertel breëbors hoe uiters toegewyde, begeesterde en konsensieuse dosent Deon was. “Sy studente was mal oor hom en praat tot vandag oor hom.”

As Deon nie in sy akademiese milieu floreer het nie, het hy graag tyd saam met sy familie deurgebring, vertel Gert.

“Hy was familievas en was ʼn voorbeeld vir sy kinders. Hy het ʼn vlekkelose lewe gelei.”

Deon word oorleef deur sy vrou en vier kinders, Gideon Lamprecht, Gerhard Lamprecht, Louise van den Berg en Daleen Lamprecht.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Toy

My innige meegevoel aan die gesin en familie.

Papsak

Sterkte Vir familie

Samuel

‘n Baie mooi, hartseer storie te midde van al die geweld, moord en doodslag. Innige simpatie met sy naasbestaandes.