Musiekvriende, familie neem afskeid van Theuns Jordaan

Theuns Jordaan se gedenkdiensbrief. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Kollegas, vriende en familie het Vrydag by die NG Moreletapark-gemeente in die ooste van Pretoria byeengekom om afskeid te neem van die geliefde Afrikaanse musikant, Theuns Jordaan.

Jordaan het verlede Woensdag in die ouderdom van 50 sy stryd teen leukemie verloor.

ʼn Emosionele Willie Jordaan, Jordaan se pa, is deur die sangeres Juanita du Plessis, haar man, Doepie, en die sangeres Cordelia ondersteun.

Willie het ook die bedankings behartig en ʼn roerende huldeblyk aan sy seun gelewer.

Jordaan se ma, Maryna, woon in ʼn versorgingsoord in Bethulie in die Vrystaat en het nie die diens bygewoon nie. Jordaan se enigste suster, Linda, het in Bethulie haar ma bygestaan.

“Ek en Maryna het ʼn seun, Theuns, en hy is en was die son in haar lewe, haar alles, haar witkop-blouoog-seun. Haar alles. Net ʼn vrou met ʼn seun weet waarvan ek praat. Niemand het nog daardie spesiale “magic” iets [tussen ʼn ma en seun] probeer beskryf of vertel hoe dit is nie. Daai ma vat jou nie tot diep in haar hart nie, maar sy gee nie om wie hy is nie – hy is haar seun,” het Willie gesê.

Hy het homself en sy seun beskryf as introverte wat soos ekstroverte geleef het.

“Almal van ons het ʼn klein plekkie diep in ons harte en min van ons laat ooit iemand in daai plekkie toe. My vrees was dat Theuns nooit iemand gaan kry in daai plekkie van hom nie. Nooit iemand daar laat inkom nie. Vrydag kom daar ʼn meisietjie na my toe, ʼn witkoppie, en sy vra om my te sien en toe besef ek met groot dankbaarheid, die afgelope agt jaar was daar so iemand in daai plekkie in sy hart. Iemand wat dieper ingekruip het daar as selfs ek en Maryna.”

Hy het ook homself en sy seun as soldate beskryf. “Groot was my vreugde toe Theuns in standerd ses sê hy gaan kadetkamp toe en blom toe hy terugkom.”

Jordaan se musiekvriende Dozi, Steve Hofmeyr, Kurt Darren, Bok van Blerk, Ricus Nel en Bobby van Jaarsveld het sy kis by die kerk ingedra.

Weens Covid-19-regulasies kon slegs 100 mense die diens bywoon.

Steve Hofmeyr, Bobby van Jaarsveld, Dozi, Ricus Nel, Kurt Darren en Bok van Blerk het Theuns Jordaan se kis by die kerk ingedra. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Bekendes in die Afrikaanse musiekbedryf soos Paulo Azevedo, Arnold Coleske, Robbie Wessels, Lianie May, Jay du Plessis, Dewald Wasserfall, Ray Dylan en Danny Smoke het die diens bygewoon.

Talle roerende huldeblyke aan Jordaan is gelewer.

Jordaan se goeie vriend van die afgelope 22 jaar, Werner van Dalen, het hom as ʼn “eenvoudige dromer” beskryf.

“Selfs in die laaste jaar het hy nooit moed opgegee nie en het hy aanhou droom. Hy het sy Skepper gedien en was goed vir sy medemens. Hy het geweet waar sy talente en seëninge vandaan gekom het.”

Die sanger Bobby van Jaarsveld, vir wie Jordaan ʼn mentor was, het ook ʼn emosionele huldeblyk gelewer.

“Ek het nooit gedink ek gaan ʼn kis dra nie, veral nie Theuns s’n nie. Vir my was dit ʼn skatkis wat ons gedra het. Theuns was enig in sy soort, ʼn vriend, mentor en musikant. Theuns het ʼn soort teenwoordigheid gehad – sonder dat hy gepraat het, het jy geweet hy is daar.”

Huldeblyk-video’s deur kunstenaars soos Dr. Victor, Gian Groen, David Kramer en Anton Goosen is ook vertoon.

Ricus Nel het die Jordaan-treffer “Moenie” gesing, terwyl Bok van Blerk sy eie liedjie, “Die kaplyn”, gesing het.

Jacques du Plessis het die liedjie “Gesiggie” gesing en Dozi het ʼn roerende weergawe van sy eie treffer, “Grassade”, uitgevoer.

ʼn Stemnota wat Jordaan drie dae voor sy dood vir Steve Hofmeyr gestuur het, en die lied “Sing dan in die hemele” is gespeel.

Ná afloop van die diens is ʼn militêre prosessie vir Jordaan, wat in die Suid-Afrikaanse weermag gedien het, uitgevoer.

Daarna het vriende en familie die geleentheid gekry om finaal afskeid te neem deur ʼn wit roos op sy kis neer te lê.

Luister hier na die gedenkdiensliedjie wat Steve Hofmeyr vir Theuns Jordaan geskryf het:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

jayc ·

Ek het groot geword met sy musiek. Orals waar daar ‘n braai of ‘n spesiale geleentheid was, was sy stem. Nou is dit vir ewig en altyd stil. Rus in vrede, Theuns.

Elmarie ·

Jy was ‘n roeper, deur die winters met ‘n hart vol drome, het jy jou stem oor al die vlaktes gegooi, soos bloed, agter slot en grendel, met ‘n honger hart, in ‘n vreemde stad het jy die son gaan vang om hom beautiful in Beaufort Wes te hang, net voor die storm kom blom die Namibsroos dan skeur die maan jou weg en sê ons maar so long Skipskop, Skipskop ons sê vir jou goodbye! Gaan vind jou weet en waarheid jou twee hanne vingers en voete is nou stil! Skimme teen die muur ons harte brand ‘n koue vuur, praat is te laat dis skaakmat soos jou asem is dit verby in ons harte sal jy bly!

Deur Marlene vd Walt

Johan ·

Rustig rus Theuns. Jou pa, ma,familie en vriende het jou met eër gegroet vandag

Esme ·

Ek is diep dankbaar dat ‘n Sanger, ‘n Kaptein, ‘n Seun en ‘n Ikoon met soveel waardigheid vereer kon word. Oom Willie en Tannie Maryna, baie dankie dat julle, julle pragkind met ons gedeel het. Hy het my lewe in 2000 die eerste keer aangeraak, met sy heel eerste cd – vandaar het ‘n veel dieper mens na vore getree.
Te midde van soveel trane, was dit verblydend om te weet, dat Theuns ‘n pragtige vriendin gehad het, wat sy vrese en vreugdes met hom kon deel.
So baie dankie dat jy daar was vir Theuns en hom bygestaan het, tot die einde toe.
Theuns, rus in vrede.
Jy het ‘n ereplekkie in ons harte.

RS ·

Pragtige, waardige, respekvolle begrafnis. Dis hoe dit gedoen moet word. Ek loof die begrafnisondernemer vir hul diens van hierdie begrafnis. Wel gedaan.

Almal het n stukkie van Theuns in hul wese deur sy musiek. Sy afsterwe raak almal. Vir my is daar twee liedjies… “Beautiful in Beaufort Wes” en “soos bloed”. Beide het vir my diep betekenis en bring hul eie herhinnerings. Nou ook sal die liedjies gedagtenis aan Theuns self bring en dat hy nie meer daar is nie.

Ons dink aan al sy familie, sy vriende en die nabye mense om hom. Mag God julle dra in hierdie tyd.

Hy sing nou vir die engele van Beaufort Wes in Suid-Afrika.

Karina ·

Ai, so talentvolle jong man. Nou sing hy vir die Engele in die Hemel. Rus in Vrede Theuns, jy sal nie vergeet word nie. Damme kan gevul word met trane wat gestort is met jou afsterwe. Sterkte aan sy ouers, familie en vriende.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.