Musikant dagvaar polisieminister

Khuli Chana

Khuli Chana

Die polisie het bevestig dat die musikant Khuli Chana ʼn eis teen die minister van polisie ingedien het.

“Ons weet daarvan. Dit word deur ons regspan hanteer,” het Musa Zondi, minister Nathi Nhleko se woordvoerder, gesê.

The Star het berig dat Chana R2,3 miljoen van die minister eis. Chana, wie se regte naam Khulane Morule is, wil hê die minister moet betaal vir die emosionele trauma en lyding wat hy moes deurgaan nadat hy in Oktober verlede jaar deur polisiebeamptes geskiet is.

Die saak teen Mduduzi Mfundisi Nzuza en Sam Baloyi, wat daarvan beskuldig is dat hulle Chana geskiet het, is in September in die Randburg-landdroshof teruggetrek. Die polisiebeamptes het glo skote afgevuur op Chana se motor nadat hy nie by ʼn padblokkade by ʼn vulstasie op die N1 in Midrand stilgehou het nie. Chana is in die hand en rug geskiet.

Die polisiebeamptes was eintlik op soek na ʼn groep mans wat ʼn sakeman van Bedfordview ontvoer het. Die losprys moes glo by die vulstasie afgelaai geword het. Die polisiebeamptes het glo Chana se motor verkeerdelik aangesien as die ontvoerders se motor. ʼn Polisiebeampte is intussen in hegtenis geneem en aangekla van ontvoering.

Volgens The Star eis Chana R1,5 miljoen vir die skietery. Volgens hom het dit “permanente lestels en verminking”, emosionele trauma, stres, skok, toekomstige mediese uitgawes en ʼn toekomstige verlies aan inkomste tot gevolg gehad.

Chana eis ook dat die minister R516 638 moet betaal nadat hy “kwaadwilliglik” aangevoer het dat Chana “hulle [polisiebeamptes] probeer doodmaak het met sy motor” en hom van poging tot moord aangekla het. Die direkteur van openbare vervolging het egter die klag teen Chana laat vaar.

Chana eis ʼn verdere R250 000 nadat ʼn polisiewoordvoerder hom glo belaster het en sy reputasie geskaad het deur te sê hy was skuldig aan ʼn kriminele oortreding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.