Musikant Fanie Fouché oorlede

Fanie Fouche en Laurika Rauch

Fanie Fouche (39), sanger, liedjieskrywer en pianis is Vrydagoggend oorlede ná ʼn siekbed in die hospitaal.

Lulu van der Walt, Fanie se bestuurder, het aan Maroela Media bevestig hy is aanvanklik met longontsteking in ʼn hospitaal in Piet Retief opgeneem. “Hy het verlede Saterdag begin sukkel met asemhaling en dokters het X-strale geneem en hom met tuberkulose gediagnoseer.” Hy is vandaar na ʼn hospitaal in Witbank oorgeplaas. “Dokters het gister [Donderdag] gesê hy het dubbele longontsteking.” Fanie het egter intussen nierversaking ook opgedoen en hy is Vrydagoggend oorlede.

Fanie sou op 8 Augustus sy 40ste verjaarsdag vier.

“Dit is ʼn groot verlies vir die musiekbedryf,” het Van der Walt gesê. “Hy het moontlik dié mooiste manstem gehad in die bedryf.”

Fanie was Laurika Rauch se pianis tussen 1996 en 2000. Hy het ook ander sangers, soos André Schwartz vir sy vertoning “Brel en Brecht” begelei. Hy was ook agtergrondsanger by groot produksies soos Skouspel en was deel van die internasionale toergroep vir Andrew Lloydd Webber se CATS musiekblyspel

Talle bekendes in die bedryf het hul simpatie uitgespreek:
Helene Bester: “Ai. So jammer vir al sy naastes en geliefdes. Baie sterkte aan julle. Fanie, sal jou mis. Sal onthou dat jy “Oorgee” geluv het.x”
Johrne van Huyssteen: “Baie hartseer om te hoor van Fanie Fouche, Lienka het die mooiste lied van hom op haar album.”

Mauritz Lotz: “RIP Fanie, jy sal gemis word. My innige simpatie aan almal wat hom geken en vir hom lief was. Sterkte, vrede, berusting en klaarheid.”

André Schwartz: “Bitter hartseer nuus oor Fanie Fouche. Ons sal sy lag, talent en stem mis. Bid vir sy familie.”

Karin Hougaard: “Solank iemand erens nog jou naam sê, bly jy voortleef. Fanie Fouche….RIP”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.