Musikant HHP se begrafnis gaan voort in Mahikeng

Jabulani Tsambo, beter bekend as Hip Hop Pantsula of HHP (Foto: Twitter)

Die liggaam van die ontslape Hip Hop-kunstenaar, Jabulani Tsambo (Hip Hop Pantsula of HHP) het Vrydag by sy huis in Mmabatho, Mahikeng in Noordwes aangekom.

Verkeersbeamptes en die brandweer het die stoet gelei en sy aanhangers en plaaslike inwoners het langs die straat gestaan en toekyk.

HHP se liggaam is na Noordwes gestuur ná ʼn uitspraak Vrydag in die Johannesburgse hooggeregshof dat sy begrafnis in Mahikeng mag voortgaan.

Maroela Media het vroeër berig HHP se lewensmaat, Lerato Sengadi, het die hof genader om ʼn dringende interdik te bekom om die begrafnis in Mahikeng te verhoed. Sy voer aan sy is HHP se vrou en het ʼn reg om hom te begrawe. HHP se pa, Robert Tsambo, het egter gesê die familie beskou haar nie as sy seun se weduwee nie, omdat die huwelik nie bekragtig is nie en sy nie tydens ʼn seremonie aan die Tsambo-familie oorgegee is nie.

Regter Ratha Mokgoatleng het bepaal Sengadi is HHP se gebruiklike vrou, maar het nie haar interdik toegestaan nie.

HHP is op 24 Oktober 2018 in die ouderdom van 38 by sy huis in Johannesburg oorlede. Hy het vermoedelik sy eie lewe geneem. Hy word Saterdag by die heldeakker by die Mmabatho-begraafplaas ter ruste gelê.

Die provinsiale regering in Noordwes het ʼn burgerlike seremonie toegestaan.

Job Mokgoro, premier van Noordwes, sal die huldeblyk namens die provinsiale regering lewer.

Die SAUK het op televisie en radio van sy musiek gespeel as ʼn huldeblyk aan die wyle musikant.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frik ·

Wye dekking en selfs op die tv nuus maar moorde op boere word geen nuusdekking gegee. Tyd dat ek nie my sauk lisensie geld meer betaal nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.