Musikant vertel van inperking op luukse passasierskip

Die Westerdam-passasierskip. (Foto: Verskaf)

Bennie Robinson, voormalige bestuurder van die a capella-sanggroep Romanz en een van die groot geeste agter die uiters suksesvolle Krone-konsertreekse, is tans vermaaklikheidsbestuurder op die Westerdam, ’n luukse passasierskip van die Holland America Line. Die skip is gestrand langs die Mexiko-kuslyn. Robinson vertel sy verhaal aan Maroela Media:

Ek het op 9 November 2019 in Hongkong aan boord van die Westerdam geklim. Die Holland America Line is amper 150 jaar oud en deel van die Carnival Corporation-groep. Die Westerdam het vaarte van 14 dae verkoop en ons het Asië deurkruis. Die skip neem ongeveer 1 950 gaste en 850 bemanningslede.

Die vaarte is vir die hele seisoen feitlik uitverkoop. Ons was die eerste skip in Asië wat met die gevolge van korona te doen gekry het. Tydens ons vaart in Januarie is ons in kennis gestel dat die virus moontlike gevolge vir ons beplande roetes kan inhou. Maar in daardie stadium was slegs Wuhan en dele in China gesluit en het dit ons nie geraak nie.

Op die vaart van 1 Februarie het die moeilikheid begin. Ons beginpunt was Hongkong en daar moes ons gaste aflaai en nuwe gaste oplaai vir die volgende vaart. Hongkong was nog nie gesluit nie en ons het toestemming gehad om vas te meer en nuwe gaste op te laai. Ons het wel die goeie besluit geneem om alle gaste wat vir die vaart bespreek het en van China af kom, nie aan boord toe te laat nie. Die dag nadat ons uit Hongkong vertrek het, het die lande om ons die een ná die ander toegemaak waarna die beperking van 14 dae ingetree het.

Ons nuwe reisplan het Japan, Taiwan en China ingesluit. Uiteraard sou ons nie meer na China toe kon gaan nie en moes daar ’n nuwe roete uitgewerk word. So het ons van land tot land gevaar en is elke dag toestemming geweier om iewers aan te doen.

Ons moes inspring en die gaste vermaak omdat elke dag ’n “seedag” geword het. Dus moes almal harder werk. So ook is daar meer kos gegee, meer krag en water verbruik en almal was onder baie groot druk.

Bemanning van die Westerdam-passasierskip. (Foto: Verskaf)

Wat dit baie moeilik gemaak het vir die bestuur en bemanning van die boot is dat ons geen inligting gehad het nie en dat inligting letterlik van uur tot uur verander het. Ons het op en af in sirkels en driehoeke gevaar op soek na ’n plek om vas te meer.

Intussen het almal gewag om te sien of die virus op die skip gaan uitbreek. In daardie tyd het die virus op die Diamond Princess uitgebreek en dit het vrese op die skip verhoog. Gaste het beangs geraak en daar is bespiegel dat ons die virus op die skip het. Negatiewe en vals nuus oor die skip is versprei, wat veroorsaak het dat lande skepties was om ons toe te laat.

Ten einde laaste het Kambodja ons toegelaat. Die Holland America Line het toe begin om gaste na hul lande terug te stuur. In daardie stadium het ons 20 gaste met griepsimptome aan boord gehad. Hulle is dadelik vir die virus getoets – almal gelukkig negatief. Een van die Amerikaanse gaste is op Kuala Lumpur in Maleisië getoets en het ’n hoë koors gehad. Sy het positief getoets vir die koronavirus. ʼn Tweede toets het dit bevestig. Dit het die hele proses tot stilstand gebring. Ons het in dié stadium nog 255 gaste aan boord gehad. Die oomblik toe die aankondiging gemaak is, is ons dadelik geïsoleer saam met gaste en nie toegelaat om Kambodja te betree nie. Ons moes vir amper twee weke op die skip bly.

Al die gaste en bemanning is weer getoets en almal se toetse het negatief teruggekom. Enkele dae later is die persoon wat positief getoets is, weer getoets en het negatief getoets.

Op 26 Februarie het ons uit Kambodja na Manila vertrek. Omdat ’n groot deel van ons bemanning uit die Filippyne kom, was die idee om daar te stop en van die bemanning af te laai en die skip se voorrade weer aan te vul. Maar ongelukkig is ons weer toestemming geweier om enige mense af te laai en kon ons net stop om voorrade op te laai en diesel te kry. Dit was ’n hartseer oomblik omdat baie van ons bemanning reeds vir meer as nege maande op die skip was en veronderstel was om terug te keer na hul huise. Die Filippyne aan boord kon nie eens hul gesinne sien nie.

Ons het op 2 Maart die lang reis na Honolulu, Hawaii, begin. Twee weke later kon ons weer vir die eerste keer sedert Kambodja vir ’n dag voet aan wal sit. Hier het ons ongeveer 160 bemanningslede afgelaai wat na hul lande van herkoms kon terugvlieg. Steeds is baie van ons op die skepe gestrand omdat baie lande se grense en lughawens gesluit is. Ons het op 17 Maart vertrek uit Honolulu en op 30 Maart in Porto Vallarta, Mexiko, aangekom waar die skip tans geanker lê. Ons mag nie aan wal gaan nie en gaan vir die volgende twee weke hier geanker wees totdat die bemanning teruggestuur kan word na hul huise. Saam met ons hier is nog drie ander van ons susterskepe, Oosterdam, Maasdam en Eurodam.

Alle vaartreise is tydelik afgelas tot verdere kennisgewing. Ons was letterlik vir twee maande in isolasie op die skip, maar ek moet sê dat Holland America Line uit sy pad gegaan het om die beste diens en gemak vir die gaste en bemanning te gee.

Vermaaklikheidsarea van die Westerdam-passasierskip. (Foto: Verskaf)

Die maatskappy is steeds op gereelde grondslag met ons in verbinding om ons op die hoogte te hou van planne. Ons het ’n baie goeie lewe op die skip en die atmosfeer is ongelooflik. Hier is tans 37 nasionaliteite aan boord en die samehorigheid en solidariteit tussen die bemanning is ongelooflik.

Ons het steeds daaglikse take wat verrig moet word en bestee baie tyd aan opleiding en veiligheidsoefeninge. Ons word bederf met lekker kos en skielik kom mense se kreatiewe kant uit met verskeie vermaaklikheidsaktiwiteite wat ons vir die bemanning aanbied, van “Cook-off competitions” tot “Westerdam got Talent” en ’n bootboukompetisie.

Ons het ’n “Gratitude Wall” opgerig waar mense positiewe boodskappe vir mekaar kan stuur om sodoende die moreel hoog te hou. Ons leuse op al ons skepe is tans: “We’re all in this together and we will all get out of this together! STRONGER TOGETHER!”

Nog ʼn skip in Amerikaanse waters vasgekeer

Die Suid-Afrikaner Pieter Viljoen sit ook tans vas op ʼn passasierskip in Jacksonville in Amerika en wag om ʼn vlug terug Suid-Afrika toe te kry.

Viljoen werk al sedert 2018 vir die Norwegian Cruise Line Holdings (NCLH) op passasierskepe as fotograaf.

Op 14 Maart het NCLH aangekondig dat hy alle reise eers gaan opskort te midde van Covid-19. “Ek was op daardie oomblik in die strate van Cozumel in Mexiko. Toe ons die nuus hoor, het ons terug skip toe gejaag om vas te stel wat aangaan. Ons het die gaste aan boord van die passasierskip in Miami, Florida, laat afklim. Ons is daarna uit see toe sonder om te weet waarheen volgende,” vertel Viljoen.

Ná twee dae ter see het Jacksonville Ports toegelaat dat die skip by hul hawe kan stop, maar die bemanningslede mag vir 14 dae nie die skip verlaat nie. “Ons is tans op dag 16 en sit steeds op die skip. Al die Amerikaanse bemanningslede is huis toe gestuur, maar ons ander sit nog vas op die skip.”

Viljoen sê die bestuur van NCLH doen hul bes om vlugte vir hulle terug huis toe te reël. Vir hom as Suid-Afrikaner is dit egter moeilik omdat die land tans in algehele afsondering is en die meeste vlugte opgeskort is.

“Die kaptein en NCLH-bestuur doen als in hul vermoë om dinge so gerieflik moontlik vir ons op die skip te maak. Ek is baie dankbaar daarvoor, maar nou wil ek graag huis toe gaan. Ek wil in hierdie onsekere tyd by my mense wees.”

Viljoen sê die bemanning word beperk wat sekere produkte betref. “Sommige mense raak gefrustreerd om heeldag in ’n donker kajuit te lê. Ons probeer maar oefen in die gaste se gimnasium en reël sokkerwedstryde teen mekaar in die sportgedeelte. Ons almal probeer hoopvol bly en glo dat ons sterker aan die ander kant sal uitkom.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Oujongvrou ·

Julle is veilig op die skip. Geniet die wete dat daar nie n virus op julle skip is nie.

Leonard ·

Geniet DIE VAKANSIE! Jul is bevoorreg óm só vakansie te kan hé!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.