Musikante tydens skiet van musiekvideo aangeval

Riaan Smit nadat hy aangeval is.

Die sanger Riaan Smit, veral bekend as lid van die rock-groep Crimson House, is Vrydag na ʼn hospitaal geneem nadat hy en die musikant Luca Hart tydens ʼn opname vir ʼn musiekvideo net buite Windhoek deur ʼn groep mans aangeval en beroof is.

Smit, wat tans in die Kaap bly, het ernstige beserings opgedoen nadat hy met ʼn baksteen in die gesig geslaan is en met ʼn mes in die arm gesteek is.

Marinette Potgieter, ʼn agent vir Crimson House, het Saterdag die voorval aan Maroela Media bevestig.

Potgieter sê ʼn groep van vyf of ses mans met balaklawas, wat met messe gewapen was, het die twee musikante en drie bemanningslede glo onverwags betrap.

“Dit het veral gelyk asof hulle vir Luca en een van die vroue van die bemanning geteiken het,” sê Potgieter. “Riaan het daarom voor hulle ingespring om die vroue te beskerm. Hulle het hom weggestamp en die vroue weer geteiken, maar hy het weer voor hulle ingespring waarna hy met ʼn baksteen geslaan is en toe na die grond geval het.”

Smit en Hart met hul aankoms in Windhoek.

Die groep is van meer as 20 items toerusting, wat gebruik is om die musiekvideo te skiet, beroof. Onder dié items tel onder meer kameras, selfone en mikrofone. Die verdagtes het nie Smit se kitaar gesteel nie.

“Luca se mandolyn, wat vir haar van baie sentimentele waarde is, is ook in die voorval gesteel,” sê Potgieter.

Smit is na die hospitaal geneem waar ʼn mediese dokter aanvanklik nié kon sien dat hy ʼn fraktuur aan sy bo-kaak opgedoen het nie.

“Hy was Saterdag na ʼn tandheelkundige chirurg wat ons in kennis gestel het dat hy ʼn fraktuur aan sy bo-kaak het. Die chirurg, dr. Chris de Chevonnes Vrugt [die pa van Crimson House se tromspeler], het gesê Smit sal ʼn operasie moet ondergaan om plate in te sit. Hy het ook bloedvate in sy oë gebars,” sê sy.

Potgieter moes intussen noodgedwonge twee van Smit se konserte in Namibië kanselleer. Hy het Sondag teruggekeer na Suid-Afrika om Maandag ʼn chirurg in die Wes-Kaap te sien.

“Riaan is ons trooper – hy is ʼn regte soldaat. Dis sleg dat ons die konserte moes kanselleer, maar hy sal weer binnekort op die verhoog wees.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Leahim ·

Tragiese voorval maar die polisie sal hulle vang en swaar straf want nie soos in SA is die polisie in beheer in Namibië en nie die kriminele.

Anneke ·

Ons “dink” dis anders in Namibië. Dit is nie. Hulle is net so moorddadig en korrup as in Suid-Afrika. Daar is net dalk bietjie minder misdaad omdat die populasie baie minder is as in Suid-Afrika.

Mundi labuschagne ·

Klaar agter slot en grendel baie toerusting ook gevind. Namibia sal nie verval nie…

amanda ·

dis steeds hartverskeurend dat die dinge gebeur. ons mag nie ophou waaksaam wees en bid nie. Amanda

Kannaland ·

Hier begin Nam ook verkrummel. as gevolg van die wereld se toleransie vir misdadigers.

Skepties ·

Ek wou Etosha toe gaan die komende vakansie. Gaan nou maar liewer Botswana toe.

Boerseun ·

Botswana?! Spaar eerder jou geld om Europa toe te gaan vir vakansie. NERENS in Afrika voel ek meer veilig nie.

Lodewyk van Graan ·

Ek is Adj. Of. Lodewyk van Graan van die ernstige misdaad eenheid NAMPOL in Namibia. Ek het pas nou die comments gelees en put groot vreugde daaruit om u as volg mee te deel. Ons het deur middel van harde werk en min rus die verdagtes pas gevang en al die toerusting en instrumente terug gekry. ‘n Week gelede het n span rowers uit SA hiereen gekom en n transito roof gepleeg. Ons span het hulle ook binne 12ure gevang. Hulle sal ons gasvreiheid geniet vir die volgende 20 jaar. Dus wil ek darem net sê dat ons nie heeltemal so hopeloos is hierde kant van die grens nie. So Soekkie en Juffie drink gerus n wyntjie om daai ou smakie uit die mond te haal. Hier in “the land of the brave” het ons GEEN toleransie vir misdaad nie. Baie groette, veilig wees en mooi bly daar anderkant die draad

Chris ·

Ai Lodewyk, jy maak my dag, week, maand en jaar!
Welgedaan julle.

Ilana Mouton ·

Welgedaan! Baie dankie vir julle toewyding en harde werk…ons voel steeds veilig in Nam!!

Leahim ·

A/o van Graan ek het familie in Namibië en ek het geweet hulle sal spoedig gevang word vergewe maar die mense in SA die polisie het hier so verval die wat nie op stres verlof is nie skiet hulle familie of ondersoek alles maar los nooit iets op nie hou Namibië veilig.

Natalie ·

Pragtig gesê en goeie werk. Dankie vir die informasie, voel goed om te hoor dat geregtigheid nog erens tevinde is op hierdie kontinent.

Van-Nam ·

Hulle is gevang en die toerusting is terug gevind. Ons polisie slaap nie. Hulle werk nog. Moet nie ons vergelyk met julle powere SAP nie asb.

Namibi-er ·

Dankie Lodewyk van Graan vir jou kommentaar. Myne is nie geplaas nie. Ek het hul ook gese om nie ons polisie met SA te vergleyk nie. Hier is hul nog op en wakker en doen hulle werk soos hulle moet en is nog eerbaar.

Michelle ·

Lodewyk -so n bek kort jam.
10 uit 10 vir die antwoord. Asook 10 uit 10 vir Nampol.
Bly alles is terug gevind.

Pieter ·

A.O Lodewyk – jy kort n Bells!! As ek eendag weer so gelukkig is om na my tuisdorp terug te keer sal ek een spesiaal op jou en jou kollegas drink !!

Lager ·

So verval Namibie ook stuk vir stuk. Hulle het baie langer gehou as SA, maar die skrif is daar ook aan die muur. Die aanvalle gaan net toeneem, of hulle gevang word of nie. Dit is wonderlik dat hulle nog vasgetrek, word maar dit VOORKOM nie die wrede aanvalle op mense nie.

Nie meer skepties ·

Dankie Lodewyk vir jou antwoord en julle harde werk, wat n plesier om sulke diens van die polisie te sien! Ek gaan voort met die planne om Etosha toe te gaan en met sulke goeie polisie daar voel ek veilig.

Lodewyk van Graan ·

Dis wonderlik om te hoor. Ons sien uit daarna om jou in Namibia te verwelkom. Sou jy enige teespoed hê hier met misdaad skakel my gerus en ek sal onmiddelik probeer help of een van my mense stuur. . Voorspoed en veilige reis. My cell: +264811289398

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.