Musina; op die grens van Sodom en Gomorra

Llewellynn Hemmens by ‘n stuk draad wat veronderstel is om die grens tussen Suid-Afrika en Zimbabwe te wees. (Foto: AfriForum)

Hulle wou wys wat die gevolge is van ʼn regering se mislukking om sy landsgrense behoorlik in stand te hou – en wat gewone mense doen om eienaarskap van hul omstandighede te neem. Daarom het lede van AfriForum Veiligheid hul tyd, veiligheid én emosionele welstand opgeoffer en dit in een van die gevaarlikste grensgebiede van Suid-Afrika gewaag.

Llewellynn Hemmens, hoof van gemeenskapsveiligheid in AfriForum se noordelike streek, sê die vervaardiging van die dokumentêre prent Open Borders ontbloot die verval van Musina, ʼn dorp wat deur misdaadsindikate, smokkelaars en onwettige immigrante oorgeneem is, en die byna onbegonne taak van grondeienaars op die grens met Zimbabwe wie se eiendom die speelplek van rampokkerbendes geword het.

“Wat my die meeste getref het, was die arrogansie van die misdadigers. Hulle is vreesloos vir die owerhede. Hier het jy ʼn klein plattelandse dorpie, met ʼn klein, plattelandse polisiestasie – en ʼn absolute toestroming van mense. Die owerhede is hopeloos oorweldig.”

Dit is nou die wetstoepassers wat nie reeds in die sakke van smokkelaars en sindikate is nie en van húlle is daar kwalik ʼn handvol. Soms is dit boonop makliker om aan die misdaadbendes oor te gee; dit beteken minstens daar word nie van jou en jou familie ʼn teiken gemaak nie.

Aan die genade(loosheid) oorgelaat

Groot stukke van die grensdraad tussen Suid-Afrika en Zimbabwe is gesteel. Dit laat grensboere hier aan die genade oor. (Foto: AfriForum)

Dit beteken egter wetgehoorsame burgers is aan die genade oorgelaat, of dalk eerder aan die genadeloosheid van die sindikate wat in hierdie grensstrook gedy.

In die dokumentêr neem Jacques Broodryk, veldtogbestuurder en regisseur van Open Borders, kykers op ʼn reis saam met lede van AfriForum se buurtwag op patrollie op grensplase in die Musina-distrik in Limpopo. Kykers sien die ongelooflike persoonlike opoffering van dié buurtwaglede om hardwerkende en eerlike mense in die grensgebied te help beskerm omdat die Suid-Afrikaanse regering hul grootliks versaak het.

Vir die vervaardiging van die dokumentêr het hulle snags saam met die buurtwaglede in die bosse geskuil terwyl groot groepe smokkelaars deur die gebied stroom en daar dikwels ʼn skietery tussen smokkelaars en wetstoepassers uitbreek. Die hoofdoel van die nagtelike patrollies is om smokkelaars af te skrik om boere se grond as smokkelroetes te gebruik.

Boere se grensdrade word geknip, vee en wild word gestroop, daar is geen beheer oor bek-en-klouseer nie – en dan moet ʼn grondeienaar eintlik maar hoop hy het nie toevallig ʼn konfrontasie met ʼn bende swaar gewapende smokkelaars nie.

‘n Informele halfwegstasie op een van die smokkelroetes tussen Suid-Afrika en Zimbabwe. (Foto: AfriForum)

Plaaswerkers word die slagoffers van misdaad; kinders en vroue word soos kommoditeite oor die grens gesmokkel en misbruik. Dwelms. Yskaste. Nog yskaste. Miljoene sigarette. Plofstof. Daar is bykans niks wat nie daagliks onwettig oor die onsigbare grens tussen Suid-Afrika en Zimbabwe gekarwei word nie.

Boewe skroom ook nie om te skiet op enigiemand wat hul smokkelroetes bedreig nie. Groepe internasionale jagters besoek die prentjiemooi gebied graag, maar ʼn skrikwekkende toevallige botsing met ʼn bende smokkelaars is al wat nodig is om hulle summier hul tasse te laat pak en die pad te vat. Dit maak dit dus al hoe moeiliker vir grensboere om ʼn bestaan hier te maak.

Die teenwoordigheid van AfriForum se buurtwaglede maak ʼn verskil, maar die persoonlike koste is groot.

‘n Skermgreep uit die dokumentêr Open Borders. Hier kan jy sommer oor die grens stap – die hek staan oop. (Foto: AfriForum)

“Jy lê daar op ʼn boer se plaas in die bos. Dit is pragtig. Die wild is uitsonderlik. Jy hoor die buffels en hiënas en jy sien die beeldskone sterre – en dan besef jy dit alles word oorskadu deur misdaad,” sê Hemmens.

“Ons handhaaf radiostilte, daar is geen selfoonopvangs nie en jy kan hoor hoe klop jou hart.

“Dan stap iemand verby en jy moet tjoepstil bly lê. Dié persoon is net een van die verkenners – hy is swaar gewapen – en hy moet hom laat verbyloop sodat jy die groter groep kan stuit. Jy weet hy is ʼn misdadiger, maar jy roer nie.

“Die enigste manier om hulle te beveg, is ekonomies: jy moet hulle smokkelware konfiskeer.”

Van die smokkelaars op die grensgebied. (Skermgreep: Open Borders)

Hy sal lieg as hy sê hy was nie bang daar waar hulle in die bos op die smokkelbendes gewag het nie, sê Hemmens. Dit het hom hernieude respek gegee vir die buurtwaglede wat hul eie gesinne agterlaat en snags, ná ʼn vol dag se werk, aanmeld om hul naaste te help.

Hulle is ʼn laaste reddingsboei vir wildboere langs die grens.

“Waarheen gaan hulle? Alles wat jy het, is belê in hierdie eiendom. Jy kan dit ook nie verkoop nie, want niemand wil hierdie grond hê nie.”

Terwyl die buurtwaglede op een van die boere se plase ontplooi was, was dit een van die enigste kere in jare dat sy grensdrade nié geknip is nie, het ʼn boer vertel. “Al klink die impak klein, maak dit ʼn verskil. As jy ʼn boer se stem hoor breek oor ʼn grensdraad… dit tref jou hoe swaar hierdie ding op hul skouers rus.

Hemmens sê as meer mense betrokke raak by plaaslike strukture en eienaarskap neem van hul omstandighede kan misdadigers uit sekere gebiede ontset word.

Menslike tragedie of misdaadnes?

Motoriste wag om die grens tussen Suid-Afrika en Zimbabwe oor te steek. Die tou is soms kilometers lank en maak veral vragmotors ‘n maklike teiken vir misdadigers. (Skermgreep: Open Borders)

Aanvanklik het dit amper gevoel of hy bomskok oor die omvang die misdaad in die omgewing het.

“Dan word jy depressief, want jy wonder hoe stop jy dit. En dan begin dit voel soos ʼn tragedie: Dat ʼn mooi dorp soos Musina en sy inwoners onder hierdie situasie gebuk moet gaan. Dit is hartseer,” sê Hemmens.

Die Suid-Afrikaanse regering het ʼn leeueaandeel in die skaamtelose wetteloosheid wat op die land se grens met Zimbabwe heers. “Daar was ʼn absolute verval van alle strukture en toe ontaard dit in chaos. En dit is asof die regering sy oë toehou daarvoor.”

Smokkelaars maak reg om ‘n draad op een van die grensboere se plase te knip. (Skermgreep: Open Borders)

Hemmens sê die vervaardiging van die dokumentêr het hom emosioneel diep geraak en dit het hom ʼn wyle geneem om terug by die huis weer tot verhaal te kom. “Jy word blootgestel aan hierdie hoë vlakke van geweld en misdaad wat net floreer. Dan kom jy terug en jy moet aangaan met jou normale lewe. Jy gaan werk toe. Jy gaan huis toe. Maar nou wéét jy wat daar aangaan.

“Daardie mense kan nêrens heen gaan nie – en dit is juis die rede waarom ons die dokumentêr vervaardig het.”

Van die ontstellendste en mees grafiese inhoud is uit die dokumentêr gelaat sodat die ouderdomsbeperking laag gehou kan word en dit so wyd moontlik versprei kan word. Dit beteken egter nie mense soos Hemmens – en diegene wat op die grensgebied woon – kan vergeet wat hulle daar gesien het nie.

Is hy kwaad oor die misdaad wat toegelaat word om daar te gebeur en oor die menslike lyding wat dit elke dag veroorsaak terwyl die owerhede toekyk?

Hemmens kyk ʼn oomblik af en skud sy kop effens.

“Ek weet nog nie hoe ek voel nie… ʼn Mens ís kwaad. Jy is kwaad as jy sien wat ʼn handvol vrywilligers kan regkry met beperkte hulpbronne, terwyl jy weet die regering het ál die hulpbronne en hy doen net niks nie.”

Dit was ook vir hom moeilik om die buurtwaglede te bemoedig om voort te gaan met hul werk terwyl hy weet hy keer terug na betreklike veiligheid.

En een ding maal deur sy kop: “Musina het geval en volgende lê Louis Trichardt.”

Hulle het dus geen ander keuse as om die verval te help stuit nie.

“Wat die probleem so groot maak, is dat dit so aanhoudend is. Elke liewe aand gebeur dit. Elke dag. Daar is nie ʼn kitsoplossing nie, en dit is hoekom dit so belangrik is om betrokke te raak by gemeenskapstrukture. Ons het nie meer die luuksheid om te sê dat die polisie, of die weermag, of die verkeersdepartement die misdaad gaan stop nie.”

  • Die dokumentêr Open Borders is die eerste in ʼn beoogde reeks wat na verwagting ook sal kyk na wapens wat die land ingesmokkel word, onwettige jag en mensehandel. Kyk die dokumentêr hier.

Kyk ook hier na ʼn onderhoud met Hemmens:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marius

Die grensbeheer is net vir vakansie gangers. Al die kriminele en miljoene insypelaar gebruik die gate in die heinings….

Diline

Dit is SKOKKEND om te sien wat die ware toestand van ons grensposte is. Daar is net een groep wat verantwoordelik gehou kan word hiervoor en dit is die onbevoegde, korrupte ANC regering. NOG NOOIT in die geskiedenis van hierdie land het alles so ten gronde gegaan soos nou nie.

Swerwer

Dit is mos die Regering se familie, hul word dan genooi en kan nog aansoek doen vir finansiële bystand by Sassa ook. Siek…………..daar is regtig nie 1 in die huidige Regering met ‘n gesonde verstand nie.