Muthambi ʼn twispunt in SAUK-besprekings

Faith Muthambi. Foto: GCIS

Faith Muthambi. Foto: GCIS

Of Faith Muthambi, minister van kommunikasie, gedeeltelik aanspreeklik gehou kan word vir die gemors by die SAUK en of sy enige wette oortree het, het Donderdag ʼn twispunt veroorsaak toe LP’s oor die voorlopige verslag van die ondersoek na die openbare uitsaaier debatteer het.

Die DA het voorgestel dat die ad hoc komitee se verslag ʼn waarneming moet insluit dat Muthambi opsetlik die wet verskeie kere oortree en die parlement mislei het. “Ek dink ons moet kategories stel watter wette sy oortree het,” het DA-LP Mike Waters gesê.

Waters het ook gesê die verslag moet ʼn gedeelte bevat oor die minister wat die aanstelling van Hlaudi Motsoeneng as bestuurshoof in 2014 onregmatiglik beïnvloed het.

Die ANC se Makhosi Khoza wou gehad het die gedeeltes van die verslag waar die minister genoem word, moet anders bewoord word. “Ek stem saam met die byvoeging wat Waters voorstel, maar ek dink ons moet die bewoording dat die raad onder druk geplaas is, verander. Ek dink ons moet sê die raad was of in die geheim of openlik onder druk geplaas om mnr Motsoeneng in die posisie aan te stel,” het Khoza gesê.

ANC-LP Juli Killian het gesê alhoewel daar negatiewe getuienis teen die minister gelewer is, was dit nie deel van die komitee se mandaat om haar optrede te ondersoek nie. “Ek dink ons moet bedag wees op sommige van die kommentaar oor die aandeelhouer [Muthambi] se rol met betrekking tot die effektiewe funksionering van die raad. Ons het dit nie regtig ondersoek nie,” het sy gesê.

“Kom ons sê eerder net die komitee spreek sy kommer uit dat die minister moontlik x, y en z oortree het.”

Die DA se Phumzile van Damme het gesê die komitee se verslag moet baie spesifiek wees oor die wette wat die minister oortree het en wat die gevolge van haar aksies moet wees. Sy het ook aangevoer dat die minister vir die komitee gelieg het. “Sy het haar grondwetlike plig oortree deur die raad te druk om mnr. Motsoeneng aan te stel en sy het vir ons gesê sy het dit nie gedoen nie.”

LP’s sal vandag weer vergader om die verslag te finaliseer. Hulle sal ook besluit of ʼn stel aanbevelings by die verslag ingesluit sal word voordat dit aan die betrokke partye gestuur word.

Die verslag moet na verwagting teen 21 Februarie afgehandel wees voordat dit aan die Nasionale Vergadering vir debat voorgelê sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

moekie ·

ek wonder wat gaan aan daar by SAUK was nooit drama toe ou regering regeer het nie, wat n gemors, dis plaasmoorde, korrupsie, lieg en bedrieg,die hele land is regtig n gemors, ek word nou oud maar is daar niks meer oor wat ons kan doen nie, baie bekommerd,en half moedeloos.

humor ·

Killian n tipiese anc benadering. Daar is wel negatiewe bevindings rakende haar, maar kom ons laat haar skotvry kom want daar is nie n mandaat rakende haar optrede nie. Soos ek dit sien is sy die kop en end van al die korrupsie. Haar voorbeeld en invloed het n verrotingsproses aan die gang gesit waarvoor sekere mens uiters ontvanklik is.

Jaybee ·

Hulle moet al die bevindings teen haar in die verslag noem. Ek stem hier saam met die DA se verteenwoordiger, terwyl die anc die bewoording wil verander om haar te beskerm.

cor ·

Killian moet in opdrag van haar party keer dat Faith nie unfaithfull bewys word nie. Ai hoe kyk ons suster na mekaarwonder of Faith eendag vir haar sal skerm. Feit bly sy het sekere opdragte gegee en ook die OB geinoreer.

John ·

Konkel, konkel… dis die naam van die spel. ANC-lede wil nie hul poste kwyt wees nie en swig maar weer voor die base. Ons nuwe president en hierdie minister is voels van enerste vere. Dit gaan baie erger gaan vorentoe. Wag en sien… maar moenie hoop die SAUK gaan ‘n blaaitjie omslaan nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.