‘My asem was weggeslaan’ – boervrou ná buffel-aanval

Jolandi Louw (Foto: Verskaf)

“Ek het die buffel in die oë gekyk en net begin bid.”

Dit is die laaste wat Jolandi Louw (45), ʼn boervrou van Theunissen in die Vrystaat, kan onthou voordat sy deur ʼn buffel op ʼn plaas buite Winburg aangeval is.

Louw onthou nie veel van die aanval self nie en het eers tot verhaal gekom toe sy met ʼn gebreekte arm en been haar man, Martin, om hulp gebel het.

Die aanval het verlede Dinsdagmiddag op die egpaar se plaas, Waterval, naby Winburg afgespeel. Die egpaar woon nie op dié plaas nie, maar woon op ʼn plaas buite Theunissen, sowat 60 km daarvandaan.

Louw en ʼn plaaswerker het na die plaas buite Winburg gegaan om beeste te gaan tel en beeslek uit te sit. Toe hulle daar aankom, sien hulle ses beeste en drie kalwers word vermis.

“Die werker het in een rigting geloop en ek in ʼn ander om die beeste te soek. Ek het in die rigting van ʼn spruit geloop. By die spruit was ʼn digte bosgedeelte, waar ek ʼn geritsel tussen die takke gehoor het. Ek het gedink dit is die beeste wat in die bos is,” vertel Louw.

“Ek het my hande geklap om die ‘beeste’ aan te jaag. Toe ek opkyk, het ʼn groot buffel voor my gestaan. Hy het my in die oë gekyk.

“Dit het gevoel asof my asem weggeslaan is. Dit het onwerklik gevoel dat daar ʼn buffel voor my staan.”

Volgens Louw het die buffel sowat 20 tot 30 meter van haar af gestaan. Sy het geen idee waar die dier vandaan kom nie, aangesien hulle nie buffels op hul plaas het nie.

“Ek kan nie onthou of ek toe omgedraai en gehardloop het nie. Ek onthou net ek kon nêrens heen vlug nie.”

Louw onthou die “gevoel van magteloosheid” terwyl sy rondgeslinger is.

“Ek het weer tot verhaal gekom toe ek opstaan en my selfoon uit my hempsak gryp om my man te bel. My arm het gehang. My sonbril en hoed het op die grond gelê. Ek het deurmekaar gevoel.”

Louw sê die buffel was nêrens in sig nie.

Sy het haar man omstreeks 14:45 gebel en ʼn ruk daarna het ʼn ambulans haar opgelaai en na Mediclinic in Bloemfontein geneem.

“Dit was ʼn groot genade dat ek sein gehad het om my man te kon bel. Gewoonlik is die sein baie swak op die plaas. Ek was ook baie dankbaar dat my foon nie tydens die aanval gebreek het nie.”

Louw het haar linkerbeen en -arm gebreek en ook twee gebreekte ribbes gehad, maar het geen inwendige beserings opgedoen nie.

Sy is Woensdagaand geopereer en het tot Sondag in die hoësorgeenheid herstel. Sy is Maandag na ʼn gewone saal oorgeplaas.

“Dit is ʼn wonderwerk dat die buffel my nie doodgemaak het nie. Die Here was heeltyd by my. Hy het my beskerm en kalm gehou.”

Louw sê sy voel elke dag beter en glo sy sal eersdaags ontslaan word.

Die buffel was teen Sondag steeds soek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Twallie ·

Sy is baie gelukkig om lewend van daardie aanval weg te stap.

Waarnemer ·

Vrystaters is ysters!Selfs n ou buffeltjie sien nie kans vir ons nie.Mevrou jy behoort in die Cheetah span.

Frank ·

IEMAND is wel baie bewus daarvan dat hy ‘n buffel vermis, daarvan is ek oortuig, praat uit ondervinding

Pieter J ·

Ek vermoed die eienaar van die buffel het nou soos mis voor die son verdien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.