My kind is nie mediese afval nie

Baba

Foto: Pixabay.com

Om ʼn kind te verloor, is seker die mees traumatiese ervaring waardeur ouers kan gaan – geen ouer is veronderstel om sy kind te begrawe nie. Wanneer ʼn fetus voor 26 weke doodgebore word, het ouers nie eens dié reg nie, want volgens wetgewing in Suid-Afrika word ʼn fetus wat voor 26 weke doodgebore word, as mediese afval beskou.

Sonja Smith, besturende direkteur van Sonja Smith Funeral Group, sê hulle hanteer gereeld gevalle waar babas doodgebore word, maar sy het eers in 2005 van dié wetgewing gehoor toe sy ʼn oproep van ʼn gesin ontvang het wat ʼn drieling verloor het – die drieling was doodgebore op 20 weke. Toe Sonja by die hospitaal aankom, was die fetusse reeds op die vragmotor wat die hospitaal se mediese afval vervoer.

“Tot dan het ek nie geweet dat ʼn fetus eers op 26 weke as lewensvatbaar beskou word nie. Dit is so ʼn grys area in die wet, want ʼn dokter mag eintlik nie die Kennisgewing van Sterfte (BI663) onderteken vir fetusse wat voor 26 weke van gestasie doodgebore word nie. Voor 26 weke word dit as ʼn miskraam beskou en na 26 weke word dit ʼn ‘stilgeboorte’ genoem.”

Sonja meen elke dokter voel egter anders oor dié saak. “Die een dokter sal sê hy werk op gewig, soos 500g, terwyl ʼn ander dokter sal sê hy doen wat die ouers van hom vra en sal die dokumentasie teken om die liggaampie vry te stel en nog ʼn dokter sal sê hy doen wat die wet sê en weier om iets te teken.”

Volgens Sonja moet ouers die keuse hê om afskeid te neem wanneer hulle ʼn baba verloor, ongeag die stadium van die swangerskap, want ʼn band word reeds van die begin van die swangerskap gevorm. “As ouer sê ʼn mens nie jy verwag ʼn fetus nie – dis vir jou ʼn baba, vandat jy jou ouerskap beplan. Dis nie ʼn blindederm of ʼn ledemaat nie al is dit hoe die wet dit beskou. En die ergste van alles is, jy is absoluut uitgelewer aan die medici en hospitaalpersoneel om namens jou te besluit.”

Sonja se regspan het reeds in September verlede jaar korrespondensie aan drie ministers gestuur oor dié saak, omdat drie departemente betrokke is, maar slegs twee het bevestig hulle het haar skrywe ontvang. “Ek het gevra vir ʼn gesprek met die departemente van gesondheid, binnelandse sake en omgewingsake. Binnelandse sake het glad nie eens gereageer nie.”

Oor ʼn paar weke is Sonja en haar span op pad na die hooggeregshof om ʼn aansoek te bring vir die wysiging van die bestaande wetgewing. “Die bestaande wette is ʼn skending van ouers se basiese regte in terme van die Grondwet, naamlik die reg op privaatheid, menswaardigheid en gelykheid. As dit deur die hooggeregshof goedgekeur word, word dit skynbaar deur die konstitusionele hof bekragtig,” sê sy.

Sonja meen dié proses kan tot 18 maande duur.

Sonja het ʼn nie-winsgewende organisasie, Voice of the Unborn Baby, laat registreer omdat sy voel sy kan op so ʼn manier meer bereik as om alleen te probeer baklei. Besoek die Facebook-blad vir meer besonderhede.

Maroela Media sal ʼn opvolgstorie doen nadat Sonja en haar span in die hooggeregshof was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

fransie ·

Dankie Sonja.
Het baie vriende wat stil geboortes gehad het en dit was verskriklike hartseer, hoe word iemand die reg ontneem om te besluit oor so belangrike saak?
hoop dif gaan goed.

charlene ·

Sonja jy is `n engel. ek het `n miskraam gehad, nog voor ek die geslag van my baba geweet het of enige iets. dit was `n dag voor ons 1ste dokters besoek vir die sonar -so ek het niks gehad. Ek het `n pover medies gehad en geen privaat hostpitaal wou my help voor ek tussen R 800 – R 1500.00 kontant neer sit. Lieflik… my man is met my Steve Biko toe waar ek van die een plek na die ander gestuur is, en dis van aaklig. `n dr het my toe gehelp en net gesê jammer hulle moet my suiker en bloedruk reg kry voor die skraap. My man mag nie saam my gegaan het nie. (My ma was saam my). Ek was deur hel en nog erger…. (dit was 2010 waar ek nog 6 ander mense al verloor het aan die dood). Die dr het gesê my liggaam het die fetus verwerp – so asof dit niks was.. dit was my baba daai, my 1steling….. Ek sou wat wou gee om iets te kon hê van my baba dis alles van my weg gevat! Ek hoop die wetgewing verander en ons vrouens – en net soveel mans staan agter jou!

alida ·

Wat voel die Dr’s en personeel in die Staatshospitale? NIKS ABSOLUUT NIKS. Dit is jou reg om daardie kindjie te vat en menswaardig te begrawe.

Elo ·

Alida dis duidelik jy is nie in die verpleegprofessie. Wees asb versigtig en tel jou woorde voor jy veralgemenings maak oor medici. As jy in verpleegberoep was,sou jy van beter geweet het. Ons in kraamsale/mobiele klinieke moet protokolle streng volg e.g. fetusse So goeie raad is stop met veralgemening-jy weet nooit dat jy en jou geliefdes een van ons staatsamotenare mag nodig he om jou te versorg. Ek stem wel saam dat ouers moet closure kry sodat hul lewe kan aangaan

Ellen ·

Dis absoluut belaglik. ‘n Baba is lewensvatbaar vanaf die eerste oomblik wat die eier en perm sel kontak maak. Die bybel se dat die Here jou in jou moeder se skoot gevorm het. Hulle (die regering en mense) het maar besluit dat ‘n baba nie lewensvatbaar is tot op 20 weke omdat dit vir hulle die proses makliker maak met aborsies wat kindermoord is.

Piet Snot ·

Mooiskoot, Sonja.
Goeie nuus (oor ‘n tragiese onderwerp).

Jackie ·

Dit is bitter seer om n kind te verloor vir almal . Ek het op 16 weke n miskraam gehad, dit was vroeg mar die klein mensie was deel van my. Ek was stukend en daarby nog verder getraumatiseer toe ek die volgende oggend wakker word om in kennis gestel te word dat ons nie die lykie mag begrawe. Waar is die aflsuiting, die groet, om vir babatjie te se mamma is lief vir jou mar jy nou by liewe Jesus ? Besef hulle die emosinele skade wat hulle aan die mammas doen.

Sarel Strdom ·

Eerstens , dit help nie om die personeel van Staatshospitale aan te val nie. Dit is wetgewing. Ek stem saam dat ouers die reg het om hulle kind te begrawe. Ek glo vir baie I dit al manier om “Closure” te kry.

Griki ·

Hierdie wetgewing is lynreg in stryd met ons menseregte. Waarom mag die ouers nie self besluit wat met die fetus gedoen moet word nie? Hoop julle slaag daarin om dit te verander, Sonja. Baie sterkte vir julle.

Laurika Steenkamp ·

6 jaar van hel, 3 jaar met depressie, “closure” kon dit vermy het.

Adele ·

Sonja, baie sterkte met dit!! Ons dra julle op in gebede dat julle die wet verander gaan kry. Dit is n babatjie en die wet is verkeerd!! Dit sal so baie ouers wat n babatjie verloor het help om afskeid te kan neem. Dit gaan baie mense help. Baie dankie vir wat julle doen, dit word gesien.

Dolla ·

Maroela Media. Goeie dag. Ek wil asb net vra, hoekom kan ek nie ook n komment los nie, ek kry elke keer n ding wat se dis n duplikaat!! Ek het nog nie een keer n vieslike boodskap gelos nie maar word elke keer gese dat dit n duplikaat is. Dis mos nie reg nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.