‘My kind sal weer loop’

Rudi Kunz die dag wat die ongeluk gebeur het. Foto: Verskaf

ʼn Stamselprosedure word vandeesweek op Rudi Kunz (30), die man van Hoedspruit in Limpopo wat verlam is nadat hy op 1 April teen ʼn rivieroewer vasgeduik het, gedoen.

Johan Kunz, Rudi se pa, het Woensdag aan Maroela Media gesê Rudi het meer as ʼn maand ná die ongeluk steeds geen gevoel in sy lyf nie en kan steeds nie self asemhaal nie. “Hy het gevoel tot so drie vingers onder sy keel en van daar af is daar niks. Hy is nog steeds aan die ventilator gekoppel,” het Johan gesê. “Die probleem is net, hoe langer hy die ventilator gebruik, hoe meer verswak sy spiere. Hy kan ook nie na ʼn rehabilitasiesentrum geskuif word as hy nie self kan asemhaal nie.”

Johan sê die ventilator is deur ʼn gaatjie in Rudi se keel ingesit, terwyl ʼn voedingsbuis direk in sy maag ingeplaas is. “Hy is by sy volle bewussyn en weet wat om hom aangaan. My kind weet wat is fout met hom,” sê hy. Rudi kan ʼn bietjie kommunikeer, maar nog nie behoorlik praat nie en hulle maak meestal van lippetaal gebruik om te verstaan wat hy sê.

Maroela Media het vroeër berig Kunz het saam met ʼn groep vriende by die Klaseriedam gaan uitspan toe die ongeluk gebeur het. Melissa Swan, een van Kunz se vriendinne, het vroeër vertel sy was in die water toe Rudi van die oewer af in die dam geduik het. Toe hy ná ʼn rukkie opkom, het hy geen gevoel in sy lyf gehad nie en iemand moes induik om hom uit die water te haal.

Kunz is per ambulans na ʼn hospitaal in Nelspruit gehaas en later per helikopter na die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas. ʼn Skandering het getoon van sy boonste werwels het geskuif en hy het ook swelling op sy brein opgedoen weens die stamp teen sy kop. Hy het kort daarna ʼn operasie ondergaan om sy werwels weer in plek te kry.

Johan sê dokters meen die kans is skraal dat Rudi weer sal kan loop, maar hy en sy vrou weier om moed te verloor. “Ek het net vir daardie dokter gesê, doen jy net die operasie om sy ruggraat te reg te maak en dan sal God sorg dat hy weer loop. Dit is net God wat ʼn mens kan heelmaak. My kind sal weer loop, al vat dit vyf jaar. Ek glo dat die Here hom sal gesond maak.”

Volgens Johan hoop die familie nou dat die stamselprosedure sal help om Rudi genoeg te laat herstel sodat hy self kan asemhaal. “Dr. Hein van Wyk wat die prosedure gaan uitvoer, sal Vrydag Johannesburg toe gaan om die eerste gedeelte daarvan te doen en Saterdagoggend die tweede gedeelte,” sê hy. Hy verduidelik dat stamselle dikwels gebruik word om ruggraatbeserings te behandel, maar die sukses daarvan en mate van herstel verskil van pasiënt tot pasiënt.

“Dit is ʼn baie duur prosedure, maar ʼn vriendin van Australië het die geld geskenk sodat ons dit kan laat doen. Dit is ongelooflik, ek het nie eens woorde om ons dankbaarheid te betuig nie. Dit is net ongelooflik hoe baie ondersteuning ons familie van oral oor kry,” sê Johan.

“ʼn Skool in Hoedspruit het ʼn ruk terug ʼn geleentheid ter ondersteuning van Rudi gehou. Sy naam was op die sportveld geskryf en ʼn vliegtuig het oor die skool gevlieg. Hulle het vir hom geld ingesamel en die kinders in die skool het 400 briewe vir hom geskryf. Ek kan nie vir jou sê hoe hierdie soort ondersteuning ons in hierdie tyd dra nie. Dit is regtig ongelooflik, want dit is al hoe ons hierdeur sal kom, deur mense wie se harte op so ʼn wonderlike manier oop is.”

Kunz se vriende het ʼn fonds gestig om geld vir sy mediese koste in te samel. Daar sal vandag ʼn gholfdag in Nelspruit ter geldinsameling gehou word. Alle inligting oor die gholfdag en geldinsameling is op die Rudi Kunz Support Fund-Facebookblad beskikbaar.

Lees alle vorige berigte oor Rudi Kunz op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

BlouBul ·

Ek lees al klaar die tragiese einde in die artikel…. fiets in digte bosse gevind , dienspistool ook weg en hy was n polissieman. Klink vir my soos nog n selfdood geval. So tragies .

Dankbaar ·

Ek loof en prys die Here wat hierdie jongman se lewe gespaar het! Die vyand het gekom om te slag, steel en verwoes, maar Jesus het gekom om LEWE te gee, in oorvloed. Ek spreek nou daardie LEWE oor elke sel, weefsel en gebeente in Rudi, in die Naam van die Here Jesus Christus. Dankie Vader vir TOTALE genesing want U het klaar elke gebed verhoor. Amen. Soos Johan gesê het, al is dit oor 5 jaar, loop SAL hy weer loop! Rudi, hou jou reg want jy gaan nog baie getuig van God se wonderwerke in hierdie pad wat Hy met jou stap.

Yoli Haskins Nieuwenhuis ·

Ons bid steeds en glo dat hy weer sal loop, soos Johan sê al is dit oor 5 jaar die Here se tyd is nie ons tyd nie maar die regte tyd. Sterkte julle!!!

Ouma ·

Al gaan dit hoé sleg rondom ons, is daar vele bewyse van die goedheid van mense. Mag die Here julle geloof gee om aan te hou bid, want daar is krag in gebed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.