‘My Octopus Teacher’: ‘Ons sou dit nooit kon droom’

Pippa Ehrlich en James Reed het die goue beeldjie namens die span van ‘My Octopus Teacher’ in Los Angeles ontvang. (Foto: Chris Pizzello-Pool/Getty Images/AFP)

My Octopus Teacher, die hartroerende verhaal van ʼn seekat wat ʼn ongelooflike band smee met ʼn diepseeduiker, is Sondagaand met ʼn Oscar-toekenning vir beste dokumentêr vereer.

Dit is die eerste natuurdokumentêr om in dié kategorie te wen sedert The Cove in 2010. Mederegisseurs van My Octopus Teacher, Pippa Ehrlich en James Reed, het die gesogte goue beeldjie in Los Angeles, VSA, ontvang.

“Ek is heeltemal oorweldig deur ʼn eer wat ons nooit gedroom het moontlik is nie. Op soveel maniere is hierdie ʼn baie klein, persoonlike storie wat afgespeel het in die kelpwoude aan die punt van Afrika. Op ʼn universele vlak hoop ek dat dit ʼn blik op ʼn anderste tipe verhouding tussen die mensdom en die natuur sal gee,” het Ehrlich gesê.

My Octopus Teacher het verlede jaar die eerste Suid-Afrikaanse dokumentêr geword wat as ʼn oorspronklike Netflix-produksie te sien was. Dit is tydens die wêreldwye inperking weens die Covid-19-pandemie uitgereik en het onmiddellik sukses behaal.

“In ʼn moeilike jaar, waarin die meeste van ons vasgekeer, bang en deurmekaar gevoel het, het ʼn positiewe storie wat jou na ʼn magiese wêreld meevoer ʼn kragtige aanloklikheid gehad. Dele van die storie is universeel vir amper elke persoon op aarde – liefde en vriendskap en konneksie en hoop. Dit gaan oor die natuur, wat ook ʼn kragtige, argetipiese storie vertel wat ons help om sin te maak van die wêreld,” het Ehrlich bygevoeg.

My Octopus Teacher volg Craig Foster, ʼn man wat aan uitbranding ly, waar hy begin met ʼn daaglikse duikregime in die yskoue seewater van die kelpwoud om sy battery te herlaai.

Foster, ʼn dokumentêre rolprentmaker vir die afgelope 28 jaar, sê die Oscar-toekenning gee veral erkenning aan die werk wat gedoen word deur die rolprent se vervaardigingsentiteit, die Sea Change Project.

Foster het dié organisasie in 2012 saam met medevervaardiger van die dokumentêr, Ross Frylinck, gestig.

“Die toekenning gee aan die Great African Seaforest en die omliggende oseaan van Suid-Afrika globale, ikoniese status. Dit is uitstekende nuus vir ons, want dit beklemtoon waarvoor ons gemik het: Om aan die wêreld te wys dat ons ʼn biodiverse skatkis besit wat beskerming waardig is.

“Wat vir ons as organisasie die opwindendste is, is die terugvoer. Ons het duisende boodskappe van reg oor die wêreld ontvang. Baie mense het begin duik, mariene wetenskappe studeer of My Octopus Teacher gebruik by geestesgesondheidslypskole en in gesprekke oor emosionele ekologie en diepe natuurkonneksie.

“Ons wou hierdie wonderlike ekostelsel, die Great African Seaforest, aan die wêreld ten toon stel, en ons het daarin geslaag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Francois Le Cochon ·

Baie geluk. Bonne de Bod doen net so goed met Kingdoms of Fire Ice and Fairytales.

Foefie ·

Baie geluk. Deur jou toewyding en deursettingsvermoë het ons almal lief geraak vir die seekatjie en lekker saam gehuil toe sy dood is. Puik program. Puik.

Maggies ·

Ek het net nadat ek dit gekyk het gesê hierdie dokumenter verdien ‘n OSCAR. Ek is so bly vir die span. Baie geluk, knap gedaan.

Janee ·

Wonderlik!…Baie geluk aan almal!!. Tot my spyt nog nie gesien, wil ook nie , want weet wat die uiteinde was..

gehasie ·

Uitstekend!!! Baie geluk, hierdie is beslis ‘n moet kyk!!!

Samuel ·

Baie geluk. Eenkeer is Suid-Afrika vir die regte redes in die nuus. Dit wys weer eens waartoe SA’ners in staat is.

Jack ·

Wonderlik om darem iets positiefs te hoor vanaf die land van ons vaders.

Karina ·

Baie geluk met ‘n welverdiende Oscar! Dit is ‘n fantastiese dokumenter en so hartroerend.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.