‘My pa se musiek was onbeskryflik,’ sê Carstens se seun

Nico Carstens

Nico Carstens

Nico Carstens is Dinsdagaand omstreeks 19:00 in die Netcare N1 City-hospitaal in Kaapstad oorlede.

Carstens se seun, Klem, het aan Maroela Media gesê sy pa het die afgelope drie jaar in ʼn ouetehuis in Kuilsrivier gewoon. “Hulle het my laat weet hy het erge maagkrampe en ons is toe soontoe. Hy is eers na die hospitaal daar naby vervoer maar later na N1 City-hospitaal oorgeplaas.”

Volgens Klem was sy pa ongemaklik en in erge pyn. “Hulle het X-strale geneem en bloedtoetse gedoen. Hy is op ʼn drup geplaas. Ons vier kinders was by hom en is later almal huis toe om te gaan eet en skoon aan te trek. ʼn Familievriendin wat by hom gekuier het in die hospitaal, het ons omstreeks 19:00 laat weet hy is oorlede.”

Klem het gesê sy pa se toestand het die laaste ruk agteruitgegaan. “Sy wêreld het kleiner geraak. Hy het meeste van die tyd in die bed gebly. Sy lyf het ingegee.”

Volgens Klem was musiek sy pa se lewe gewees. “Oubaas se musikale lewe het bestaan uit optredes, toere, opnames en die onophoudelike komponering en skryf van liedjies.”

Klem is die afgelope 18 maande besig met ʼn projek waarin hy soveel as moontlik musikale inligting oor sy pa probeer opspoor. Dit sluit in plate, CD’s, rolprente, toekennings, transkripsies en koerantknipsels. “Ek ontvang landswyd bydraes wat mense skenk. Dit laat my net meer en meer besef hoe groot sy loopbaan was.”

Die versameling word aan die Universiteit Stellenbosch (US) se dokumentasiesentrum vir musiek gegee vir bewaring en navorsing. “Dit is vir sy nalatenskap sodat sy musiek nie tot sterwe moet kom soos hy nie. Dit gaan vir altyd daar wees.”

Volgens Klem het baie mense groot respek vir sy pa gehad. “Hy was ʼn alleenmens en ʼn introvert. Hy is uit musikale en persoonlike oogpunt gerespekteer vir sy musiek. Sy musiek was onbeskryflik gewees.”

Carstens laat benewens sy vier kinders ook vier kleinkinders en een agterkleinkind agter. Begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie. ʼn Gedenkdiens word beplan wat deur lede van die publiek bygewoon kan word.

Carstens het letterlik honderde komposisies die lig laat sien. Sy instrumentale treffer, “Zambezi”, is internasionaal bekend en is deur talle kunstenaars, onder andere Bert Kaempfert in 1965, opgeneem.

Carstens het op 10 Februarie vanjaar sy 90ste verjaardag gevier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Lizaan ·

Daar gaan ons musiek dankie vir die Jare wat ons oom en die musiek geniet het. RUS IN VREDE XXXXXX

Diepseun ·

Innige simpatie aan die Carstens-familie. Ek wil voorstel dat Klem ‘n bietjie terughou met die skenking aan die universiteit. Daar is “mense” wat leer en leer en net nooit tot die kennis kom nie. Dan haal hulle hul frustrasies op die “kennis” uit deur dit te vernietig..

dries ·

Waar is die dae van sy goeie musiek wat so afgeskeep word op ons TV en radio en wat nou oorgeneem word deur die grootste klomp amateurs wat n mens nog gehoor het.

RITA ·

Ja nee Dries ek stem saam met jou. Baie hartseer saak. Vanoggend het hulle van sy musiek gespeel maar……. jammer nou is dit te laat vir erkenning .

Ludwig Visser ·

Ek was nog ‘n laerskol-kannetjie, so sestig jaar gelede, toe ek Nico die eerste keer sien speel het. Hy was toe nog lid van Hendrik Susan se bekende orkes van daardie jare. Jurie Ferreira was die orkes se sanger. Dit was by ‘n konsert wat hulle een aand in ‘n Kaapstadse bioskoop, ek meen die ou Alhambra, gehou het. Nico was toe al ‘n puik musikant. Meegevoel aan sy mense.

Wilma Venter nee Verster ·

Ek onthou…. 1973/74. Nurneylaan, Crosby, Johannesburg. Oom Nico en sy trekklavier, my pa met sy konsertina, oom Soon Van Vuuren met sy konsertina, Arnold en Ernest van Vuuren met hulle kitare en ek agter my orrel se klawers! Ons was ‘n orkessie op ons eie wat musiek gemaak het vir die liefde daarvan. Goeie, sorgvrye, vreugdevolle dae. Rus Sag By Jesus, Oom Nico. U legende leef voort in die musiek wat u vir ons agtergelaat het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.