MyCiTi-busse in Kaapstad aangeval

MyCiTi-bus, Kaapstad Foto: MyCiTi, Facebook

MyCiTi-bus, Kaapstad Foto: MyCiTi, Facebook

Twee MyCiTi-busse is in Kaapstad aangeval, het die stad Vrydag gesê.

“Die eerste voorval was Donderdagaand omstreeks 20:00 in Victoriaweg toe ʼn voorwerp na die bus gegooi is,” het burgemeesterskomiteeraadslid Brett Herron in ʼn verklaring gesê. “ʼn Onbekende persoon het die voorwerp, moontlik ʼn klip, na die bus se kantvenster gegooi.” Geen beserings is aangemeld deur die busbestuurder of passasiers nie.

“Die tweede voorval het 30 minute later in Roodebloemstraat in Woodstock plaasgevind,” het Herron gesê. “ʼn Onbekende man het iets agter in die bus aan die brand gesteek nadat al die passasiers afgeklim het. Hy het ook afgeklim en van die toneel gevlug. Die busbestuurder het sy hand seergemaak toe hy ʼn kantvenster moes breek om die brand met ʼn brandblusser te blus.

MyCiTi het gesê bedrywighede op die twee roetes is dadelik opgeskort. “Die busse is uit diens gehaal weens geringe skade aan die binnekant en kantvensters.”

Volgens Herron word die aanvalle verbind met ʼn staking deur die busbestuurders. Die SA Transport and Allied Workers’ Union (Satawu) het Maandag kennis gegee van ʼn staking. Die busbestuurders is in diens van Transpeninsula Investments (TPI). Die dispuut tussen TPI en Satawu handel oor organisasieregte en die interpretasie van klousules in die erkenningsooreenkoms. Die saak is in Oktober 2014 na die Kommissie vir Versoening, Bemiddelling en Arbitrasie verwys, maar dit is nog nie opgelos nie.

Herron het gesê geen voorvalle is Vrydag aangemeld nie. “Wetstoepassers is op verskeie busroetes ontplooi en die stad se vervoerowerheid monitor die situasie,” het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pierre Celliers ·

…..en die woestaardery, (savagery), gaan voort!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.