MyCiTi-staking duur voort in Kaapstad

MyCiTi-bus in Kaapstad (Foto: Facebook)

Die Stad Kaapstad het pendelaars gewaarsku dat die MyCiTi-diens steeds nie volgens skedule verloop nie, weens busbestuurders wat aan ʼn voortslepende onbeskermde staking deelneem en diegene wat wil werk, geïntimideer word.

Brett Herron, burgemeesterskomiteelid vir vervoer, het in ʼn verklaring gesê busbestuurders staak reeds sedert 15 Oktober 2018. Dit het ʼn impak op die getal beskikbare busse op die verskillende roetes.

“Die maatskappye wat deur die stad gekontrakteer is om die MyCiTi-diens te bedryf, doen hul bes om aan die skedules te voldoen, maar pendelaars moet kennis neem dat die diens steeds onder druk bly solank as wat die staking voortduur,” het Herron verduidelik.

Die maatskappye het reeds van die busbestuurders, wat aan die staking deelgeneem het, afgedank. Nuwe busbestuurders moet gewerf word.

Die N2 Express-roetes tussen Khayelitsha en die Burgersentrum-stasie in die middestad is opgeskort nadat ʼn MyCiTi-bus Vrydagaand met ʼn petrolbom bestook is. Die aanval het omstreeks 20:15 by die Kuyasa-stasie plaasgevind. “Die busbestuurder is gedwing om uit die bus te klim voor dit aan die brand gesteek is. Niemand is beseer nie, maar die bus het heeltemal uitgebrand. Ons het verskeie berigte ontvang van busbestuurders wat te bang is om vir werk aan te meld. Hulle word gedreig en geïntimideer.”

Herron het gesê bedrywighede in Khayelitsha sal eers hervat sodra die situasie gestabiliseer is. “Ons monitor die diens en sal pendelaars op hoogte hou.”

Pendelaars word versoek om die vervoerinligtingsentrum by 0800 65 64 63 te kontak vir die jongste inligting oor die MyCiTi-diens, of volg @MyCiTibus op Twitter of MyCiTi op Facebook.

“Maandelikse kaartjiehouers sal vergoed word vir die getal dae wat hulle nie van die diens gebruik kon maak nie weens die staking.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andrew ·

Ek het gedink onbeskermde stakings is onwettig. Dank hulle af, permanent.

Bestuurders ·

Vlg die berig is van die bestuurders wel al afgedank en nuwe bestuurders word gewerf…..

Versoening ·

Solank as wat hierdie skade aangerig word en gestaak word, sal daar NOOIT versoening en wedersydse respek in hierdie land plaasvind nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.