‘Myeni het gʼn gepleit dat Zuma hom oorgee’

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die SAL-raad. (Foto: ANA)

Die Jacob Zuma-stigting het Maandag gesê berigte dat Dudu Myeni, voormalige raadsvoorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), by oudpres. Jacob Zuma gepleit het om hom aan die polisie oor te gee, is onwaar.

Dít volg ná ʼn berig op News24 dat Myeni glo op 7 Julie ʼn histeriese oproep na Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, gemaak het enkele minute vóór die polisie Zuma by sy Nkandla-woning in hegtenis sou neem om sy 15 maande tronkstraf uit te dien. Tydens dié oproep het sy die polisiehoof glo ingelig dat Zuma besluit het om hom oor te gee.

Die stigting het sodanige beriggewing as “onwaar” bestempel en gesê dat Myeni in haar oproep aan die voormalige staatshoof bloot terugvoer van sy regspan gegee het.

“Die boodskap wat dié berigte uitstuur, is dat mev. Dudu Myeni histeries probeer het om pres. Zuma op die nippertjie te oortuig om hom oor te gee. Die stigting wil dit op skrif stel dat dít pure fopnuus is en verskanste pogings om die president as ʼn misdadiger uit te beeld wat buitengewone oorreding nodig het om die wet te gehoorsaam,” lui die verklaring.

Volgens die stigting sou verifieerbare feite die teendeel bewys het indien die media wat hieroor berig het wel die betrokke partye die geleentheid gebied het om op dié aantygings te reageer.

“Die feit bly dat sy [Zuma se] regspan die betrokke Woensdagaand in ʼn dringende hofproses in die hooggeregshof in Pietermaritzburg gewikkel was.”

Volgens die stigting het die regspan gehoop om die lasbrief vir Zuma se inhegtenisneming ter syde te stel en Myeni se oproep was bloot om terugvoer van die prokureurs te gee.

Maroela Media het vroeër berig dat Zuma twee afsonderlike aansoeke by onderskeidelik die hooggeregshof in Pietermaritzburg en die Konstitusionele Hof ingedien het om die lasbrief vir sy inhegtenisneming asook sy skuldigbevinding en vonnis ter syde te stel.

Die Konstitusionele Hof het Zuma 15 maande tronkstraf opgelê vir minagting van ʼn hofbevel om voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping te getuig.

“Dit was ná die terugvoer deur Myeni dat pres. Zuma besluit het dat hy al sy regsroetes uitgeput het en dat hy nie sy inhegtenisneming wou teenstaan nie.”

Dít, sê die stigting, sou tot bloedstorting soortgelyk aan die Marikana-voorval gelei het.

“Sy laaste woorde was juis ‘daar moet geen bloed in my naam gestort word nie’.”

Die stigting dring daarop aan dat alle berigte wat dié sogenaamde fopnuus verkondig, onttrek word.

Kort ná Zuma se inhegtenisnemings het grootskaalse plundering, onluste en geweld in KwaZulu-Natal en dele van Gauteng uitgebreek.

Dié chaotiese betogings is gedoen onder die vaandel van oproepe dat Zuma vrygelaat moet word.

Sihle Zikalala, die premier van KwaZulu-Natal, het verlede maand ʼn ramptoestand in die provinsie afgekondig weens die omvang van die skade wat tydens die sogenaamde Zuma-onluste in die provinsie aan infrastruktuur aangerig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Anel ·

En hy is ‘n misdadiger. Almal weet dit. Hy is gin onskuldig nie!

Mariana ·

Ag shame sy mis hom seker vreeslik. Hy was mos darem haar beste maatjie, een van die bestes.

Hennie J ·

Behoede my tog. Elkekeer as ek n prentjie van die verklaarde misdadiger sien, sien ek rooi.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.