‘Mylpale behaal vir meer doeltreffende regering’

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Twee stukke wetgewing is vandeesweek deur die Nasionale Vergadering goedgekeur om aanspreeklikheid en doeltreffendheid in die staatsdiens te verhoog.

Pres. Cyril Ramaphosa het in ʼn nuusbrief gesê die twee wetsontwerpe, die Wysigingswetsontwerp oor die Bestuur van Staatsdiensadministrasie en die Wysitingswetsontwerp oor Staatsdiens dal nou na die nasionale raad van provinsies verwys word vir oorweging.

ʼn Nuwe voorskrif is ook deur die departement van staatsdiens en administrasie gepubliseer om staatsdepartemente te lei binne die raamwerk van professionaliteit binne die staatsdiens.

“Hierdie voorskrif, tesame met die wetsontwerpe, sal ʼn verreikende impak hê op die funksionering van die staatsdiens,” het die president verduidelik.

Volgens hom sal dié hervorming seker maak dat die beste persone aangestel word in die staatsdiens en dat hulle die nodige ondersteuning ontvang om hul werk doeltreffend te kan uitvoer.

Die voorskrif bepaal onder andere dat ʼn persoon slegs vir senior bestuur in die staatsdiens kan kwalifiseer indien hulle die vooraf program genaamd Nyukela suksesvol voltooi het. “Die kursus duur ongeveer 120 uur en het ten doel dat alle aansoekers tot senior bestuur die kennis en bevoegdheid het om suksesvol te wees.”

Die kursus fokus op die waardes van goeie burgerskap, etiese leierskap en ontwikkelende staatsadministrasie.

Alle kandidate op die kortlys moet twee assesserings ondergaan – ʼn praktiese oefening wat hul bekwaamheid toets en ʼn integriteitsassessering wat hul begrip van etiese beginsels toets asook hul vermoë om etiese besluite te neem.

“Alle nuwe werknemers moet ʼn verpligte induksieprogram voltooi binne ses maande van aanstelling en alle huidige staatsdiensamptenare moet ʼn verpligte heroriëntasieprogram elke vyf jaar bywoon.”

Om voortgesette leer en ontwikkeling te verseker, sal elke departement ook minstens 1% van sy salarisbegroting aan opleiding moet spandeer.

Die kursus word verskaf deur die National School of Government, wat saam met die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) werk om ʼn vaardigheidsoudit te doen binne bepaalde infrastruktuur- en dienstedepartemente.

Volgens Ramaphosa het die wetsontwerpe ook ten doel om die moontlikheid van onregmatige politieke inmenging in die staatsdiens beduidend te verminder.

“Die Wysigingswetsontwerp oor Staatsdiens tref ʼn baie duidelike onderskeid tussen die mag van verkose beamptes soos ministers, en professionele staatsdiensamptenare soos direkteurs-generaal of departementshoofde. Die verkose beamptes, wetlik gedefinieer as die uitvoerende gesag, verskaf strategiese en politieke rigting, terwyl departementshoofde volledige administratiewe magte ontvang om hul departemente te bestuur.”

Die president meen dié onderskeid sal onregmatige politieke inmenging voorkom wat, volgens die Kommissie van Ondersoek na Staatskaping, korrupsie in staat gestel het.

“Nóg ʼn belangrike verandering wat in die wetgewing voorgestel word, is om ʼn departementshoof of ʼn werknemer wat direk aan hulle rapporteer te verbied om ʼn politieke amp te beklee. Dit versterk die onderskeid tussen politieke en administratiewe rolle.”

Die wetgewing poog ook om koördinering en aanspreeklikheid te verbeter.

“Die wetsontwerp maak dit onder andere moontlik om staatsdiensamptenare tussen nasionale en provinsiale regerings en munisipaliteite oor te skuif. Dit verseker dat persone, met tegniese en skaars vaardighede en vermoëns geskuif kan word waar hulle die grootste impak kan hê. Dit is veral belangrik om munisipaliteite te ondersteun wat gereeld ʼn tekort het aan vaardige werknemers.”

Die wetsontwerp ken ook bykomende funksies toe aan die direkteur-generaal in die presidensie, kragtens die Nasionale Ontwikkelingsplan, om ʼn administratiewe hoof van staatsdiens te skep aan wie direkteurs-generaal kan rapporteer oor operasionele, organisatoriese en administratiewe sake.

“Hierdie hervorming sal ook die stryd teen korrupsie versterk. Staatsdiensamptenare wat die staat verlaat mag nie, binne 12 maande ná hul bedanking, in diens geneem word of aangestel word op die raad van ʼn diensverskaffer aan wie hulle ʼn kontrak toegeken het nie. Hulle mag nie enige betaalde werk uitvoer of enige ander betaling ontvang nie. Diensverskaffers of werknemers wat dié voorskrif oortree, sal ʼn misdaad pleeg en kan tot R1 miljoen beboet word.

ʼn Interdepartementele taakspan het ook ʼn sentrale register ontwikkel om alle afdankings en bedankings te monitor met dissiplinêre sake hangende in die nasionale of provinsiale regering. Dit sal aanspreeklikheid verhoog en korrupsie takel, sê Ramaphosa.

“Hierdie register het tans reeds meer as 12 000 rekords. Die werk duur voort om inligting in te sluit van plaaslike regering en staatsentiteite. Dit sal verhoed dat staatsdiensamptenare met ʼn dissiplinêre rekord aangestel kan word in ʼn ander deel van die staat.”

Die president sê dié hervormings dra by tot die bou van ʼn meer doeltreffende staat wat verantwoordelik en aanspreeklik is.

“Dit sal staatsdiensamptenare in staat stel om hul werk te doen sonder inmenging en met die nodige ondersteuning.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Billy ·

Ag flippen rerrig…. wat se mylpale Cyril….. jou land le aan skerwe…. asse bleddie blief…. waar is jou eer

Billy ·

Daar is n God wat oor hierdie hele ding sal deoordeel…en ja…. ek staan ook skuldig voor Hom…. maar ek ken Sy eerlike liefde en opregte Vader liefde… en Eerlikheid sal triomfeer… niks Anders

Pinoccio ·

Ongekende mylpale was bereik die afgelope 30 jaar in vernietiging van infrastruktuur.

Papsak ·

Rerig watse mylpaie het julle as regering Ciril behaal ek weet van nie een mylpasl nie regtig jy lieg soos gewoonlik

Wendy ·

Ag asb hul kon dt in 31jr ni regkry ni wat gan nou skilik verander -incompetant punt !!!

Strandloper ·

Laagtste, skrikwekendste en n toonbeeld van vervaling gepaart met n skrikbewind wat grens aan waansin

asjassie1 ·

Pffff, nie eers die papier werd waarop dit geskryf is nie. Kaders sal nog steeds aangestel word.

Boer ·

Die ANC diefstal Mylpale is behaal vir ʼn meer doeltreffende geld in die sakke vir die ANC kaders.

Sê maar net ·

Nie my president nie. Hoop jou regeringstydperk kom spoedig tot ‘n val…..

annie ·

Elke vyf jaar nuwe leuen-mylpale. Cyril hou die rekord sedert hy by Zuma die aflosstokkie oorgevat het.

hpven ·

Die toestand waarin die land tans verkeer is ‘n sprekende voorbeeld van die Ramaphosa en kaders regering. Stukkende, wanbestuurde, leeg geplunderde derde wêreld! Volgens hul standaarde nog ‘n reuse Afrika sukses!

minnie muis ·

staats amptenare is nie bekend vir fluks wees nie…. dis nou die waarmee ek te doen kry ? jammer as ek veralgemeen maar hier by ons is 99 % ver seker gekies nie op meriete nie

Francois ·

Dankie Maroela dat julle hierdie plaas. Die kommentare daarop stink wel, maar Ramaphosa se weeklikse nuusbriewe gee dikwels beter oorsigte oor wat aan die gebeur is as wat mens algemeen in die media vind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.